Sokkies stroom in vir seevoëls

‘n Pikkewyn met ‘n paar sokkies aan ondergaan ‘n operasie. (Foto: Sanccob)

Die Nasionale Stigting vir die Bewaring van Seevoëls (Sanccob) sê hy is oorval met sokkies van alle kleure en groottes, sommige met pasmaats en sommige daarsonder, nadat hy ʼn pleidooi op Facebook gerig het vir skenkings van ongebruikte baba- en kleuterkouse.

Die kousies word tydens operasies aan die voete en vinne van seevoëls geplaas om hulle liggaamstemperatuur tydens die prosedure te help reguleer.

Foto’s op sosiale media van ʼn gekousde pikkewyn wat ʼn operasie ondergaan, het mense só geweldig aangegryp dat die stigting binne net twee dae ʼn enorme voorraad kouse opgebou het.

(Foto: Sanccob)

Ronnis Daniels, woordvoerder van Sanccob, sê hulle is oorweldig deur die aantal mense wat sokkies geskenk het. “In hierdie stadium het ons beslis genoeg kouse,” het sy gesê.

Sanccob is ʼn niewinsgewende organisasie wat heeltemal afhanklik van skenkings is. Die organisasie is reeds in 1968 op die been gebring en het sedertdien al bykans 100 000 seevoëls behandel.

Hoewel hulle in hierdie stadium die sokkietekort opgelos het, sê Daniels hulle benodig ook tweedehandse duikpakke. Hulle gebruik die arms en bene van die duikpakke as beskermende toerusting om werkers teen voëlbyte te beskerm.

Vir die organisasie se opvoedingsprogramme kan mense papier, skryfbehoeftes en swartsakke skenk.

(Foto: Sanccob)

Die arms en bene van die duikpakke dien as beskermende toerusting vir die seevoëls se versorgers. (Foto: Sanccob)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Voorwaar toegewyde gestuurdes. Mag hulle guns groot wees.
As ‘n leek, ‘n voorstel wat dalk mag, of nie mag werk nie. Die silikon elmbooglengte handskoene wat deur hoogspanningwerkers gebruik word, is redelik geprys en defnitief dik en taai genoeg om ‘n pkkewyn se byt te keer. Dankies een van die elektriese groothandelaars oortuig om ‘n gewaardeerde skenking te maak?
Mag elke leser, ‘n gunsgevulde dag hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.