Sluiting van kolleges ʼn ‘hou vir privaat hoër onderwys’

(Foto: Facebook / Damelin)

Die besluit om vier kolleges van die Educor-groep te sluit is “ʼn hou vir privaat hoër onderwys”.

Só sê Chantel King, die DA se skaduminister oor hoër onderwys.

Maroela Media het vroeër berig die lot van duisende studente is tans in die weegskaal nadat die departement Damelin, Lyceum College, CityVarsity en Icesa City Campus as hoër onderriginstellings gederegistreer het. Dit beteken dat studente nie hul studies daar sal kan voortsit of voltooi nie.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het vroeër gesê die instellings het versuim om aan wetgewing en verwante regulasies te voldoen, onder meer die indien en bekendmaking van finansiële state (vir die 2021- en 2022-boekjaar) en belastingvrystellingsertifikate.

Educor het tot Oktober kans om te appelleer teen deregistrasie, terwyl die instellings beveel word om bedrywighede onmiddellik uit te faseer tot die sperdatum.

Die DA doen ʼn beroep op Educor om sy sake in orde te kry, tot voordeel van sy 13 000 studente.

“Instansies van privaat hoër onderwys is instrumenteel om die gaping te vul van toegang tot hoër opvoeding en Educor se versuim veroorsaak erge spanning vir sy studente. Hy verplaas ook sy personeel na die lang rye werkloses,” voeg King by.

Volgens haar moet Educor se ondergang ʼn les wees vir Nzimande en sy departement. “Soortgelyke kwessies by instansies van hoër onderwys en die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) moet getakel word om enige presedent, om nie ag te slaan op reëls of wetgewing nie, uit te roei. Dit benadruk ook die noodsaaklikheid om die Wet op Hoër Onderwys te hersien sodat dit ten volle voldoen aan die Witskrif oor Hoër Onderwys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Josua ·

Sulke dinge gebeur as jy vir Studente alles belowe veral as hulle nie hoef te betaal vir hul geleertheid nie en verwag dat alles verniet verskaf moet word. Dit is net n kwessie van tyd dam gaan Universiteite dieselfde stap volg want die onderwyser ens kan nie betaal word as daar geen inkomste vir hulle is nie. Kyk na SA as voorbeeld is besig om uit mekaar te val agv mense wat alles verniet wil hê en op die ou end dit nie wardeer nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Meeste openbare universiteite het ook ernstige geldelike probleme. Sonder NSFAS studente sal hulle moet sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.