Só lyk Ramaphosa se ekonomiese plan

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan verteenwoordig ʼn groot skuif weg van die ANC se diepgesetelde konsep van ʼn ontwikkelingstaat en ʼn staatgesentreerde ekonomie na ʼn baie groter rol vir die private sektor.

Die plan is Donderdag in die parlement aangekondig en poog duidelik om vir Suid-Afrika te doen wat Franklin D Roosevelt se New Deal ná die Groot Depressie vir die VSA gedoen het – ʼn massiewe herstrukturering van die ekonomie om spesifiek werkloosheid te bekamp en ekonomiese groei te bevorder.

Sy aankondigings verbreek die mag van die omstrede koronavirus-bevelsraad en bied volop sakegeleenthede vir ondernemings. Kritici het egter reeds begin uitwys dat baie van die syfers wat hy verskaf het wel korrek maar tog misleidend is, aangesien dit geen konteksgewende tydraamwerke of tydverwysings bevat nie. Boonop toon die toekomsprojekterings alle tekens van die owerheid (veral die presidensie en tesourie) se ou swakheid om te positief te voorspel en dit dan later afwaarts te moet aanpas.

Die gevolg is dat die fondamente van die plan trefseker is, maar dat die bedrae en syfers waarna so mildelik verwys is, veiligheidshalwe met ʼn knippie of dalk selfs ʼn wavrag sout geneem kan word.

Die ander swakheid wat wyd uitgewys word, is dat Ramaphosa se aankondigingstoespraak in die parlement so wyd was dat dit noodwendig nie baie diep was nie – die detail word oudergewoonte aan die tersaaklike ministers oorgelaat, wat telkens beteken die terugvoer en inligting is van die gehalte van die minister afhanklik – ʼn seker resep vir ten beste oneweredigheid en ten swakste voortgesette beleidchaos.

Die plan het vier hoofdoelwitte, naamlik werkskepping, industrialisering, strukturele ekonomiese hervorming om binnelandse en buitelandse beleggings te lok, die bevegting van misdaad en korrupsie, en die verbetering van die staat se regeringsvermoë in alle regeringsvlakke.

Ramaphosa het gewaarsku dat die koronavirus en sy gevolge nie gou agter die rug gaan wees nie en dat alle ekonomieë wêreldwyd sukkel. Hoewel die staat van inperking in Suid-Afrika beteken minder mense is dood of doodsiek, het dit die ekonomie baie seergemaak, het die president erken.

Volgens Ramaphosa was die regering se pandemiereaksie van die begin af op drie fases geskoei. Die eerste was die gesondheidsreaksie, die tweede was maatskaplike en ekonomiese noodbystand aan individue en maatskappye, en die derde (waarop nou gefokus moet word) is ekonomiese herstel en ekonomiese groei.

Die aanvulling van maatskaplike toelae en die spesifieke grendelstaatgedrewe nuwe tydelike toelae het kontantgedrewe verligting van R40 miljard aan 17 miljoen Suid-Afrikaners beteken.

Die tydelike Covid-19-toelae word byvoorbeeld aan ses miljoen mense uitbetaal, en die aantal maatskappye wat suksesvol voordeel uit tydelike veranderings aan betalings vir en deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF oftewel UIF) getrek het, staan op 960 000.

Boonop is R49 miljard aan loonsteun uitbetaal vir vier miljoen werkers. Daar is ook R40 miljard aan belastingverligting vir maatskappye verskaf, het Ramaphosa gesê.

Die Reserwebank het besluit om rentekoerse vas te stel op die laagste vlakke in 50 jaar (dus, sedert die brandstofkrisis van 1973). Dit was die beste nuus vir diegene (soos huiseienaars) wat beleggings maak, en die slegste nuus denkbaar vir diegene (soos pensioenarisse) wat van beleggings leef.

Die regering het R200 miljard begroot vir leningskemas aan ondernemings. Hoewel die skema glad nie goed ondersteun of wyd gebruik word deur ondernemings nie, is R16 miljard al aan 12 000 ondernemings uitbetaal.

Handelsbanke het ook reeds sowat R34 miljard aan leningsverligting uitbetaal.

Maar as twee miljoen mense het sedert April hul werk verloor en die ekonomie het met ʼn haas ongelooflike en rampspoedige 16,4% ingekrimp – verreweg die ergste in die geskiedenis, en wat blote ekonomiese syfers betref erger as die Groot Depressie (maar Suid-Afrika is hierdie keer ʼn versengende droogte in die stapelvoedsel-produserende dele van die land gespaar, so die praktiese gevolge vir arm mense is nou ʼn bietjie minder erg as toe).

Ramaphosa het nogmaals ernstig gewaarsku dat die staat ʼn geweldige inkrimping in belastinginkomste ondervind en dat dit duidelik gaan blyk uit die mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBPS) van die minister van finansies, Tito Mboweni, wat so ʼn strawwe taak het om die boeke te laat klop dat die MTBPS vanjaar vir die eerste keer ooit uitgestel is met ʼn week, en nou op 28 Oktober sal plaasvind.

Die praktiese doelwitte van die gevolglike regeringsplan sal bekend staan as die Suid-Afrikaanse Ekonomiese, Heropbou- en Herstelplan.

Die praktiese doelwitte van die plan is eerstens die skep van stabiele en genoegsame elektrisiteitsvoorsiening binne die volgende twee jaar en ook die skep van 800 000 nuwe werkgeleenthede teen 31 Maart aanstaande jaar. Dit behels ook die besteding van R1 triljoen (maar daar is geen aanduiding van waar daardie soort geld vandaan moet kom, hoe dit bereken of gedefinieer word of oor watter tydraamwerk hierdie belegging gaan plaasvind nie) vir die instandhouding en uitbou van infrastruktuur met die klem op waterpype en plattelandse paaie. Dit behels ook die vermindering van datakoste tesame met die vermeerdering van toegang tot breëband-inligtingstegnologie, die uitbou van die vervaardigingsektor (hiervoor het die regering baie planne wat volop beleggingsgeleentheid aan die vervaardigingsektor bied) en die herlewing van toerisme (hiervoor is geen werklik tasbare planne deur die regering aangekondig nie).

In al hierdie planne het die president die klem eerstens op ekonomiese groei geplaas. Oor rasgedrewe bemagtiging was hy doodstil.

Die bereiking van bogenoemde doelwitte sal op ʼn paar praktiese inwerkingstellingsgebiede berus. Die eerste hiervan is die ontwikkeling van infrastruktuur, en ten einde dit nie bloot in ʼn ongekoördineerde vlaag te laat plaasvind nie is sowat 50 werklik groot projekte as fokus gekies.

Die bedrag wat hiervoor begroot word, is sowat R100 miljard, maar weer eens het die president nagelaat om die inkomstebron en die beleggingstydperk te verskaf, so vir baie mense wat die ekonomie ken en verstaan, is dit in sy huidige vorm nogal ʼn nuttelose syfer.

Voorbeelde van hierdie uiters groot infrastruktuurprojekte is behuising (spesifiek die Matlosana N2-projek in Klerksdorp, die nuwe Lufhereng-ontwikkeling in Gauteng, die Cornubia-projek in KwaZulu-Natal en die ontwikkeling van Vista Park in die Vrystaat), die herstel en opgradering van die besigste treinroetes (byvoorbeeld die Pretoria-Mabopanelyn en die sentrale lyn in Kaapstad), en die grootskaalse instandhouding en herstel van plattelandse paaie.

Die tweede praktiese inwerkingstellingsvlak is energievoorsiening. Dit sluit die herstrukturering van Eskom in om meer en nuwe geleenthede vir privaat energieverskaffers te bied, die stabilisering van Eskom se skuldlas, en die geleentheid vir die uitbou van ander energiebronne soos hernieubare energie, batterygedrewe energie en vloeibare gas.

Navrae deur Maroela Media aan bronne in die nasionale tesourie het nietemin getoon dat die ANC-regering steeds nie wil instem dat die Wes-Kaap die ooreenkomste in werking mag stel wat reeds deur die DA-geleide provinsiale regering en die DA-beheerde stadsregering van Kaapstad met oorsese beleggers onderhandel is om die provinsie grootliks selfversorgend in elektrisiteit te maak nie.

Maroela Media se vrae aan uiters senior tesourie-amptenare het geen antwoorde oor die rede vir hierdie onwilligheid gebaar nie, wat die uiters sterk en algemene mening in die Wes-Kaap dat dit blote ANC-kleinlikheid en jaloesie is, verder sal versterk.

Die derde inwerkingstellingsvlak is massawerkskepping teen lone wat iewers tussen die staatsminimumloon (wat betaal word aan werkers in die uitgebreide openbarewerke-program, oftewel EPWP) en die amptelike minimumloon sal val.

ʼn Groot Koop Plaaslik-program is deel hiervan, asook die uitbreiding van die Werk vir Water-program.

ʼn Belangrike ingryping wat werkskepping betref en maklik misverstaan sou kon word, gaan in die onderwys gebeur, en wel op drie heeltemal afsonderlike vlakke.

Eerstens sal die 100 000 kleuterskool-hulpwerkers wat onlangs aangestel is en in sekere stadiger dele van die land nog aangestel word, behou word.

Tweedens sal die 40 000 hulponderwysers wat as proeflopie in Gauteng en die Wes-Kaap in navolging van internasionale toppraktyk aangestel is, se poste behou word.

Die derde aspek is die heeltemal nuwe aspek wat maklik misverstaan sou kon word omdat die regering dit eintlik taalkundig gesproke verkeerd benoem het as hulponderwysers terwyl hulle eintlik van onderwyshulpe behoort te praat.

Dit is naamlik die skep van 300 000 tydelike nuwe poste (teen dieselfde loonvlakke as wat hierbo vir die ander massa-indiensnemingsprojekte verduidelik is) vir onlangs afgestudeerde werklose matrikulante om onderwysers tot hulp te wees met byvoorbeeld administratiewe pligte, die skoonmaak van skole en die Covid-19-verwante reiniging van skole en klaskamers.

Dit is baie belangrik om te besef dat hierdie onderwyshulpe (ten spyte daarvan dat die regering hulle tans verkeerdelik hulponderwysers noem) nie sal skoolhou nie, want hulle het nie onderwysopleiding nie.

Ander werkskepping word ook in die vooruitsig gestel, waaronder die ondersteuning van 75 000 nuwe kleinboere.

Die vierde inwerkingstellingsvlak is industrialisering. Ramaphosa het daarop aanspraak gemaak dat die staat se program om meer beleggings na en in Suid-Afrika te lok, reeds R664 miljard aan nuwe beleggings verseker het, waarvan R170 miljard reeds gebeur het.

Ramaphosa het geen verwysing gemaak na die wyd gedeelde interpretasie in die sakewêreld en onder ekonomiese kenners dat hierdie syfer nie noodwendig leuenagtig of verkeerd is nie, maar waarskynlik uiters misleidend omdat daar min aanduiding is dat dit nou juis die beleggingsprogram is wat die rede is waarom hierdie beleggings plaasvind.

Die regering sal voortgaan met die ontwikkeling van bedryfgespesifiseerde meesterplanne soos reeds met ʼn mate van sukses in bedrywe soos tekstiel, suiker en pluimvee ingestel is.

Die hawens van Durban, Oos-Londen, Nqurha (Port Elizabeth) en Kaapstad gaan opgeknap word om internasionale handel beter te laat vloei, en die president het nogmaals belowe om die kniehaltering van ondernemings deur ondoeltreffende rompslomp van owerhede te verminder, maar nogmaals volkome nagelaat om te sê hoe hy en ook sy party, die ANC, dit gaan doen solank kaderontplooiing swaarder weeg as opleiding, vaardigheid, eerbaarheid of werkgierigheid.

Die president het aangevoer die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is aan’t herstel van die uitwerking van staatskaping en die Spesiale Ondersoekeenheid asook die Nasionale Vervolgingsgesag vorder daarmee om korruptes aan die pen te laat ry.

Ramaphosa het onderneem dat daar geen politieke inmenging in hierdie vervolgings sal wees nie.

In ʼn belangrike ekonomiese klemverskuiwing het hy gesê sommige staatsondernemings sal verkoop word. (Hy en die ANC kry nie die woord “geprivatiseer” oor hul lippe nie.) Maar hy het nogmaals nagelaat om te sê watter ondernemings hy bedoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Kort na inperking begin het, het ramaphosa meer as eenkeer gesê dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. Dié ekonomiese planne hierbo sê egter niks van die uithaal van wit mense uit die ekonomie nie. Het ramaphosa van plan verander, OF is sy huidige stilte net ‘n stilte voor die storm – ‘n storm waarin wit mense genadeloos onderdruk gaan word?

Cornelius ·

ANC geblaf. Daar gaan niks hiervan kom nie. Die Mafia bly stewig gevestig en die bedrog, korrupsie en diefstal gaan nie ophou nie.

Jacobus ·

Kan een ding nie verstaan – waar gaan die geld vandaan kom? Los net mense se pensioene uit. Mr Ramaphosa weet beter as ons dat daar waarskynlik al ‘n lang tou is vir toegang tot die spaar varkie. Mr Ramaphosa sluit aub ALLE landsburgers in vir werk aan die plan en laat vaar dadelik al die “airy-fairy” planne – daar is baie brood-en-botter sake wat voorrang behoort te kry. Sien Mr Mboweni sê ons moet -“live within our means”, Kan die kaders ophou om in ons. “means” te lewe!

Kokerboom ·

Dieselfde ou planne uit kas gehaal en afgestof. Niks fout met planne en drome maar 2 groot gebreke nl realisme (uitvoerbaarbaarheid en beskikbaarheid van finansiering) en TOEPASSING!!!Niks fout met drome maar iemand moet lugkastele bou en verf!!!NIKS gehoor van hoe, wanneer en deur wie!!!!

koos10 ·

My magtig Cyril, kan jy nie net een keer jou eie stem laat hoor nie. Die afgelope 6 maande het vir ons gewys dat jou ministers oor jou loop en hulle nie eers steur aan jou opdragte nie, hoekom sal dit nou anders wees?

Antwoord asb net die volgende vrae:

1. Sedert 1994 hoeveel geld het weg geraak in SA deur kriminele aktiwiteite?
2. Hoeveel daarvan is terug gevind?
3. Hoeveel mense sit in die tronk vanweë die krininele aktiwiteite?

Soos die Engelsman sê, I rest my case.

Willempie ·

Baba black sheep have you any wool… no sir no sir boggarol bags are full ……

Chris ·

Ek kan die “joppie” uitvoer en selfs beter doen, stuur asb aansoekvorm en aangesien ek nie geleerd is nie, gebruik my geldige tv lisensie as verwysing.

Dries ·

Ja – nee “die detail gaan weer soos gewoonlik aan die tersaaklike ministers oorgelaat word” WATTER DETAIL. Is dit dalk hoeveel die kaders elk kan maak ????? NIKS maar absoluut niks kan suksesvol wees as dit van die ANC regering kom nie. DIT IS N FEIT SOOS N KOEI. Ons moet gered word van hierdie lot

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.