Só werk entstof vir onderwysers

(Argieffoto: Unsplash)

Die massa-inenting van onderwysers teen Covid-19 begin Woensdag en die departement van basiese onderwys het ʼn beroep op onderwysers en ander personeel gedoen om te verseker hulle is beskikbaar om die entstof te ontvang.

Die program mik om 582 000 mense in die sektor oor die volgende twee weke te bereik. Die departement het Dinsdag ʼn omsendbrief aan onderwysers gestuur wat verduidelik hoe die proses sal werk en wie almal ingeënt kan word.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, sê gereelde skoolbywoning gaan bydra tot die haal van dié doelwit.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die afgelope naweek aangekondig dat die program môre afskop nadat ʼn aanvanklike besending van 300 000 dosisse van die Johnson & Johnson (J&J)-entstof ontvang is.

Volgens die minister steun al vyf amptelike en erkende onderwysvakbonde – Sadtu, Naptosa, Natu, PEU en die SAOU – die inentingsprogram as deel van die stryd teen die koronaviruspandemie. Leiers van die vakbonde sal volgens die departement vandeesweek al die entstof ontvang.

Saptu het intussen gesê hy sal sy lede steun wat verkies om nie die entstof te ontvang nie en met afdanking daaroor gedreig word.

“Ons sal ons lede steun wanneer hul werk in die gedrang is,” sê adv. Ben van der Walt, algemene sekretaris van Saptu.

“Werkgewers kan nie ʼn pasgemaakte beleid oor entstof uitreik nie, maar moet elke geval op sy eie meriete beoordeel. Ons help graag indien enige van ons lede voel hulle word verkeerd behandel.”

Saptu het ook sy lede aangemoedig om ʼn “ingeligte besluit” oor hul gesondheid en dié van hul kollegas te neem wanneer hulle die ontvang van die entstof oorweeg.

Volgens die departement steun skoolbeheerliggame ook die entstofprogram en het hulle onderneem om nou saam te werk om te verseker mense ontvang die entstof.

“Oor die volgende twee weke doen ons ʼn beroep op al ons skoolgemeenskappe om alles te laat staan en te immuniseer. Om die program suksesvol te voltooi, moet ons alle skole oophou. Enige ontwrigting sal ongewens wees,” sê Motshekga.

Sy het egter benadruk dat inenting nie beteken dat daar nie meer gehoor gegee moet word aan die nie-farmaseutiese gesondheid- en veiligheidsmaatreëls nie.

Dr. Granville Whittle, waarnemende direkteur-generaal van die departement, sê in ʼn omsendbrief aan skole immunisering is vrywillig, maar “alle personeel word aangemoedig om die entstof te ontvang om die normalisering van die sektor te verseker”.

Wie kry die entstof?

Alle werkers in die basiese onderwyssektor kwalifiseer.

Op skoolvlak kom dié werkers in aanmerking:

  • Onderwysers wat deur die departement aangestel is
  • Onderwysers wat deur skoolbeheerliggame aangestel is
  • Onderwysers by onafhanklike skole
  • Administratiewe en steunpersoneel wat deur die departement aangestel is
  • Nie-onderwysers wat deur die departement aangestel is (drywers, skoonmakers, opsigters, veiligheidswagte, ens.)
  • Alle koshuispersoneel wat deur die departement aangestel is

Wie word uitgesluit?

  • Enigiemand wat die afgelope 30 dae Covid-19 onder lede gehad het
  • Enigiemand wat reeds entstof teen Covid-19 ontvang het
  • Enigiemand wat die afgelope 14 dae ʼn griepinspuiting ontvang het

Wat word benodig?

Die departement sal die registrasie van mense fasiliteer en diegene in die sektor hoef dus nie op die regering se elektroniese entstofdatabasis te registreer nie. Entstofsentrums sal aan elke distrik toegewys word en skole word aangemoedig om te verseker personeel kan dit bereik.

ʼn Bewys van identiteit word benodig. Dit sluit in ʼn ID-kaart, ID-boekie, rybewys, Suid-Afrikaanse paspoort of werkspermit in die geval van buitelanders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Agge nee ·

Dit is wel vandag begin in die Limpopo, (ons moes getalle deurstuur) maar net die met persal nommers word toegelaat, maw geen SGB aanstellings, geen privaatskole, geen admin en geen ‘support staff’ wat deur die SGB betaal word nie. Iewers lieg iemand vir ons.

Johann ·

Wonder hoeveel van die enstof gaan vir die “leiers” van die 5 vakbonde?

Elizabeth ·

Die indruk word deur die minister geskep dat alle onderwysers en personeel geënt gaan word. Dit is hierdie stadium gewoon nie waar nie. By 3 skole ,wat ek insae het, is daar slegs 10, 10 en 4 mense se name op die briewe wat aan die skole gestuur is. Die briewe is glo gister weer teruggetrek. Daar is na bewering nie genoeg entstof vir die hoeveelheid onderwysers in die Noordkaap nie! Is dit so? Wanneer word die res van die personeel dan geënt? Wat word van die entstof? Is dit maar weer net die gewone onvermoë om te organiseer? Baaitjies vir Boeties? Kom agter die ware storie op grondvlak asb. ń Halwe waarheid bly ń leun!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.