Slimkop wil ander deur onderwys inspireer

Nina Kriel van die Hoërskool Eldoraigne saam met haar pa, Kallie en ma, Elana. (Foto: Verskaf)

Nina Kriel weet watter belangrike rol onderwysers in ʼn leerder se skoolloopbaan speel. Puik onderwysers is immers een van die redes waarom sy meen sy tien onderskeidings in die afgelope matriek-eksamen kon inpalm. Daarom wil sy ook graag eendag ʼn onderwyser word. Sy sal egter eers aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Pretoria studeer.

“Daar is onderwysers wat alles gee en passievol is oor hulle werk. Ek het wiskunde geniet juis omdat die onderwyser wat dit aangebied het, die liefde daarvoor by my gekweek het.”

Nina, wat aan die Hoërskool Eldoraigne in Centurion gematrikuleer het, ken van harde werk. “Ek weet met harde werk kom sukses, dit is wat my motiveer.” Sy noem ook dat die voorbeeld wat haar ouers stel een van die dinge is wat haar geleer het: “Om goeie uitslae te hê, moet jy harde bene kou”.

Haar pa is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Haar ma, Elana, is ʼn opvoedkundige sielkundige en programkoördineerder van opvoedkundestudies aan Akademia.

Nina wil graag ʼn wiskunde- of wetenskaponderwyser word. “Ek wil die beste juffrou wees wat ek kan wees en wil teruggee aan die gemeenskap. Ek wil graag die inspirasie in ander kinders se lewens wees, nes onderwysers mý geïnspireer het.”

Vir Nina was dit uitdagend om tussendeur die leer haar matriekjaar ten volle te geniet. “Ek het wel deur die jaar geleer dat ʼn gesonde lewensbalans met effektiewe tydsbestuur moontlik is.”

Wat is haar raad vir hierdie jaar se matrieks? Nina lag oor die vraag. “Ek het nie alles perfek gedoen nie, maar my raad is: As jy iets het om te doen, doen dit onmiddellik. As jy wil opgee, vat ʼn oomblik om te huil. Mens moet alles voluit doen, al is dit moeilik, hou aan!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.