Só lyk raad van nuwe transmissiemaatskappy

(Argieffoto)

Geoktrooieerde rekenmeesters, ingenieurs, ʼn besturende direkteur, professore, ʼn energie-ekonoom, ʼn beleggingsbankier en ’n IT-spesialis.

Dít is die kundigheid en ondervinding wat die raad van Eskom se nuwe transmissiemaatskappy, die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika (NTCSA), gesamentlik na die tafel bring.

Die raad bestaan uit 12 nie-uitvoerende direksielede en is Dinsdag bekend gemaak.

Eskom sê die aanstelling vorm deel van een van die belangrikste pilare van die drie entiteite waarin Eskom opgedeel is, naamlik opwekking, verspreiding en transmissie.

“Die aanstelling van die raad is ʼn kritieke mylpaal om die NTCSA in bedryf te stel,” het Eskom se raadsvoorsitter, Mteto Nyati, Dinsdag gesê.

“Die aanstelling bring Eskom ʼn tree nader aan die ontsluiting van die potensiaal wat met die beplande transformasie van die energiebedryf gepaardgaan. Ons bedank al die individue wat hand opgesteek het om Eskom na ʼn toekoms te begelei waar Suid-Afrikaners betroubare, bekostigbare en omgewingsvriendelike kragvoorsiening kan geniet.”

Die volgende mense is tot die NTCSA se raad verkies:

  1. Priscillah Mabelane: Voorsitter. Mabelane is die uitvoerende- adjunkpresident van energiesake by Sasol en ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester (GR). By Sasol is sy onder meer verantwoordelik vir die koördinering van gasaktiwiteite en die verspreiding, bemarking en verkope van vloeistowwe in Suider-Afrika.
  2. Brian Armstrong: Hoof‑ onafhanklike direkteur. Armstrong is een van die land se voorste leiers in die inligting- en kommunikasietegnologiebedryf. Hy het meer as 30 jaar se bestuursondervinding in dié veld – in Suid-Afrika sowel as in die buiteland. Armstrong het in Julie 2017 as digitale sakeprofessor by die Universiteit van die Witwatersrand aangesluit en was voorheen ook ʼn topvlakbestuurder by Telkom.
  3. Lungile Mashele. Sy is ʼn energie-ekonoom, bekroonde energiekundige en bankier met meer as 12 jaar se ondervinding in die energiebedryf in Afrika. Sy werk tans as energie- en infrastruktuurspesialis by die Public Investment Corporation (PIC) en was voorheen ʼn energiespesialis by Eskom en die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika (DBSA) waar sy spesifiek op olie en gas, hernubare bronne, steenkool, kern- en hidroprojekte in Afrika gefokus het.
  4. Carmen le Grange. Sy was voorheen die hoof‑ finansiële beampte van Denel. Sy is ʼn gekwalifiseerde GR met meer as 22 jaar se ervaring in die veld. Sy was voorheen ʼn vennoot by die finansiëledienstereus PricewaterhouseCoopers (PwC). Hier het sy onder meer strategieë vir groei ontwikkel. Sy was ook vir die identifisering en ontwikkeling van hulpbronne verantwoordelik.
  5. Anu Sing. Met meer as 25 jaar se raads- en bestuurservaring het Sing al suksesvolle loopbane as meganiese ingenieur en beleggingsbankier gehad, asook ʼn loopbaan in telekommunikasie. Sy was onder meer vyf jaar aan die MTN Groep verbonde waar sy topvlakbestuursposisies beklee het, insluitend as die groep se uitvoerende hoof vir strategiese sakebedrywighede. As beleggingsbestuurderder was sy deel van verskeie baanbrekerooreenkomste in verskeie sektore soos energie, mynbou en vervaardiging.
  6. Nkosinathi Solomon. Hy het ʼn MBA-graad en is ʼn gekwalifiseerde chemiese ingenieur. Hy het goeie ervaring op direksievlak en ʼn goeie begrip van die energielandskap.
  7. Mark Swilling was die voorsitter van DBSA tot September verlede jaar en is die mededirekteur van die sentrum vir volhoubare oorgang by die Universiteit Stellenbosch. Hy het al verskeie studies en artikels in sy veld onderneem en gepubliseer, waarvoor hy ook al toekennings ontvang het.
  8. Auke Lont word internasionaal in die transmissieomgewing erken. Hy was die uitvoerende hoof van Statnett in Noorweë. Hy het meer as 25 jaar se ervaring in die energiebedryf en het ʼn meestersgraad in ekonomie aan die Vrije Universiteit in Amsterdam verwerf. Hy het al verskeie internasionale en nasionale bestuursposisies beklee.
  9. Francis Petersen. Hy is ʼn hoogs gekwalifiseerde ingenieur en die rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat. Hy was voorheen die visekanselier van die Universiteit van Kaapstad en die dekaan van die ingenieurs- en omgewingsfakulteit.
  10. Sedzani Mudau is die uitvoerende direkteur van Favest Advisory Pty Ltd, voorsitter van die raad van Sentech SOC Ltd en ʼn nie-uitvoerende direksielid van Ellies Holdings Ltd. Sy is ook ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester en geregistreerde ouditeur met ʼn MBA-graad. Sy het meer as 19 jaar se ervaring in topvlakbestuursposisies.
  11. Busisiwe Vilakazi. Sy het ʼn doktorsgraad in ingenieurswese aan die Oxford-universiteit behaal. Sy is die navorsingshoof by Sita en was voorheen ʼn senior navorser by die WNNR. Sy is tans ook ʼn nie-uitvoerende direksielid by Eskom.
  12. Tryphosa Ramano. Sy is ʼn gekwalifiseerde GR met jare se ervaring in die finansiële sektor, vervaardiging- en lugvaartbedryf en ook as entrepreneur. Sy het baie bestuurservaring en dien tans ook as ʼn nie-uitvoerende direksielid op Eskom se raad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Christian J M ·

So hulle gaan ook maar net geld kry6 want hulle het nie raad nie.

Johann ·

Dis soos die klug van DRIE MINISTERS verandwordelik vir wat veronderstel is om ‘n funksionele ESKOM te verseker!!!!!!!

Vonkprop ·

Net ‘n klip in die bos. Ek lees so deur die jare se ervaring. Dit sê absoluut niks vir my nie. Wk wil graag weet wat het hulle in daardie jare reggekry. Zuma was 9 jaar president gewees. Dit het hom nie ‘n goeie president gemaak nie. So ja. Die syfers lyk goed, maar wat het hulle almal vermag?

Theo ·

Eskom was altyd gedoem om te misluk. Sy eeu oue sakemodel is verouderd. Sy monopolie op Suid-Afrika se energieopwekking, nalatigheid van instandhouding en gebrek aan kapasiteit is die hoofoorsaak van beurtkrag. Voortdurende prysstygings tesame met stygende skuldvlakke het Eskom in ‘n doodspiraal gedruk. En natuurlik moenie die MASSIEWE korrupsie vergeet wat Eskom net vinniger op hierdie pad van selfvernietiging gedryf het!

Johan ·

Sal ek dit waag… die soustrein word net swaarder gelaai en oor n jaar sit ons nog in presies dieselfde bootjie.

Kokerboom ·

Rerig? Titels en eerbetonings lewer nie resultate.
Dit bly ‘n staatsinstelling met nog ‘n raad. Uiteindelik 3 rade ! Wie rapporteer aan wie? Massiewe salarisse! Resultate?!!!Onnodige uitgawes!
Is idee nie om te ontbondel en te privatiseer?
Kan bestaande raad nie maar beter kenners kry en in 3 gedeel word?
Sirkus word al groter!

DanieB ·

Wie gaan hierdie hoogs gekwalifiseerde mense betaal? Hou Eskom se prysverhogings dop hierdie jaar. Onnodige duplisering van duur bestuurslede. En die verbruiker moet maar net aanvaar en betaal.

Sobymykoolkop ·

Ken nie een nie maar daai no 4 enetjie maak my angstig. Finansies by Denel. En waar is Denel vandag.

Boatsie ·

Net bekommerd as al die slimjanne hul maandelikse ” toelars” kry, is Eskom nog ‘n hele klompie miljoen verder in die rooi.
Hoop hul ondervinding, bydraes en besluitneming regverdig die uitgawe en kry Eskom weer op die winsgewende pad.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mense met blink grade wat baie praat en groot planne maak. Daarvan het die land baie. Die vraag is waar is die ervare mense wat die werk moet doen. Net nog ‘n staatsmaatskappy wat gedoem is tot mislukking.

Cassie Carstens ·

Ek dink ons moet die span ‘n kand gee, maar ek twyfel of daar enige verbetering sal intree as ons sosialistiese regering sy neus hier kom insteek.

annie ·

Sy… Wie probeer vir wie flous. Ons kort nou nog net ‘n sy as president dan het ons ‘n sy-sirkus. Mensig, watter heerlike sittings sal die parlement nie hê nie. Gelukkig word dit reeds in die stadsaal aangebied, gereed vir teatrale sy-aanskoulikhede. Eskom is darem oorspronklik… Mens moet dit toegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.