SOE stuit miljarde se finansiële verliese – jaarverslag

(Argieffoto: Unsplash)

Die reusestryd teen korrupsie duur voort. Dit blyk egter dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) goeie vordering maak.

Luidens die eenheid se jongste jaarverslag het die SOE gedurende die 2022-’23-boekjaar kontant en bates ter waarde van R389 miljoen teruggekry en finansiële verliese van R2,1 miljard voorkom.

Die ondersoekeenheid het ook tussen April 2022 en Maart 2023 daarvoor gesorg dat twyfelagtige kontrakte en administratiewe besluite ter waarde van R300 miljoen tersyde gestel of ongeldig verklaar word.

Die waarde van potensiële kontant of bates wat die SOE in dié stadium nog moet verhaal, staan tans op R846 miljoen. Dit hou onder meer verband met sake waarin die hooggeregshof óf spesiale tribunaal onder meer bewaringsbevele om bates te bevries aan die SOE toegestaan het.

Ondersoek, ondersoek, ondersoek

Die SOE het gedurende die finansiële jaar 1 719 bewerings van korrupsie en ander ongerymdhede ontvang om te ondersoek. Altesaam 376 sake teen amptenare van staatsinstellings is gedurende dié tydperk vir dissiplinêre optrede verwys.

Nie minder nie as 680 verwysings is na die betrokke vervolgingsgesag gemaak vir oorweging.

Altesaam 60 087 verwysings is na regulatoriese owerhede en instellings gemaak sodat daar teen die oortreders opgetree kan word. Optrede in dié geval behels onder meer die kansellasie van bedrieglik verkreë bestuurslisensies.

Dit sluit ook in aanbevelings om maatskappye op die lys van beperkte of swartlys-maatskappye te plaas sodat hulle nie verder met die staat sake kan doen nie.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het Maandag aan die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê die ondersoekeenheid het gedurende die betrokke boekjaar altesaam 21 verslae by die presidensie ingedien oor bewerings van korrupsie, wanadministrasie en wanpraktyke by staatsinstellings.

Een van die verslae is ʼn tussentydse verslag oor onder meer bewerings van wanadministrasie in die toekenning van honneursgrade by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap.

Die beweerde wanbestuur van geld en werwing van staatsamptenare vir studie ter wille van persoonlike gewin by dié akademiese instelling is óók ondersoek.

ʼn Verslag oor die verkryging van tenders vir die verskaffing en oprigting van voorafvervaardigde mobiele klaskamers, laboratoriums en watertenks by skole deur die Oos-Kaapse departement van openbare werke is óók ingedien.

Die SOE het gedurende die 2022-’23-boekjaar ʼn verslag gefinaliseer en ingedien oor die verkryging van óf kontraktering vir lugvaart- mediese dienste en pasiëntvervoerdienste deur of namens die departement van gesondheid in die Vrystaat en Noordwes.

“Die SOE is ʼn hoëprestasie-organisasie wat voortaan op sleutelterreine sal fokus, waaronder korrupsie, wanadministrasie en voorkoming van wanpraktyke deur middel van data-ontleding, voorspellende modellering en die digitalisering van sakeprosesse,” sê Mothibi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

So van die os op die jas, wonder wst het geword van die fietsambulanse? Wie staan pa vir daardie gemors?

57 Chevy ·

Een swaeltjie maak nie n somer nie ! Maklik om die klein vissies te vang . Wanneer word daar opgetree teen die grotes waar miljarde rande tersprake is . Die berig dui net klein geld aan .

Esme ·

En die ironie – die SOE moet maandeliks salarisse betaal en niemand word gearresteer nie.
Hierdie is pateties… Individue word in Senior Poste aangestel maar moet nog gemonitor word.

kaplyn ·

Ek wonder hoeveel van die R398 miljoen wat by die klein vissies terug gekry is het weer in die sakke van die groot vis kaders beland?

Sandra ·

Ondersoek al hoe lank, maar wanneer kom resultate en word die skuldiges gestraf en geld terugbetaal aan die staat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.