Só kan agterstand in skole gepak word

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) stel verskeie ingrypings voor om Suid-Afrikaanse skole te help om by ʼn post-pandemie-wêreld aan te pas.

Die aanbevelings word gedoen nadat die prestasie van sowat 80 000 gr. 3-, gr. 6- en gr. 9-leerders in die Wes-Kaap ontleed en vergelyk is met die 2019-groep.

Maroela Media het vroeër berig dat die meeste Suid-Afrikaanse leerders weens die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar minstens ʼn driekwart jaar minder skoolgegaan het as gewoonlik. Daar is dus geweldige agterstande wat ingehaal moet word.

Ekstra tyd

Die agterstand in wiskunde weens leertyd wat verloor is, beloop minstens ʼn jaar in alle grade en ekstra tyd gaan ingeruim moet word om dit in te haal. Die navorsers sê wiskunde en taal is kernvakke wat die grondslag vorm vir leer in alle ander vakke. Daar sal dus moeite met leerders gedoen moet word om verlore kennis in te haal.

Navorsers sê waar moontlik moet tydstoewysings vir ander vakke verminder word. Vakke wat nie broodnodig is nie, kan opgeskort of by ander vakke geïntegreer word om meer tyd beskikbaar te stel om agterstande in taal en wiskunde in te haal.

Roosters

Beskikbare onderrigtyd moet ook optimaal aangewend word.

“Namate skole terugkeer na normaal ná die ontwrigtings van die afgelope twee jaar, moet skole daarop let om gereelde skooldae en normale roosters te handhaaf,” het die navorsers bevind.

“Korter dae vir die grondslagfase op Vrydae behoort nie toegelaat te word nie. Skooldae tydens eksamens moet ook noukeurig gereguleer word om te verseker dat ʼn maksimum aantal skooldae vir onderrig benut word.”

Minder huis-, leerwerk

Die oorvol kurrikulum en huiswerktake in ander vakke moet drasties verminder word sodat leerders meer aandag kan gee om die agterstand in wiskunde en taal in te haal.

“Die vermindering van die onderriglading van alle vakke behalwe wiskunde en taal sal breedvoerige besprekings en koördinering tussen personeel in skole oor vakke en grade heen vereis.”

Die nasionale onderwysdepartement moet ook dringend daaraan aandag gee om die oorvol kurrikulum af te skaal.

“Sekere leerareas en onderwerpe moet geheel en al weggelaat word of net aangeskuif word na hoër grade. Die fokus moet daarop wees om konsepte en vaardighede wat nodig is vir die vordering in daardie graad te bemeester.”

Maatstaftoetse

Volgens die navorsers moet breedvoerige assesserings gedoen word om die leemtes in leerders se kennis te identifiseer en te pak.

“Die provinsiale departemente, asook nasionale onderwysdepartement kan onderwysers hiermee help deur gehalte-maatstafassesserings en bystand te verskaf in die interpretasie van die resultate van hierdie toetse.”

Onderwysassistente

Laastens stel navorsers voor dat onderwysassistente spesifiek moet fokus op hul voorgeskrewe take. Een daarvan is om saam met individuele leerders die vorige jaar se werk deur te gaan.

“Dit sal toesien dat leerders, veral diegene wat sukkel, een-tot-een-onderrig en ondersteuning kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henri ·

As politiek uit skole gelaat word, beter onderwysers opgelei word, met beter salarisse, en moderne skole gebou word, sal die onderwys klaar dramaties verbeter.

Onderwys as beroep moet nie net ‘n roeping, of as laaste beroepskeuse, gesien word nie, maar ook as ‘n beroep waaraan waarde geheg word. Wat is ‘n groter belegging vir ‘n land as die jeug?

Ouerskap is ook ‘n ontsaglike verantwoordelikheid. Die regering se kindertoelae aan werkloses, veroorsaak ook ‘n tendens van “ongewenste” ouerskap. Skoolgaande meisies raak swanger vir die toelaes eerder as om werklik ‘n ouer te wees. Daardie arme kinders word in die sorg gelaat van werkende oumas, terwyl die ma’s op straat rondlê deur die dag. Bitter min van die staatstoelaes gaan werklik vir die kinders. Dit is ‘n bose kringloop wat ongelukkig bitter moeilik gebreek gaan word.

Dus gaan die agterstand eerder rek as krimp.

Johan ·

En hoekom het ons 1200 modules, dit is onnodig duur en wen niks.

JohanEtz ·

Oplossing is mos eenvoudig, verlaag die slaagsyfer vêrder, tot ……..10%. LOL

annie ·

Iets moes die skuld kry… En dit het. Daar is groot probleme en dit wil nou met herbesluitneming oor wie mag besluit oor toelating ens, reggedokter word. Die entstof gaan nou ontwikkel en toegedien word. Dit gaan glo werk… soos ‘n bom. Ons glo dit.

Anel ·

Nou sê bietjie vir ons watter skole het sulke groot agterstande? Nou moet goed presterende skole se kinders, wat op datum is, ook gestraf word! Toe hulle moes leer was daar allerhande verskonings. Daar was al agterstande voir virus 19. Nou net ‘n maklike sondebok! Verder, as daar meer en beter opgeleide onderwysers was en meer skole, sou assistente nie nodig wees nie. Maar nou ja, werkskepping! En kindertoelae moet nie betaal word aan meisies jonger as 18 nie. Dalk help dit ook bietjie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.