Solidariteit bekommerd oor gevaarligte in tweepotstelsel

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Solidariteit is bekommerd oor die gejaagde tempo waarteen die Wysigingswetsontwerp oor Pensioenfondse, wat voorsiening maak vir die voorgestelde tweepotstelsel vir pensioenfondse, afgehandel word.

Dié omstrede tweepotstelsel, wat dit vir mense moontlik sal maak om van hul pensioengeld vroeër te bekom, sal na verwagting op 1 September vanjaar in werking tree. Solidariteit glo daar is té min beskikbare tyd om so ʼn omvattende stelsel behoorlik te toets en te ontwikkel, en die vermoede bestaan dat daar nie genoegsame aandag aan die tegniese aspekte in die voorgestelde wysigingswetsontwerp gegee word nie.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit, heers daar veral kommer dat die wysigings in die voorgestelde wysigingswetsontwerp ʼn risiko inhou vir die bewaring van aftreefondsgeld.

“Die vrese bestaan dat mense reeds nie voldoende vir aftrede spaar nie en dat hulle geneig is om hulle pensioengeld wat uitbetaal word wanneer hulle van werk verander, te gebruik. Die voorgestelde tweepotstelsel gaan die proses om pensioengeld vroeër te bekom nou net nóg makliker maak,” sê Croucamp.

Die beskikbaarheid van vroeër bekombare pensioengeld sal volgens Croucamp ʼn negatiewe uitwerking op talle werknemers hê omdat daar nie voorsiening gemaak word om fondse wat vroeg onttrek word weer later op te maak nie.

Verdere uitdagings met en onbeantwoorde vrae oor die stelsel handel oor die belastingimplikasies wat die voorgestelde tweepotstelsel gaan hê.

“Die ANC-regering het aangedui dat hulle van plan is om belastingvoordele uit die toegang tot die spaarpotgedeelte van aftreegeld te verkry. Onttrekkings uit hierdie pot sal teen die individu se marginale belastingkoers belas word, wat moontlik kan lei tot ʼn aansienlike toename in die belastinglas van sommige individue,” sê Croucamp verder.

Die gejaag teen tyd om hierdie veranderinge in werking te stel te midde van geldige onsekerheid en praktiese uitdagings is gevaarligte wat Solidariteit kwel. “Die publiek en Solidariteit-lede word aangemoedig om die implikasies van hierdie veranderinge te bestudeer en hulself goed voor te berei op die komende veranderinge in die pensioenlandskap,” sê Croucamp.

Solidariteit beplan ʼn veldtog om sy lede by te staan met inligting en opleiding om te help verseker dat lede ingeligte besluite oor die aangeleentheid neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

Vroeër jare is mense wat aftree se geld uitbetaal totdat die regering anders besluit het en diesulkes kon besluit of hul dit maandeliks in paaiemente uitbetaal wou hê of later in een som (met rente). Die staat sit met die probleem dat staatsamptenare wat aftree die pensioen nodig het vir noodsaaklike diens wat net uitgestel word of huiskoop. Die staat is nie werklik bekommerd oor werkers se toekoms nie, net die leë staatskoffers sonder slotte.

Martie ·

Onverstaanbaar. ‘n Paar jaar gelede is daar ‘n wet gemaak dat jy nie meer jou pensioengeld kan kry as jy van werk verander nie maar dit net moet laat oorplaas in ‘n fonds, nou kan jy die helfte vat en dit verkwansel. En op 60 of 65 sit jy in die plakkerskamp en wag op ‘n hop huis.

etienne ·

My asdvies, moet nie deel wees van die ” Tweepot stelsel” nie. Dit is net nog n manier van die cANCer, om hulle hande op jou geld te sit. Wees bedag en bly weg. jy ggan SARS betaal op daai geld, en dis die cANCer se hele plan.

DJ ·

Dit gaan tot groot swaarkry in die oudag lei. Moenie aan jou pension geld raak nie. Dit is bedoel vir jou oudag

Marina ·

Dis groot fout ! As jonk is kan daar Ander uitkomste gemaak word maar as oud is jy min kans om Ander planne te maak! Sjoe plaas hul eerder wet maak dat elke werkgewer verplig word om sy werkers aan pensioenfonds te behoort klaar premie af te trek van salaris en oorbetaal aan pensioen fonds!! Baie mense het nie die self dissipline en as jonk is dink jy nie aan pensioen nie!!

SjN ·

Net nog n kader flop om jong mense toegang te gee tot geld wat bedoel is vir die oudag en die belastingbetaler sal weer moet help.

SwartBees ·

@Marina.
Ek stem 100% saam met die stelling wat jy maak. Daar behoort n wet te wees waar die werkgewer en die werknemer saam betaal aan n afree fonds.

Daar is net een party wat gaan baat by die tweepot stelsel en dit is nie die eienaar van die geld nie.

Pieter ·

gister het ons links gegaan, vandag moet ons weer regs. Ek werk en ek spaar. Hoekom moet ek nou nog VRA vir my geld waarvoor ek werk. Dis darem maar baie russies lol.
Baie KFC gaan gekoop word… Check al die nuwe slap karre en al daai geld gaan uit die land. Daar is nie meer geld, so nou begin hulle die tendens om die ekonomie aan die gang te probeer hou. Of koop hulle nou weer stemme?
Ek wonder nogal wat sal gebeur as al die staatswerkers hulle CAP belastingvry op een slag vat. Sal dit kan gebeur? Hoe sal soveel geld uit, die markte affekteer?

Casper ·

Dit is baie onverantwoordelik om van jou pensiongeld te onttrekEk het al my pensiongeld by GEPF onttrek en belê en kry nou ‘n maandelikse pension.Los jou geld in die pensionfonds,jy sal nie spyt wees nie.Staatsamptenare kry behuisings en mediese subsidies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.