Só vorder energie-aksieplan

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die president sê beduidende vordering is die afgelope ses maande gemaak met die implementering van sy energie-aksieplan (EAP) om beurtkrag tot ʼn einde te bring.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Julie 2022 die EAP aangekondig. Dit word gekoördineer deur die nasionale energiekrisiskomitee (Necom) onder die leierskap van die minister van elektrisiteit, Kgosientshlo Ramokgopa.

Die EAP moet die felheid en gereeldheid van beurtkrag in die korttermyn verminder en energiesekerheid oor die langtermyn behaal deur vyf ingrypings:

  • herstel Eskom en verbeter die beskikbaarheid van kragverskaffing;
  • versnel privaat belegging in kragopwekkingskapasiteit;
  • versnel die aanskaffing van kragopwekkingskapasiteit uit hernubare krag, gas en batteryberging;
  • stel ondernemings en huishoudings in staat om in sonkrag te belê; en
  • transformeer die kragbedryf om kragsekerheid op die lang termyn te behaal.

Volgens die president toon die verslag aan dat vordering op al vyf gebiede behaal is.

Drie eenhede by Kusile-kragsentrale is maande voor die sperdatum aangeskakel en saam met omvattende instandhouding in die somerseisoen het Eskom se bestaande vloot verhoog en beurtkrag verminder.

Vordering is ook gemaak met die gebruik van sonpanele deur ondernemings en huishoudings wat meer as verdubbel en tot meer as 5 000 MW toegeneem het. Dit het ook die las op die netwerk verminder.

Nog drie bodvensters is in Desember 2023 beskikbaar gemaak vir 7 615 MW kapasiteit uit son- en windkrag, gas en batteryberging.

Tot 1 000 MW in bykomende krag sal vir ʼn periode van drie jaar aangeskaf word van naburige lande, deur die oorgrens-standaardaanbiedingsprogram (CBSOP). Altesaam 1 136,5 MW is reeds deur dié program goedgekeur.

Die eerste projek van Eskom se batterybergingstelsel (Bess) is aan die netwerk gekoppel en sal 100 MWh van bergingskapasiteit verskaf.

Sewe ander projekte is onder konstruksie as deel van fase 1 van die aksieplan wat ʼn verdere 833 MWh kapasiteit sal verskaf.

ʼn Bykomende 3 400 MW van netwerkkapasiteit is ontsluit in die Kaap deur die instelling van inperking. Dit stel Eskom in staat om meer kragopwekkingskapasiteit op die netwerk in te pas.

ʼn Onafhanklike raad is aangestel as die direksie vir die nasionale transmissiemaatskappy van Suid-Afrika (NTCSA), en sal binnekort ten volle operasioneel wees.

Die wysigingswetsontwerp op elektrisiteitregulering is reeds in die Nasionale Vergadering goedgekeur. Dit word nou deur die Nasionale Raad van Provinsies oorweeg en die wetsontwerp beloof om die bedryf met die skep van ʼn mededingende mark te transformeer.

“Die regering poog om die EAP ten volle te implementeer om ʼn einde te bring aan beurtkrag,” het die president bygevoeg. “Die minister van elektrisiteit sal deurlopend vordering met die publiek deel.”

Klik hier om die verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.