Solidariteit kap ongrondwetlikheid van NGV in brief aan Ramaphosa

(Foto: Unsplash)

Solidariteit betwis die wetlikheid van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in ʼn dringende betoog wat vandeesweek aan pres. Cyril Ramaphosa gerig is.

Die betoog benadruk dat die inwerkingstelling van die NGV nie behoorlik in die wetsontwerp uiteengesit word nie en toon aan hoe versuim is om die bekostigbaarheid van die NGV te bewys.

Hierdie leemtes laat vrae ontstaan oor die wettigheid van die proses omdat prosedures oënskynlik nie korrek gevolg is tydens die stemprosesse oor die wetsontwerp in die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies nie.

“Solidariteit rig sy betoog aan die president namens lede, die gemeenskap en die breë publiek as die belangegroepe wat hy verteenwoordig. Die doel daarvan is om die president te versoek om die NGV-wetsontwerp ernstig te heroorweeg,” het Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê.

Solidariteit meen die NGV-wetsontwerp moet ook as “onwettig” beskou word omdat die korrekte prosedures wat vir die indiening van finansiële wette geld, verontagsaam is.

“Die NGV-wetsontwerp is ʼn finansiële wetsontwerp aangesien dit belastingvoorstelle maak. Dit móés dus volgens die Grondwet deur die tesourie en minister van finansies aan die parlement voorgelê gewees het. Hierdie proses is egter nie gevolg nie en die wetgewende proses is dus ongeldig,” sê Du Buisson.

Die staat het volgens Du Buisson ook versuim om bewyse te lewer dat die NGV-wetsontwerp vir die belastingbetaler bekostigbaar is. Dié proses word ook as ʼn grondwetlike vereiste beskou.

Solidariteit het gevolglik ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om van die wetsontwerp af te sien en eerder die bestaande openbare gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika as ʼn saak van dringendheid te verbeter.

Die president is ook versoek om aandag te gee aan bestaande regulasies waarvolgens lidmaatskap van mediese fondse goedkoper gemaak kan word sodat meer mense daarby kan aansluit.

Solidariteit het vroeër al aangedui hy sal die NGV tot in die hoogste hof beveg sou Ramaphosa wél die wetsontwerp onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KwaaiRooikop ·

Maar nou verstaan ek nie… As dit dan onwettig is, hoekom moet die president gesmeek en by gepleit word om dit tog asb net nie te doen nie…? Onwettig is mos onwettig en klaar. Duidelik nie…

capie ·

Kyk nou mooi wat gaan nou gebeur. Ramaphosa teken die wet net voor die verkiesing en Solidariteit / Afriforum en belanghebbendes probeer dit keer deur hof toe te gaan. Dit pas die rigime baie goed. Nou het hulle verkiesings propeganda wat sê die apartheids vegters probeer keer dat die armes nie mediese hulp kan kry nie. Nie dat hulle dit ooit nodig sal hê nie. Hulle sal in elk geval nooit ‘n verkiesing “verloor” nie.

Althes ·

Dankie Solidariteit vir jul voortgesette deusettingsvermoë. Julle is ysters!
Jul maak ñ groot verskil in die gewone Suid-Afrikaner se lewe.

skurweberg ·

Al wat die regering weet is dat die NGV vir die belastingbetaler wat nou verdien in ‘n groot mate bekostigbaar is en die wat nie-betalers is wat werkloos is vir die hier en die nou onbekostigbaar. Hoe kry jy die skaal gebalenseer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.