Só lyk nuwe Bok-truie

Die Springbokke. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke se nuut ontwerpte truie is ná maande lange geheimhouding eindelik onthul en dit is veral die turkoois alternatiewe trui wat waarskynlik die aandag sal trek.

SA Rugby het met die bekendstelling van die hooftrui en alternatiewe weergawe gesê die truie beskik oor “die nuutste in innovasie en ontwerp” terwyl daar steeds gehoor gegee word aan “die span se wense om die tradisies van die groen-en-goud te respekteer”.

Die ontwerp van die nuwe truie was ʼn goed bewaarde geheim nadat daar vroeër aangekondig is dat Nike vir die volgende ses jaar die Bokke se truie gaan borg.

“Die bekendstelling van ʼn nuwe trui is altyd opwindend, maar die afwagting en verwagting van vandag bou al maande lank op,” sê Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van Saru.

“Ons is geweldig trots op dit wat Nike gelewer het en die terugvoer van die span is wonderlik.

“Die nuwe hooftrui eerbiedig die tradisies van die Springbokke in sy ontwerp en konstruksie terwyl dit subtiele nuanses byvoeg om dit te onderskei. Ons kan nie gelukkiger wees nie.”

Die Springbokke se hooftrui. (Foto: Verskaf)

Gemak, duursaamheid en ondersteuning is van die kerninsigte wat die ontwerp van die nuwe Springbroktuie gerig het.

Die trui is ook ontwerp om in die behoeftes van spelers te voldoen. Dit moet die Springbokke nie net koel en droog help hou nie, maar gaan ook genoeg beweging toelaat terwyl daar minder wrywing is.

Ventilasiepanele van gaas moet die sirkulasie van lug deur die trui verbeter en help om spelers se liggaamstemperatuur te reguleer.

“Nike se ontwerpers het ook nou saam met die span gewerk om te verseker dat die ontwerp die geskiedenis van die span en die Suid-Afrikaanse kultuur weerspieël,” sê Saru.

Die oorspronklike trui in groen-en-goud is herbedink en sluit ʼn tradisionele kraag in wat aan die onderkant na die Suid-Afrikaanse vlag verwys.

In ʼn poging om die span se gees vas te vang is die woorde “Stronger Forever” aan die binnekant van die kraag ingesluit.

Die Springbokke se alternatiewe trui. (Foto: Verskaf)

Die nuwe alternatiewe trui bring hulde aan plaaslike kulture danksy die patroon wat gebruik is. Die kleurskema is geïnspireer deur die skakerings van die Suid-Afrikaanse landskap.

“Ons het die senior leierskapsgroep by die goedkeuringsproses betrek en hulle het dadelik waardering gehad vir wat Nike met die ontwerp probeer bereik het,” sê Oberholzer.

“Ons sien uit daarna om die truie in die komende weke in aksie te sien, insluitend die alternatiewe trui wat volgende maand sy debuut in Buenos Aires sal maak.”

Suid-Afrika se ander nasionale sportspanne sal voortaan ook in Nike-truie uitdraf.

Die Springbokke se amptelike trui vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi, wat ʼn soortgelyke ontwerppatroon sal volg, word volgende maand onthul.

Ondersteunerstruie is Vrydag by Nike-winkels beskikbaar teen tussen R999 en R2 599.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Jaco ·

Die R999 truie is ondersteuner truie, dit word van goedkoper materiaal gemaak, die duur truie is die wedstryd truie waarmee gespeel word, selfde materiaal

Jaco ·

Nou wag ek vir die Wêreldbeker trui om bekend gestel te word, kan nie wag.

Chris ·

Ai die spierwit truie as ons teen Ierland speel is al klaar genoeg. Hoekom kan hul nie maar bly by die groen en goud nie.

Jeanette ·

Nee Chris alles afkomstig van die apartheidsjare moet ontslae van geraak word

007 ·

Wonder watter landskap dit uitbeeld van SA. Ek ken ons land redelik goed van my 25jr in die SALM. Het nog nie daai gedeelte gesien vanaf die grond en vanuit die lug nie.

My siening ·

Dis patetiese alternatiewe truie en so beweeg ons so mooi in regerings beleidsrigting om groen en goud te ver vang! Wat is fout met die alternatiewe wit trui?

bolletjie blom ·

Darem het hulle nie weg gedoen met die springbok wat hulle so pla nie.

Niklaas ·

Daai alternatiewelike trui is wanneer ons die rol van die Argentynse Pumas se “alter ego” wil wees vir die dag. Die trui lyk besonder baie soos Argentinië se kleure.

Staal ·

Hoop julle verloor in daai vieslike truie. Sies, dit is nie hoe ‘n Springbok trui moet lyk nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.