Só wil SA toeriste veilig hou

Patricia de Lille, minister van toerisme (Foto: Fikile Marakalla/GCIS)

Die oproep van polisiereserviste, die aanstel van meer as 2 000 toerisme-monitors én ’n veiligheidstoepassing op toeriste se selfone.

Dié veiligheidsmaatreëls gaan nou ingestel word in ’n poging om toeriste se veiligheid te verseker wanneer hulle die mooie dog soms onveilige Suid-Afrika besoek.

Patricia de Lille, minister van toerisme, het Maandag met verskeie LUR’e vir toerisme, die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en rolspelers in die private sektor, waaronder die Toerisme Sakeraad, vergader om die land se veiligheidsprobleem te pak.

Die vergadering volg op verskeie aanvalle op toeriste oor die afgelope paar jaar, waaronder die opspraakwekkende moord op die Duitse toeris Jörg Schnarr.

“Misdaad is ʼn saak wat toerisme in baie dele van die wêreld raak. Suid-Afrika is geen uitsondering nie,” sê De Lille.

Die minister is daarom tevrede met die uitkomste van Maandag se vergadering waartydens daar ooreengekom is dat die openbare en private sektor nouer sal saamwerk om die land se toerismeveiligheidskwessies te pak.

Een van die maatreëls op die sakelys was ʼn selfoontoepassing wat toeriste kan aflaai en waarmee hulle met die druk van ʼn knoppie hulp kan ontbied.

De Lille sê haar departement het reeds in samewerking met die polisie toeristeveiligheidswenke met ʼn QR-kode ontwikkel wat toeriste toelaat om die wenke te skandeer en dit elektronies te verkry.

(Argieffoto: Unsplash)

Dié veiligheidswenke is ook in die MY SAPS-toepassing geïnkorporeer vir maklike toegang.

Die polisie het nou onderneem om die kenmerke van die app op te skerp en meer bewusmaking oor die toepassing te skep.

Die private sektor het ook ’n toepassing genaamd SECURA bekend gestel – ’n app met ’n paniekknoppie spesifiek vir toeristeveiligheid. Hierdie toepassing integreer bekostigbare mediese noodreaksies, onklaarrakings en misdaadverwante voorvalbystand.

Dit word reeds gebruik en word via Satsa bemark teen R49.

Die private sektor is besig om geld hiervoor te bekom en is vol vertroue dat die app teen Julie deur toeriste en toerisme-monitors gebruik sal kan word.

“Die plan sal nie net risiko’s vir toerismeveiligheid en sekuriteit verminder nie, maar dit sal ook verseker dat baie meer toeriste van hul besoek aan Suid-Afrika terugkeer huis toe met ʼn positiewe siening om met hul vriende, familie en op sosiale media te deel,” sê De Lille.

Duisende toerisme-monitors kom

Toerisme-monitors sal ook weer oor al nege provinsies heen ontplooi word in ’n poging om die land se toeristeaantreklikhede beter te beveilig.

Die departement is besig om die opleidingskurrikulum vir toerisme-monitors te hersien. Dit sluit in ’n hersiening van waar die monitors gewerf word en waar hulle ontplooi moet word.

Die aanvanklike departementele begroting vir die 2023‑’24-boekjaar was R174,5 miljoen om 1 845 toerisme-monitors landwyd op te lei.

(Foto: Maroela Media)

De Lille het egter intussen gevra dat die getal tot 2 215 verhoog word. Sy het tydens die vergadering ʼn beroep op die verskillende LUR’e gedoen om ʼn gedeelte van hul begroting vir die uitgebreide openbare-werke-program beskikbaar te stel om die opleiding van meer toerisme-monitors te finansier.

Die monitors sal dan na alle provinsies by die gewildste toeriste-aantreklikhede en nasionale parke ontplooi word, veral in hoërisiko- en mediumrisikogebiede.

De Lille sê haar departement het reeds die private sektor geraadpleeg vir hul insette in die opleiding van die toerisme-monitors.

Meer as 2 500 monitors is in die vorige boekjaar opgelei. Die program het egter geëindig en daar is tans geen toerisme-monitors nie.

“Veiligheid is ʼn groot bekommernis vir ons almal en ons moet hierdie probleme die hoof bied,” sê De Lille.

“Ek het dit aan die forum duidelik gemaak dat ek op soek is na samewerking en idees. Nog belangriker, ons het praktiese oplossings nodig.

“Ons moet saamwerk om toerisme te versterk, met die gemeenskaplike doel om besoekers die beste moontlike ervaring in hierdie pragtige land van ons te gee.

“Die pad vorentoe is eenvoudig: Ons moet optree en ons moet nou optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Trotse Boervrou ·

So hoes die belastingbetaler net nog steeds omdat ons Regeringloos is. Waarom begin jul nie om Suid-Afrikaners veilig te hou nie? Ek sal hardloop dat my voete klap indien ek ‘n toeris is wanneer ek hoor dat daar tot sulke uiterstes gegaan moet word om my te beskerm. Hierdie dien eerder as ‘n afskrikmiddel. Dit gaan in elk geval nie werk nie. Niks werk meer in die land nie. Pateties, weereens.

skurweberg ·

Hulle Kan nie eers draadspan om die land te beveilg nie. Sien is glo wat die regering aanbetref.

Di ·

Glo my DIT gaan nie werk nie! Daar is hopeloos TE VEEL kriminele in die land. Ons as burgers moet maar saam leef met met misdaad elke dag van ons lewens.

Rooi rissie ·

Presies wat eerste in my gedagte op gekom het toe ek die opskrif van die berig lees. Ek stem 100% met jou saam ek wens ek kan sommer n duisend glimlaggies druk op jou kommentaar.

skurweberg ·

‘n Mens moet die vermoë hê om dit te doen, al is dit net om ‘n pligstaat op te stel

Riaan ·

Haha selfoon Apps om mense veilig te hou? Die SAPD antwoord die hul telefone nie wat nog reageer op ‘n App !!

Catherina ·

Meeste van ons wie kinders het wat in buiteland in veilige dele bly, gaan kuier vir hulle want hulle is te bang om RSA toe te kom oor veilgheid. Hulle is landuit hieroor en hoekom sou hulle terugkom?

honeybee ·

Nou moet ons betaal om toeriste veilig te hou, maar wat van onself? Ons moet maar self sien kom klaar.

Anna84 ·

SA kan nie eers na hul eie mense kyk nie, hoe gaan hulle dit regkry om na toeriste te kyk???

Manie ·

Soos hulle hier sê: Kykhie, kykhie, hoorhie Antie Pat, jou grensheining was ‘n mislukking, hoe gaan hierdie plan van jou werk?

Delia ·

Toeriste monitors??? Nou het ek alles gehoor. Hoop die monitors het n skoon krimimele rekord

Samuel ·

Ons ministers het dan kriminele rekords, waarom dan nie ook monitors nie?

Robert ·

Hierdie klink soos die Tourism Guides wat oom Josef Stalin en Fidel Castro in hulle kommunistiese paradyse ingestel het…

Suzette ·

Soms onveilige SA ?? Die land is daagliks onveilig, nie net vir toeriste nie, vir inwoners ook. Daar word niks vir die inwoners gedoen nie so die toeriste moet maar mooi besin of hulle die land wil besoek en hul lewens in gevaar stel.

JvR ·

As ek na n land wil gaan vir vakansie, en die regering waarborg my veiligheid deur orals weermag, polisie en wagte te moet sit, kanseleer ek alles dadelik. Want dan is niks veilig nie.

Heinrich ·

Mmm, die krimineel druk ‘n wapen (wat tien-teen-een van die polisie afkomstig is) in ‘n toeris se gesig. Die toeris gaan rustig die foon uithaal, onsluit, die toep oopmaak sodat die knoppie gedruk kan word terwyl die krimineel simpatiek wag…natuurlik. Watter kader kry nou weer geld vir ‘n toep wat niemand betyds gaan kan oopkry nie?

Trotse Boervrou ·

Die foon se battery gaan in elk geval pap wees want Eskom bestaan nie.

Papsak ·

Wel sy droom drome ek glo nie toeriste wil meer in SA kom kuier nie hier te onveilig

Robert ·

Nuusflits minister… sorteer die land se probleme uit dan het jy nie die briljante oplossing nodig nie.

Suzette ·

Ag tog en hoe gaan dit help. Eerste ding wat vuilgoed afneem is jou selffoon. Goeie gert, de lille skrik al is dit net wakker. Tyd dat jy net aftree en loop koekies bak vir jou kleinkinders

skurweberg ·

Dankie dat julle ‘n mosie van wantroue in eie regering instel met al die maatreëls wat ingestel moet word om gaste in die land te beveilg, skandalig

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Wat ‘n gryp na grashalms om toerisme te bevorder! Lagwekkend.

Anton ·

Hier kom weer ‘n ding, oor ‘n kort rukkie gaan ons weer hoor al die geld is “onregmatig gespandeer”.

Ruby ·

Wag meneer die verkragter, ek wil net gou eers my knoppie druk.

O jy wil my doodmaak?…jy sal nie kan nie want ek het my knoppie gedruk.

Gee terug my selfoon jou dief, ek het nog nie my knoppie gedruk.

Tannie ek hou van jou maar ruk wet en orde in die land reg en los die knoppies!

Die Kaap is groot my antie, 370 ekstra gaan beswaarlik ‘n duik maak.

JohanR ·

Bou ‘n R37 miljoen draad heining om SA. Nee wag dit is al gedoen. Beter plan. Raak ontslae van die ANC!

Pietertjie ·

Kan ek myself as ‘n toeris laat verklaar, sodat die regering my beter kan beskerm teen misdadigers, al is dit met my eie belastinggeld?

bolletjie blom ·

Met wie se geld nogal? Moenie dink die toeriste weet nie wat hier in Suid Afrika aangaan nie.

marius ·

Kan net sowel die see met ‘n tee siffie probeer leegskep. Die land is ‘n misdaad hool en die res van die world besef dit..

Minnie ·

Toerisme na SA moet glad nie aangemoedig word nie. Ons as burgers kan nie eers beskerm word nie.
Hoeveel breinselle het die mense wat hierdie kwessies bespreek?

Moedeloos ·

Begin om al die bosslapers en mense wat op straat slaap, weg te neem. Dit is waar die onheil ontstaan want daardie mense is honger en geen inkomste nie. Maak dorpe skoon van boemelaars en bedelaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.