Só leef grimeerkunstenaar Andrea elke dag in volkleur

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die eerste woord wat uit byna elke se vrou se mond kom wanneer hulle in die grimeerkunstenaar Andrea Hurter se stoel kom sit, is “jammer”.

“Jammer, my wenkbroue is nie gepluk nie. Jammer, ek het ʼn puisie. Jammer, my gesiggie is maar vaal so vroeg in die oggend,” vertel Andrea geesdriftig aan Maroela Media.

“Nee man, ons moet nooit jammer sê vir die goed wat ons net ʼn doodgewone en mooi vrou maak nie. Ons is almal net mens.”

Daardie strewe na perfeksie het haar té lank teruggehou in haar lewe, sê Andrea.

“Dis moeilik, en ek kry dit self nie elke dag reg nie, maar daar is soveel vryheid daarin om jouself te aanvaar en te besef jy hoef en gaan nooit álmal se koppie tee wees nie.”

VIA-kykers het die kleurvolle Andrea verlede jaar leer ken in die inspirasiereeks Herman en die Ladies, waarin sy en Sarie-kosredakteur Herman Lensing met borskankeroorwinnaars gesels tydens ʼn spesiale bederfdag in Herman se Pink Lady-kombuis.

Dié konsep is toevallig ʼn droom wat ʼn rukkie vantevore in haar eie hart gebroei het nadat haar ma, Marietjie, ook ʼn grimeerkunstenaar, in 2016 haar stryd teen kanker verloor het.

“Die geleentheid het so deur die grapevine op my pad gekom, maar so ʼn tipe program was kort ná my ma se dood op my wenslysie. Ek glo vas dat die geluk al meer as een keer aan my kant was, en met Herman en die Ladies was dit beslis die geval.”

Natuurlik het harde werk en “ʼn lang soeke na rigting” soos sy dit beskryf ook ʼn rol gespeel in haar loopbaanreis na voltydse grimeerkunstenaar – ʼn beroep wat sy aanvanklik nie wou volg nie.

Die Kapenaar het van jongs af ʼn kreatiewe streep in haar en het ná skool ʼn graad in drama en filmstudies voltooi.

“Ek het vinnig geleer dat ek nie soveel van myself sou kon gee soos wat akteurs doen nie. As dit jou passie is en die kuns wat jy gekies het, sal jy enigiets daarvoor doen, en ek kon myself nie in daardie skoene plaas nie.”

Om kop skoon te maak te midde van haar ma se kankerstryd, het sy vir ses weke met ʼn rugsak deur Europa getoer en daarna alles van au pair tot kelnerin gespeel om die pot aan die kook te hou.

Marietjie is in dieselfde jaar ná ʼn lang kankerstryd oorlede, en die besluit om nes haar ma die grimeerkwas op te tel, het kort daarna gevolg.

“Ek het as kind gesien hoe sy bruide en bekendes se grimering doen en op skool saam met haar gewerk vir ʼn sakgeldjie. Ek het eers ná haar dood agtergekom ek verlang daarna om mense mooi te maak.

“As mens boonop so saam met iemand die pad stap aan die einde van hulle lewe, begin jy anders na te dink oor dit wat belangrik is. Dit gee ʼn mens baie insig.”

Sy het haar grimeerdienste aanvanklik vir spotgoedkoop op Facebook geadverteer en erken dat haar geldsake die eerste drie jaar geknyp het.

“Ek het deeltyds dramaklasse vir kinders aangebied en naweke troues en ander grimeerprojekte gedoen. Ek is geseënd om ʼn pa te hê wat my deurlopend aangemoedig het om my drome na te jaag, al het hulle tot op daardie stadium gedurig verander,” skerts sy.

Deesdae verdeel sy haar tyd tussen televisie- en filmstelle, tydskriffotosessies vir publikasies soos Huisgenoot én private kliënte, met geen meer tyd vir sogenaamde side hustles nie.

Sy glo die lewe se kronkelpaaie, van dramastudies tot haar ma se kankerstryd, het haar loopbaan en lewe ten einde laaste verdiep.

“Toe dinge behoorlik vir my begin optel het … My hart het vlamgevat,” sê sy bewoë.

“Ek dink om jou droom ywerig na te jaag, veral in iets kreatief, is eerlikwaar een van die moeilikste goed om te doen. Daar is altyd ander geleenthede wat ʼn meer stabiele inkomste bied, maar dan moet jy opweeg wat jy bereid is om prys te gee.

“Ek kan nie anders as om dankbaar te wees nie, want ná alles besef ek watter voorreg dit is om voltyds jou passie elke dag uit te leef en boonop die rekeninge daarmee te kan betaal.”

Die verlange na haar ma skop tog in wanneer sy aan die mooimaak is. Daarom is dit spesiaal wanneer sy paaie met iemand kruis wat wel vantevore in haar ma se grimeerstoel gesit het, maar Andrea benadruk dat sy ʼn kunstenaar in haar eie reg is.

“Ek besef nou eintlik eers behoorlik hoe goed sy was, en ek wens gereeld dat ek iets vir haar kon wys of haar advies vra. Ek waardeer dit ook ongelooflik baie as mense sê sy sou trots wees op my, maar ek leef nie noodwendig haar nalatenskap voort nie. Ek dink ek vorm my eie een en stap my eie pad.”

Individualiteit moet gevier word

Deel van dié nalatenskap is die positiewe dog eerlike beeld wat Andrea op sosiale media probeer uitstraal.

Haar besluit om perfekte, geposeerde plasings vir eerlike – en met tye skreeusnaakse – inhoud te vervang, het kyke en volgelinge laat instroom. Vir Andrea het dit opnuut bewys dat sy eg aan haarself moet wees om sukses te behaal.

“Ek het aanvanklik goed geplaas wat ek gedink het mense wil sien, maar ek het eers groei gesien toe ek foto’s en video’s plaas wat meer outentiek aan myself is  – of dit ʼn eerlike resensie oor ʼn grimeerproduk is of net een is waar ek nonsens praat. Natuurlik geniet ek ook die tikkie drama wat sosiale media kan bied,” voeg sy laggend by.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Om kritiek af te weer, is vir Andrea niks nuuts nie. Wanneer twyfel weens negatiewe kommentaar kom klop, onthou sy haar ma se woorde: “Skat, daar’s queen bees en dan is daar wannabes.” En Andrea weet goed watter een sy is.

“Ek het vir lank gevoel asof ek nie ʼn plek in die bedryf het nie omdat ek nie ʼn girly girl is nie. Ek dra self min grimering en dollie nie van natuur myself elke dag op nie. Hierdie was alles vandag net vir julle,” sê sy tergend terwyl sy na haar perfekte gegrimeerde gesig en modieuse silwer stewels wys.

As iemand wat self in haar jonger dae aan ʼn eetversteuring gely het, lê liggaamspositiwiteit haar veral na aan die hart en beïnvloed ook hoe sy kies om haarself op sosiale media uit te druk.

“Ek het groot onsekerhede én ʼn slegte verhouding met kos en oefen gehad. Veral kos was my troos, maar dit regeer jou lewe as jy dit toelaat. Daar’s so ʼn fyn balans, want ʼn mens wil goed voel en gesond wees, maar nie vyandig wees teenoor kos nie.”

As sy deur haar werk en inhoud een persoon kan laat lag of gesien laat voel, is dit meer as genoeg.

“Ek’s nie ʼn beïnvloeder nie, en ek besef ek gaan nie noodwendig mense se wonde genees nie, maar ek wil hê hulle moet selfvertroue hê in hulle menswees. Ons as vroue het hierdie vreemde vermoë om die mooi in omtrent alles raak te sien, behalwe onsself.”

Sy werk tans aan ʼn kortprent vir die Silwerskermfees, en droom daarvan om oorsee te reis vir werk en vir seisoen twee van Herman en die Ladies. Daarmee saam word haar aandag tussen haar man en twee katte verdeel.

Toekomsplanne maak is ook nie heeltemal Andrea se styl nie, solank sy kreatief kan verkeer en die wêreld op haar manier kan inkleur.

“Pablo Picasso het immers gesê dat mens die reëls moet aanleer soos ʼn meester, sodat jy hulle soos ʼn kunstenaar kan oortree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.