Solidariteit maak stem dik teen ArcelorMittal se rasgebaseerde aandeleskema

Arcelormittal se aanleg in Vereeniging Foto: arcelormittalsa.com

Arcelormittal se aanleg in Vereeniging Foto: arcelormittalsa.com

Die vakbond Solidariteit sal namens sy lede beswaar maak teen ArcelorMittal se Ikageng- aandeleskema vir werkers wat Vrydag deur die maatskappy se aandeelhouers goedgekeur is. Die vakbond, wat namens sy lede ʼn grief by die maatskappy gaan indien, meen die skema diskrimineer teen wit mense aangesien aandele op grond van werknemers se ras aan hulle toegeken word.

Volgens Marius Croucamp, hoof van die metaal- en ingenieursbedryf by Solidariteit, behels die skema dat swart begunstigdes 15% meer in opbrengste verdien as nie-aangewese begunstigdes. Voorts maak die skema daarvoor voorsiening dat persone wat nuut aangestel word, bloot op grond van hul ras vir aandele kwalifiseer. Om sake te vererger sal bykomende aandele aan swart werknemers toegeken word om te verseker dat die skema aan die vereistes van breë swart ekonomiese bemagtiging voldoen.

“Ons lede voel ontmoedig deur die diskriminerende wyse waarop hierdie aandele aan werknemers van ArcelorMittal toegeken word. Aandeleskemas is veronderstel om lojale werkers vir hul jare diens en harde werk te beloon. Dit is daarom onregverdig om aan ʼn werknemer – wat nuut aangestel is – bloot op grond van sy ras aandele te gee. Ons meen die aandele moet op grond van meriete, ongeag ras, aan werkers toegeken word,” sê Croucamp.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, meen hoewel die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) werkgewers toelaat om aandele spesifiek aan swart werknemers toe te ken, die Wet op Diensbillikheid nie daarvoor voorsiening maak nie. “Hoewel ArcelorMittal kragtens die Wet op SEB aan swart werknemers aandele soos hierbo uiteengesit is, mag toeken, bepaal die Wet op Diensbillikheid dat daar nie in die proses teen enige werknemer gediskrimineer mag word nie. Die genoemde stukke wetgewing weerspreek mekaar dus,” verduidelik Groenewald.

“Ons is van mening dat die maatskappy onbillik teen wit werknemers diskrimineer ten opsigte van die genoemde aandeleskema en dat dit teen die beginsels van die Wet op Diensbillikheid indruis,” sê Groenewald.

Solidariteit-lede by ArcelorMittal is tans besig om die grief te onderteken, waarna dit by die werkgewer ingedien sal word. Indien die grief nie binne 33 dae intern opgelos kan word nie, sal Solidariteit ʼn geskil na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KBVA) verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Strike en maak die plek toe Die aandele klink vir my na ‘n tipe van vergoeding sodra mense afbetaal word sodra Mittal “Shop Close”

Pierre Celliers ·

Aanvaar dit so, want daar is niks wat enigiemand kan doen om dit anders te laat verloop nie!!!
Ons skop net teen die prikkels met ons pogings!!! Moedig en heldhaftig, maar dis al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.