Soektog na nog liggaamsdele ná polisieman glo voetganger tref

(Argieffoto: Hansie Linde)

ʼn Polisiebeampte wat glo aanvanklik gedink het dat hy ʼn dier op die N1 naby die Mantsole-weegbrug in Limpopo getref het, het op verskeie liggaamsdele van ʼn man afgekom nadat hy gaan ondersoek instel het.

Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), sê die sersant – verbonde aan die polisie se BBP-eenheid by Bryntirion in Pretoria – het Dinsdagaand kollegas ná ʼn skof afgelaai en was omstreeks 20:00 van Pretoria op pad na Phalaphala waar hy ontplooi is.

“Op pad het hy iets getref wat vermoedelik ʼn dier was. Die voertuig was beskadig en sowat 500 m verder het hy besluit om om te draai na die plek waar hy die trefslag gevoel het,” sê Langa.

Langs die pad het die polisiebeampte op verskeie liggaamsdele van ʼn man afgekom, waarna hy die betrokke owerhede ontbied het.

Volgens Langa is gedeeltes van die oorledene se oorskot reeds opgespoor, terwyl die soektog na nog liggaamsdele voortduur.

Opod ondersoek ʼn saak van ʼn sterfte weens polisieoptrede, terwyl ʼn saak van strafbare manslag ook aanhangig gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.