Sobey is ActionSA se premierskandidaat vir WK

Angela Sobey is ActionSA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap. (Foto: Facebook / Action SA)

Angela Sobey is ActionSA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap.

Sy het Dinsdag ʼn toespraak buite haar destydse huis in Manenberg, haar tuisdorp, gelewer en onderneem om alles in haar vermoë te doen om gemeenskappe – veral uiters arm mense – in dié provinsie op te hef.

Voor haar nuwe rol as premierskandidaat was Sobey ActionSA se raadslid in Johannesburg.

Volgens Sobey is dit juis in Manenberg waar haar “aktivisgees gebore is”, en daarom was dit simbolies dat haar toespraak hiér gelewer is.

“Met my terugkeer na Manenberg is ek gekonfronteer met die hartseer realiteit dat hierdie gemeenskap steeds gekenmerk word deur wydverspreide armoede, onderontwikkeling en toenemende bendegeweld.

Angela Sobey is ActionSA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap. (Foto: Facebook / Action SA)

“Met dekades wat verloop het sonder enige daadwerklike pogings om dié gemeenskap op te hef, het hierdie probleme bloot vererger. Dit is hiér, gedurende my vormingsjare, waar ek myself verbind het tot die stryd om die ongeregtighede te beveg wat ons mense aan armoede en ondenkbare lyding uitlewer.

“Jare later is hierdie omstandighede steeds onveranderd, en dus staan my verbintenis steeds. Die stryd vir ʼn beter en veiliger Wes-Kaap vir almal sal nou voortgesit word.”

Sobey sê sy betwis nie dat die Wes-Kaap beslis vooruitgang ondervind het nie. Tog het die meeste van dié provinsie se inwoners, veral diegene op die Kaapse Vlakte, nog geen tasbare verskil in hul eie lewe ondervind wat vooruitgang betref nie.

“Ons mense ly. Dis ʼn werklikheid wat nie deur enige betaalde openbare-betrekkinge-veldtog verbloem kan word nie.

“Dit neem ʼn motorrit van 20 minute op die N2 om dit eerstehands te aanskou en weens die versuim om duidelike ongelykhede te takel, hou die Wes-Kaap ʼn kontrasterende beeld voor, ʼn verhaal van twee provinsies.”

Aan die een kant, sê Sobey, is prentjiemooi voorstede. Aan die anderkant lê vergete, armlastige gemeenskappe.

“Daarom is dit my enkele grootste missie om te verseker dat elke Wes-Kaapse inwoner, ongeag hul poskode, in ʼn provinsie woon waar veiligheid, gelyke toegang tot dienste en die kans op ʼn waardige lewe, ononderhandelbaar is.”

Herman Mashaba, president van ActionSA, het ʼn foto van hom en Sobey in Manenberg op sosiale media gedeel en sê hy het volle vertroue in haar.

“Ek het geen twyfel dat Angela die een is wat die mense van die Wes-Kaap nodig het om ʼn stem te gee aan dié wat lank reeds vergete is nie,” het Mashaba by dié foto geskryf.

“Soos sy regdeur haar lewe al gedoen het, sal sy haarself toewy aan die verbetering van die gemarginaliseerdes in die provinsie se lewens.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die DA is onder druk in die WK. Sobey, die ANC wil die WK afbreek en in armoede dompel. Dis nie Egoli nie.

Samuel ·

Die DA sal moet wakker slaap tydens hierdie verkiesing. Wys ons Wes-Kapenaars wat julle kán en wil doen.

Martie ·

Ongelukkig moet mense hulleself ook probeer help en ophou staatmaak op die staat en ander. Sy is dan ‘n produk van Manenberg en waar staan sy vandag. Dis nie waar jy grootword nie, jy is verantwoordelik vir jou eie lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.