Slimkop (19) wil Eskom se kragkrisis oplos

Victor Vermeulen (Foto: Verskaf)

Ná maande se sit voor die boeke – soms saans by ’n herlaaibare liggie weens die alewige beurtkrag – spog die 19-jarige Victor Vermeulen met ’n indrukwekkende gemiddeld van 95% vir ʼn Britse kwalifikasie en sal hy binnekort by die Eindhoven-universiteit in Nederland toegepaste fisika begin studeer.

Hy en sy klasmaat, Laura Brink, het boonop die sillabus vir A-vlakke, ʼn Britse kwalifikasie vir 16-jariges en ouer, in minder as die helfte van die aangewese tyd voltooi.

Vermeulen se droom? Om ’n oplossing vir Suid-Afrika se voortslepende kragkrisis te vind wat sy en sy gesin se lewe die afgelope paar maande “ʼn bietjie moeilik gemaak het,” vertel hy aan Maroela Media.

Hy vlieg Maandag na Nederland waar hy beplan om sy graad en dan ’n meestersgraad en hopelik later doktersgraad te verwerf. “Ek wil in kragopwekking spesialiseer,” verduidelik hy.

Brink en Vermeulen, albei leerders aan die private skool Reddam House Durbanville, het binne vyf maande hul A-vlakke deur Cambridge- internasionale eksamens voltooi sodat hulle in September by die internasionale universiteit van hul keuse kan aansluit.

Die meerderheid A-vlak‑studente se akademiese jaar het in September verlede jaar reeds begin, aangesien hulle in die Verenigde Koninkryk woon.

Dié studente het dus ’n jaar gehad om hul A-vlakke te voltooi, terwyl Victor en Laura die sillabusinhoud in vyf maande (Januarie tot Mei) kafgedraf het sodat hulle hul eksamen in Junie kon aflê.

Victor Vermeulen en Laura Brink. (Foto: Verskaf)

Die uitslae is Donderdag deur Cambridge International bekend gemaak en dié twee Suid-Afrikaanse slimkoppe het onderskeidelik 95% en 93% behaal.

Victor het 96% in Wiskunde, 95% in Fisika en 93% in Chemie, sy drie gekose A-vlak-vakke, behaal.

Hy erken dat hy baie verras was deur dié punte, aangesien dit ʼn “redelike taak” was om sy A-vlakke in vyf maande te voltooi.

“Dit was die enigste ding wat ek gedoen het. Ek het nie gesocial of aan enige buitemuurse aktiwiteite deelgeneem nie. Ek het nét gewerk.”

Victor vertel dat hy in ’n Afrikaanse huis in Durbanville grootgeword het. Hy het egter in graad 6 na Reddam House Durbanville oorgeskuif aangesien die skool hom meer internasionale geleenthede gebied het.

Hy onthou dat hy as kind veral in die ruimte en “hoe die wêreld werk” belang gestel het. Die belangstelling het hom eindelik laat besluit om toegepaste fisika te studeer.

“Ek is baie passievol oor fisika. Dit is my ding.”

Victor hoop om in die toekoms aan projekte soos ITER te werk – ’n massiewe onderneming van 20 verskillende nasies wat saamkom om energie-oplossings te verskaf.

Tog sal hy baie graag ná sy studies na Suid-Afrika wil terugkeer en sy kennis hier wil inspan.

“Dit sal fantasties wees om terug te kom. Ek hou baie van Suid-Afrika. Dit is my land.”

Brink het die topposisie in die wêreld vir AS-vlakke in taal en letterkunde in Engels behaal. Sy gaan in September Engelse letterkunde by die Universiteit van Oxford in die Verenigde Koninkryk studeer.

Sy het tydens haar eksamen 95% vir kuns en ontwerp, 94% vir Engelse letterkunde en 90% vir geskiedenis behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.