Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, sê die regering is besig met die implementering van ʼn plan om die ineenstorting van kragsentrales te verminder en om beurtkrag tot minstens fase 1 dié winter – wanneer die aanvraag na krag toeneem – te beperk.
Gordhan het Woensdag by die Lethabo-kragsentrale in die Vrystaat die jongste inligting oor die stand van die kragnetwerk bekend gemaak. Hy sê die regering het nou ʼn beter idee van die uitdagings waarmee die beleërde elektrisiteitsvoorsiener te doen het.
“Ons het ons daartoe verbind om Suid-Afrikaners binne tien tot 14 dae terugvoer te gee en ons wil ʼn beter idee gee van sleuteluitdagings en oplossings. Ons doelwit bly steeds om elektrisiteit betroubaar aan sakeondernemings en huishoudings te verskaf. Ons beoog om in die toekoms geen beurtkrag te hê nie,” het Gordhan gesê.
“Ons wil ook deursigtig en openhartig met Suid-Afrikaners wees en energiesekuriteit verseker. Ons verstaan nou beter hoekom Eskom-kragsentrales onklaar raak en ons ontwikkel ʼn betroubare plan en spoedige implementering daarvan om die probleme te takel.”
Eskom het die land sedert 14 Maart vir tien dae lank met tussenposes in donkerte gehul toe hy fase 4-beurtkrag ingestel het. Dit het beteken 4 000 MW is op ʼn rotasiebasis uit die netwerk gehaal. Dít omdat Eskom gesteier het onder verskeie lekplekke by aanlegte (boiler tube leaks), ʼn byna uitgeputte dieselvoorraad en ʼn verlies aan krag vanuit Cahora Bassa in Mosambiek weens sikloon Idai.
Gordhan sê Eskom sal voortaan ʼn kultuur van dissipline moet aanvaar. Die minister het gereelde kommunikasie met alle belanghebbendes onderneem en gesê ʼn streng beleid van verantwoordbaarheid gaan gevolg word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
26 Kommentare
Fase 1 is nogsteeds een te veel. Daar moet geen beurtkrag wees nie
Maak jou maar gereed vir ‘n massiewe groepaksie in die hof boet. Eskom gaan vir die skades betaal.
Pravin en sy ANC maatjies bly in Lalaland. Dis onmoontlik om ESKOM te red, in elk sonder bekwame bestuurders en ingenieurs… en ons weet wie hulle was en hoekom hulle weggejaag is!
Ons as publiek wil sien dat die regeringsamptenare en eskom werkers wat ons nou en in 2008 gyselaar gehou het om hulself te verryk in die tronk beland. Tot dan bly al julle gepraat net leë woorde.
Dankie Mnr Gordhan vir niks, en dit na 25 jaar het julle nou ‘n beter idee.