Só kan Covid ná ramptoestand bestuur word

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daar is al hoe meer druk op die regering om die Covid-19-ramptoestand op te hef, maar dit laat ook talle vrae ontstaan oor waar dit werkgewers laat.

Aangesien dit lyk of die virus hier is om te bly, krap menige werkgewer kop oor watter regulasies ingestel moet word om die virus ná die ramptoestand suksesvol te bestuur.

Om werkgewers in dié verband te lei het die departement van arbeid en indiensneming onlangs ʼn nuwe gedragskode, naamlik “Die Bestuur van Blootstelling aan Covid-19 in die Werkplek”, ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge in die Staatskoerant gepubliseer.

Wanneer die ramptoestand opgehef word, sal die direktief wat vroeër ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid uitgereik is, dus nie meer wetlike implikasies hê nie.

Spesifieke maatreëls en regulasies is egter steeds in die werkplek nodig om veiligheid en gesondheid te bevorder.

Kate Collier, Mehnaaz Bux en Jenna Atkinson van die Webber Wentzel-regsfirma verduidelik dat hoewel die nuwe gedragskode nie ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid uitgereik is nie, dit werkgewers se verpligtinge teenoor hul werkers en almal wat deur hul bedrywighede geraak word, herhaal.

“Oor die algemeen beveel die Wet op Beroepsgesondheid ʼn risikogebaseerde benadering aan wat vereis dat werkgewers gevare in die werksplek identifiseer. Dié risiko’s moet dan geassesseer word, waarna stappe gedoen moet word om die gevare wat daarmee verband hou, uit te skakel of te versag.”

Werkgewer moet inligting verskaf 

Benewens voldoening aan die Wet op Beroepsgesondheid, vereis die gedragskode dat werkers oor die kode, asook oor die werkgewer se plan en hoe dit toegepas gaan word, ingelig word.   Webber Wentzel sê dat inligting oor Covid-19, voorkomingsmaatreëls, virussimptome en beskikbare entstowwe – ook die voordele en newe-effekte van dié entstowwe – duidelik aan werkers gekommunikeer moet word.

Inentingstatus, simptome 

Verder moet elke werkgewer maatreëls instel om die inentingstatus van werknemers te bepaal. Ingevolge die gedragskode mag werkgewers vereis dat werknemers hul inentingstatus bekendmaak en ook die toon van inentingsertifikate versoek. Werkgewers moet ook vereis dat werkers dadelik enige Covid-19-verwante simptome aanmeld. In dié geval mag die werkgewer vereis dat sodanige werknemers vir Covid-19 getoets word voordat hulle die betrokke werkplek mag betree of vir diens aanmeld.   

Geen aftrekking van vergoeding 

Webber Wentzel verduidelik voorts dat werkgewers geen geld van werknemers se vergoeding mag aftrek nie. Die werknemer mag ook nie finansieel verantwoordelik gehou word vir enigiets wat die werkgewer ingevolge die gedragskode verplig is om te doen nie.

Simptomatiese werkers 

Slegs werknemers wat positief vir die virus getoets het en simptome toon, moet vir die tydperk isoleer wat deur die departement van gesondheid aanbeveel word – en selfs langer indien ʼn dokter dit sou voorskryf.  Dié werknemers moet siekteverlof neem en daar mag nie teen hulle gediskrimineer word nie. Indien dit lyk of die werknemer die virus weens, of gedurende hul werksverpligtinge opgedoen het, moet ʼn eis ingevolge die Wet op Vergoeding van Beroepsbeserings ingedien word.

Vereiste vir inenting 

Die gedragskode laat werkgewers steeds toe om deur risikobepaling te versoek dat werknemers ingeënt word. Indien ʼn werknemer weier om die inenting te ontvang of ʼn mediese sertifikaat in dié verband toon, moet die betrokke werkgewer die werknemer raad gee en stappe doen om die werknemer redelikerwys te akkommodeer.

Weiering om te werk 

Ingevolge die gedragskode mag die werknemer weier om werk te verrig indien daar ʼn redelike, dreigende en ernstige risiko van blootstelling aan die virus bestaan. In dié geval moet die werkgewer onmiddellik optree om die probleem te probeer oplos. Indien dit nie intern gedoen kan word nie, moet ʼn inspekteur ingespan word.  ʼn Werkgewer mag hierdie reg opeis ongeag enige interne prosesse. Die werknemer mag ook nie gedreig, geïntimideer, afgedank of andersins benadeel word nie. Enige dispute moet na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys word.

Myne 

Hoewel myne hul eie voorskrifte het, bepaal die gedragskode dat mynwerkers wat weier om ingeënt te word, onder meer die hulp van ʼn gesondheids- of vakbondverteenwoordiger mag inwin en dat werkgewers stappe moet doen om die werker te akkommodeer. Sou die werker ʼn mediese sertifikaat toon, mag die werkgewer die werknemers op eie onkoste vir mediese evaluering stuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Bernard ·

En die dra van beklappe? Bly dit vir solank as wat die ANC-kaders daagliks R5-miljoen afskep van hierdie ‘scamdemic?’

VaalDonkie ·

Klink heel redelik. Maar ek het dit lankal duidelik gestel dat ek sal bedank en ‘n 100% aanlyn werk soek as hulle my wil dwing om te spuit. Ek het terloops 4 weke gelede bedank, maar is toe na baie praat oorreed om aan te bly en dat hulle my sal akkommodeer. Dit het eintlik nogal goed gevoel om te weet my werkgewer wil my graag aanhou. Ek het dit nie verwag nie. Maar ek is terselfdertyd bly om te weet ek kon binne ses dae nie net werk soek nie, maar ook ‘n vaste aanbod kry. So nou weet almal waar hulle staan jeens mekaar.

Anel ·

En wat van die ander, baie erger oordraagbare siektes? Gaan diesulkes ook nou verplig word om hul status bekend te maak? Wat vir die een geld moet mos vir almal geld?

KatjieDeKat ·

Seker maar TB, HIV/Aids, almal wat jou baie makliker doodmaak as Covid?

Miskruier ·

Tuberkulose. TB , Suid Afrika is die land met die meeste gevalle.

Marius ·

Rerig ? Daar is en was geen pandemie nie. Bekommer jul eerder oor die ekonomie en bankrot regering.

Pietertjie ·

Die kaders gaan gladnie afsien die mags-meevaller wat die gewaande pandemie met sy leë hospitale gebring het nie. Die rede vir die verworwe mag het hulle lankal verbygegaan. Dis sinneloos om te dink dat infeksie deur ‘n lug-verspreide virus verander gaan word deur ‘n paar sentimeter verandering in sosiale afstand, of die dra of afhaal van ‘n doellose masker wanneer mens deur ‘n gebou se oop ingang beweeg. Dit ruik na die oop sandale en T-hemde van twee jaar gelede. Maar nou ja, solank hulle redes daarvoor net nie opraak nie.

Genis ·

Die staat is bang vir die konstetusie, nou maak hulle dit die maatskappye se probleem….

Genis ·

Daar was nie n pandemie in SA nie, eerder n ekonomiese epidemie

Amelia ·

Die enigste deel van bogenoemde waarmee ek saamstem is dat jy liewer by die huis moet bly sodra jy siekte simptome ervaar. Dis nou sodat jy nie almal by die werk moet kom aansteek en die maatskappy so verliese ly nie. En dit geld ook vir griep en verkoue. Die res is als nonsens. Die spuit verhoed nie die verspreiding van die virus nie en so ook nie gesigmaskers, hand sanitasie of sosiale distansiëring nie. Mandate is verregaande en doen in elk geval niks behalwe om onmin te saai nie.

john ·

Dit is absolute nonsens dit terwyl baie lande terugkeer naar normaal sonder eenige mandate wil hulle hier nog skape aanhou. Ek dra al lank al meer nie nappies om my mond en weier volstrek . Die covid virus het so verswak dit is verby dit is nou niks meer as n ligte griep ja party mense sterf daaran maar vir duisende jaare sterf mense al vd griep. Dit is tyd ons gaan normaal an met ons lewens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.