Soeke na Eskom-hoof: Gordhan ontken hy vertraag proses

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Bewerings dat hy die aanstellingsproses vir ʼn nuwe uitvoerende hoof vertraag, is onwaar en die verdraaiings en leuens hieroor is ʼn poging om sy verantwoordelikheid te ondermyn om te verseker dat die proses deursigtig en wettig is.

Só het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, teruggekap nadat daar beweer is dat hy die proses vertraag.

“Die proses om Eskom se hoof aan te stel is ʼn saak wat nie ligtelik opgeneem kan word nie. Dit vereis streng nakoming van prosesse wat met die aanstellings gevolg moet word,” het Gordhan gesê.

“Die verpolitisering van hierdie proses wys dat ons pogings om ons staatsbeheerde maatskappye skoon te maak altyd met weerstand en politieke opportunisme teëgestaan sal word. Ons sal nie daarvan afgeskrik word om ons toesighoudende verantwoordelikheid uit te oefen deur mense wat die Suid-Afrikaanse publiek wil mislei nie.”

Gordhan se reaksie volg ná mediaberigte dat Eskom nagenoeg 150 aansoeke vir die pos ontvang het, maar dat daar slegs een kandidaat is wat aan die vereistes vir die pos voldoen. Eskom se direksie het die kandidaat glo aan Gordhan voorgelê, maar hulle is daarop gewys dat drie kandidate, met geen voorkeur, aan die regering voorgelê moet word.

Calib Cassim neem tans as uitvoerende hoof waar nadat André de Ruyter in Desember bedank het.

Die DA wou dié week weet of die ANC se kaderontplooiingskomitee nie moontlik agter die vertraging sit om ʼn nuwe hoof vir Eskom aan te stel nie.

Ghaleb Cachalia, DA-LP en die party se woordvoerder oor openbare ondernemings, het gesê terwyl Gordhan agter Eskom se streng proses met aanstellings skuil, laat die tyd wat hy geneem het om hierdie standpunt aan die raad te kommunikeer die vermoede ontstaan dat hy moontlik ʼn parallelle proses voer om ʼn kandidaat te vind wat die ANC pas.

Cachalia meen dit maak eenvoudig nie sin dat Gordhan en die ANC-regering maande ná De Ruyter se bedanking nie die dringendheid insien om ʼn nuwe uitvoerende hoof te vind vir ʼn entiteit wat Suid-Afrika se ekonomie letterlik op die rand van ineenstorting gebring het nie.

“Die enigste redelike verduideliking is dat die ANC probeer om die dekstoele op die spreekwoordelike Titanic te herrangskik terwyl die Eskom-direksie die wanindruk wek dat hulle steeds in beheer is van die aanstellingsproses.”

Eskom het eers begin Februarie ʼn advertensie geplaas vir ʼn nuwe uitvoerende hoof. Luidens die advertensie moet die ideale kandidaat oor ʼn graad in ingenieurswese, sakeadministrasie of ekonomie beskik. ʼn Nagraadse kwalifikasie, soos ʼn MBA, sal ook in die kandidaat se guns tel, terwyl omvattende ervaring in die verkryging van kapitaal en die bestuur van grootskaalse kapitaalprojekte ook vereis word. Die kandidaat moet ook aan regeringsbeleid gehoor gee. Minstens 15 jaar ervaring in ʼn senior pos, ʼn leier met onberispelike etiese waardes en integriteit, asook iemand wat krisisse en risiko goed kan bestuur, is van die ander vereistes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.