Sloping van Bank of Lisbon-gebou beloop miljoene rande

Die Bank of Lisbon-gebou word in puin gelê. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Die sloping van die Bank of Lisbon-gebou het die Stad Johannesburg tot dusver R90 miljoen gekos.

Die gebou van 22 verdiepings in die Johannesburgse middestad is Sondagoggend in minder as 30 sekondes in puin gelê terwyl duisende mense toegekyk het hoe die gebou deur ʼn digte stofwolk verswelg word.

Tasneem Motara, LUR van infrastruktuurontwikkeling in Gauteng, sê kenners meen dié sloping was een van die moeilikste nóg om te doen. Sowat 2 000 mense is vooraf uit omliggende geboue ontruim voordat 894 kg plofstof gebruik is om die gebou te laat inplof.

Volgens Motara het die departement R140 miljoen daarvoor begroot waarvan R90 miljoen reeds gebruik is.

“Dit bring ons aan die einde van ʼn era. Daar was geen skade aan [ander] eiendom nie en niemand is beseer nie,” het sy gesê. Die departement beplan om ʼn nuwe gebou daar op te rig wat die Gautengse wetgewer se departemente sal huisves.

Die Bank of Lisbon-gebou word in puin gelê. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Maroela Media het vroeër berig twee brandbestryders is dood terwyl hulle die brand op 5 September verlede jaar in die 22 verdieping hoë gebou help blus het, en ʼn kollega is dood toe hy van die gebou geval het. Die oorledenes was Simphiwe Moropane (28), Mduduzi Ndlovu (40) en Kathutshelo Muedi (37).

Agt brandbestryders is destyds met verskeie beserings in die hospitaal opgeneem, van wie ses binne ʼn week ontslaan is. Twee is langer as twee maande in die Netcare Milpark-hospitaal behandel.

ʼn Strukturele evaluering het bevind die gebou het groot strukturele skade gedurende die brand opgedoen. Luidens ʼn verslag het tien van die gebou se 22 verdiepings sedertdien nie meer aan veiligheidsregulasies voldoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

R90 miljoen is nie baie nie. As dit van die ANC afgehang het, sou hulle die ou metode gebruik het. Dan kan hulle vir hulle kaders werk gee en biljoene rande vra want dit sal dan jare duur.

Piet ·

so die ANC is te sleg om geboue te onderhou , en dan maak hulle so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.