Solidariteit doen stappe om medici te beveilig

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Solidariteit se beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns het Woensdag sy vyfpuntplan bekend gestel om aandag te gee aan geweld teen gesondheidspraktisyns. Dit volg nadat ʼn mediese dokter Dinsdag by ʼn private hospitaal in Durban in KwaZulu-Natal deur ʼn pasiënt se familielid aangeval is.

Maroela Media het vroeër berig die familielid het die dokter glo vir die pasiënt se dood aanspreeklik gehou. Die dokter het beserings aan haar gesig opgedoen, waarvoor sy in die hospitaal se waakeenheid behandel is.

Henru Krüger, sektorhoof van Solidariteit se beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns, sê hierdie soort aanvalle is afgryslik en onaanvaarbaar. Krüger sê die dokters moet in sommige gevalle selfs die oortreders behandel.

“Dokters leef in vrees vir hul lewe en word gereeld gedreig met fisieke geweld waarby messe en vuurwapens betrokke is,” sê Krüger. “Gevalle is selfs aangeteken waar vrouepraktisyns amper verkrag is.”

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het ook gesê hy is bekommerd oor ’n toename in aanrandings en die algehele veiligheid van dokters en mediese personeel in hospitale.

Kruger sê gesondheidspersoneel kla veral dat hospitaalowerhede en -bestuur nie altyd daadwerklik en ferm teenoor oortreders optree nie.

Volgens Krüger moet die veiligheid van gesondheidspraktisyns as prioriteit gestel word. Daarom het die beroepsgilde die vyfpuntplan bekendgestel as strategie om mediese personeel se veiligheid ten alle tye te verseker.

Die plan het ten doel om:

  1. Gesondheidspraktisyns volledig in te lig oor hul regte in verband met beroepsveiligheid;
  1. Gesondheidspraktisyns in te lig oor watter stappe gedoen kan word om griewe te lug in gevalle waar hul regte met betrekking tot beroepsveiligheid misken word;
  1. ʼn Kanaal daar te stel waardeur gesondheidspraktisyns met die beroepsgilde kan skakel vir bystand in gevalle van misbruik;
  1. Opleiding te verskaf en raad te bied rakende persoonlike veiligheid by die werkplek;
  1. Algemene bystand te verleen in gevalle waar gesondheidspraktisyns ondersteuning benodig na aanleiding van voorvalle wat hulle oorweldig en sonder hoop gelaat het.

“Gesondheidspraktisyns is ʼn nasionale bate. Hulle moet gekoester word. Solidariteit se beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns sal uitvoering gee aan sy vyfpuntplan ten einde te verseker dat ons mediese personeel vry, veilig en voorspoedig in hul werkplekke kan funksioneer,” het Krüger bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nie Verbaas ·

Plan is goed en wel maar dit gaan nie help wanneer hulle aangeval word nie. Hospitale moet beveilig word sodat aanvalle glad nie voorkom nie.

Maria ·

CCTV en persoonlike kameras. ‘n weggesteekte kamera aan jou lyf wat jy kan aktiveer is iets wat ek sal waardeer vir myself

Yolandie ·

Baie hartseer dat on mediese dokters so onveilig in hulle werksplek is. In ander werksplekke is dit die werkgewer se verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle personeel veilig is. Oorsee dra polisiebeamptes kameras op hul person, weet nie of mense al gesien het hoe die kamera lyk nie. Maar ek glo dit sal nogal baie effektief wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.