Só het geld uit VBS ‘verdwyn’

Die vermeende baasbrein agter die VBS-bankskandaal Tshifhiwa Matodzi in die hof. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Hofstukke wat Donderdag in Palmridge-hof by Johannesburg ingehandig is, wys hoe die direkteure en ouditeure van die VBS-bank oor ʼn kwessie van twee jaar sowat R2,3 miljard uit dié bank se fondse getap het.

Sewe mans is Woensdag in hegtenis geneem en het Donderdag in die hof verskyn op 47 klagte wat verband hou met diefstal en bedrog van miljarde rande by dié bank.

Maroela Media het berig die verdagtes is voormalige VBS-voorsitter Tshifhiwa Matodzi, VBS- uitvoerende hoof Andile Ramavhunga, VBS-tesourier Phophi Mukhodobwane, voormalige direksielede van die VBS en verteenwoordigers van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) Ernest Nesane en Paul Magula, voormalige ouditeursvennoot van KPMG Sipho Malaba, asook voormalige finansiële hoof van die polisie Phalaphala Ramikosi.

Die VBS se finansiële hoof, Phillip Truter, word ook met die skandaal verbind. Truter kon egter nie Woensdag saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn nie aangesien hy onder kwarantyn is.

VBS Mutual Bank

Luidens die klagstaat, wat Maroela Media onder oë gehad het, word dié mans daarvan beskuldig dat hulle willens en wetens in 2017 bedrieglike finansiële state opgestel, onderteken en goedgekeur het. Sodoende het hulle valslik aan beleggers en die publiek voorgehou dat die bank in ʼn bestendige finansiële posisie was, terwyl die bank in der waarheid insolvent was. Malaba, as onafhanklike ouditeur van KPMG, was verantwoordelik vir die oudit van die boekjaar wat geëindig het op 31 Maart 2017 en die gevolglike opstel van die ouditverslag.

Op die bedrieglike state is:

  • Die bank se bates as R2,2 miljard aangedui, terwyl dit in werklikheid R1,03 miljard was
  • Skuld as R1,8 miljard aangedui, terwyl dit R1,5 miljard was
  • Ekwiteit as R238 miljoen aangedui terwyl dit ʼn negatiewe waarde van R519 miljoen verteenwoordig het.

Die beskuldigdes het almal dié verslag goedgekeur.

Die klagstaat beweer ook dat miljoene rande van die bank se geld tussen Februarie 2016 en Februarie 2018 vanaf ʼn reeks VBS-bankrekeninge, wat almal deur voorsitter Matodzi besit word, in die VBS-bankrekeninge van verskeie maatskappye gedeponeer is. Bogenoemde beskuldigdes is almal die enigste direkteure en begunstigdes van dié maatskappye en het in die gegewe tydperk elk tussen R750 000 en R34 miljoen vanaf Matodzi se rekeninge ontvang.

In dieselfde tydperk het Matodzi, Ramavhunga, Truter en Mukhodobwane glo fiktiewe krediete in verskeie rekeninge verbonde aan VBS geskep, wat dit laat lyk het of dié rekeninghouers miljoene rande in die bank gedeponeer het en dat die bank dus ʼn surplus fondse het. Van dié rekeninge was in Matodzi se naam. Geld is vermoedelik só na die beskuldigdes se rekeninge herlei. “Dit het die beskuldigdes toegelaat om die hele poel geld in VBS-bank te plunder,” lui die klagstaat.

Die beskuldigdes is almal op borgtog van R100 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Kan navraag gedoen word om te waarneem of Julius Malema en Floyd Shivambu diarree het, want hopelik een of ander tyd kom die Hawks vir hulle. My gooiste die dag dat daai twee tronk toe gaan, sal ek daar wees om hulle totsiens te waai!

Elsa ·

Looi hulle. Verkoop alles tot die 3de geslag. Laat hul terug gaan waar hul vandaan kom.

Anoniem ·

Moet asseblief tog nie dat Malema en Shivambu agter politieke immuniteit probeer skuil, dreigemente van onluste of enige ander snert julle ontsenu nie.

Alexander ·

Malema en Shivambu se name hoort ook op klagstaat. Sal dit help om asem op te hou?

Johann ·

Als seker goed en wel. Maar wat van die nes rooipetters wat ook geskep het?

Jacobus ·

Behalwe Malema en Shivambu, wat van die burgemeesters wat geld in die bodemlose put belê het. Ons geld vir politieke gunsies.

Pieter ·

Ons almal weet mos alreeds daar gaan absoluut niks met hulle gebeur nie. Daar is die afgelope 25 jaar nog nie ‘n enkele anc kameraad skuldig bevind en gestraf vir diefstal nie.

Johan ·

Pragtige rooi klere wat die man in die foto dra! Wonder of dit “ge-sponser” is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.