Slimkop bou kunshand wat met denke beweeg

Farida Cajee se jongste weergawe van dié kunsledemate is in Augustus as die wenner in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-streeksuitdunne van Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes in Vryburg aangewys. Dit het ook die prys vir die beste vroue- en ingenieursprojek ontvang. Foto: Verskaf.

ʼn Slimkop van Schweizer‑Reneke in Noordwes het ʼn plan beraam om die probleme van indringende chirurgie, uitsonderlike duur kunsledemate en afvalplastiek, wat net aanhou ophoop, met een wetenskapprojek op te los.

Farida Cajee (18), ʼn gr. 11-leerling, het ʼn kunsarm en -hand ontwerp wat van afvalplastiek gemaak kan word. Die kunsledemaat word met ʼn 3D-drukker gebou.

Wat die prostese verder besonders maak, is dat Cajee self ʼn rekenaarprogram geskryf het wat met ʼn EEG-kopstuk gebruik word om ʼn persoon se konsentrasievlakke te meet sodat hulle met hul gedagtes die kunsledemaat kan beweeg.

Cajee het verlede jaar reeds ʼn silwermedalje vir die projek op Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes ontvang.

“Verlede jaar se kunshand kon egter nie voorwerpe optel nie. Dit het ook net drie vingers gehad en dit is ook nie van enige herwinbare materiaal gemaak nie,” sê Cajee.

Sy is vroeër vanjaar terug na die tekenbord met dié projek en het besluit om dit verder te verfyn, asook heelwat te vereenvoudig.

Dit is toe dat sy ook sommer besluit het om kunsledemate nie net billik te maak nie, maar ook omgewingsvriendeliker. Sy het PET-plastiekbottels, wat gewoonlik vir water en koeldrank gebruik word, herwin en vir die ontwerp gebruik.

“Die nuwe kunshand het nou ʼn stewige greep wat tot en met 5 kg kan optel,” sê sy.

Farida Cajee se wetenskapprojek het reeds verskeie pryse ontvang maar haar doelwit is om om ʼn goue medalje by die internasionale ronde van Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes te kry. Foto: Verskaf.

Cajee se kunsledemate kan teen sowat R9 000 gedruk word, teenoor die gemiddelde R140 000 wat so ʼn prostese gewoonlik kos. Om hierdie prostese goedkoper vir Suid-Afrikaners te maak is volgens haar ook uiteindelik die hooffokus van haar projek.

Die jongste weergawe van die kunsledemate is in Augustus as die wenner in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-streeksuitdunne van Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes in Vryburg aangewys. Dit het ook die prys vir die beste vroue- en ingenieursprojek ontvang.

Cajee neem nou van 25 tot 27 September aan die eindronde van die ekspo in Boksburg in die Gautengse Oos-Rand deel. Hier sal jong wetenskaplikes van 35 verskillende streke in Suid-Afrika en oorsee om die louere vir die beste wetenskapprojekte meeding.

“My doelwit is om ʼn goue medalje te kry by die internasionale ronde van hierdie ekspo, maar die erkenning wat die projek tot dusver ontvang het, is reeds wonderlik. Dit beteken vir my mense sien die potensiaal van hierdie projek raak en bevestig my oortuiging dat ʼn mens dit verder kan ontwikkel.”

Cajee sê raad aan ander jong wetenskaplikes wat daarvan droom om die wêreld te verander is: “Moet asseblief net nie te gou handdoek ingooi nie. Ek het sewe jaar aan dié wetenskapekspo deelgeneem en dit het my jare geneem op die regte projek te kry en dit te verfyn tot op die punt waar dit medaljes begin inpalm het.”

Eskom Expo for Young ScientistsSo how does this work??? The simplest way to explain it: Using an EEG headset my device reads your concentration levels..The hand stays closed, when you start to concentrate the hand opens and when you relax it closes and grips onto whatever object you wish to carry! Side note: it’s estimated to be R131 000 cheaper than other bionic prosthetics in SA

Posted by Farida Cajee: Mind controlled, 3D printed prosthetic limbs on Friday, 16 August 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Maria ·

Jy net slim maar pragtig. Asb namens my as gestremdes hou aan sodat daar n hoop is vir gestremdes vir toekoms . Mag Here jou werk seen.

Sieg ·

Knap gedaan Farida, goeie werk dit is mos die Suid Afrikaners wat ek verstaan.

Arno Scheepers ·

Well done meisie.
Dit is wat ware Suid-Afrikaners is.
Bouers, nie afbrekers nie.
Wees trots en hou so aan.

Gert van Wierdapark ·

Skitterend!! Dis lekker om ook soms goeie nuus te lees =baie handige student!!

Phillip Nel ·

Wow well done we are rooting for you may you be blessed with not just Gold but tons of blessings

Eléne ·

Baie geluk aan die jong dame. Dit wil gedoen word. Ek wens haar n voorspoedige toekoms toe!

Rudie Booyens ·

Wow!
Dis ‘n reuse deurbraak!
Jy is ‘n briljante diamand.
Trots op jou!

SjN ·

Uitstekende werk Farida, lekker om Schweizer Reneke weer op die map te sit, gelukkig die keer meer positiewe nuus, pragtig.

Mari ·

Ek wens jou ‘n wonderlike toekoms in Suid-Afrika toe! Dis werklik noemenswaardig. En jy hou jou skool se naam hoog. Ek wil graag weet waar is jy op skool en of jy IT as vak neem? (As onderwyser stel ek belang )

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.