Solidariteit ondersoek ‘slim manier’ van afsondering

flip-buys-tweede-groot-trek-02

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. (Foto: Reint Dykema)

Talle Suid-Afrikaners is paniekerig oor hul werk en inkomste, sou die landwye algehele afsondering met maande verleng word om die verspreiding van die nuwe koronavirus hok te slaan. Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid ondersoek nou maniere waarop sekere beroepe op ’n gesonde manier kan voortgaan met werk gedurende afsondering. Dít sonder om lewens in gedrang te bring te midde van die Covid-19-pandemie.

Solidariteit doen ook ’n beroep op lesers om teen Woensdag hul voorstelle in te dien oor hoe daar in hul betrokke beroepe gesond gewerk kan word, sou die afsondering met maande verleng word. Voorstelle kan tot Woensdag aan die einde van die werksdag hier ingedien word.

“Gesonde werk is ’n voorwaarde vir volhoubare gesondheid,” verduidelik Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Maandag aan Maroela Media. “Die harde werklikheid is dat dit vir baie mense gesonder gaan wees om te werk as wat hulle afgesonder by die huis sit en verhonger.

“Ons wil dus metodes van slim afsondering ondersoek. ’n Dom afsondering is wanneer almal ingeperk word ongeag of hulle veilig kan werk. Sou dié dom manier verleng word, sal dit die gevolge van die pandemie bloot vererger aangesien mense van die honger sal omkom.”

Volgens Buys kan die moontlikheid van gesonde werk egter slegs ingestel word indien lewens hoegenaamd nie in gedrang geplaas word ten koste van die ekonomie nie. Hy glo wel dat dit nie bloot die een óf die ander hoef te wees nie – daar moet bloot slim met ’n algehele afsondering omgegaan word, verduidelik hy.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die moontlikhede word nou ondersoek om werknemers onder meer op verskillende tye te laat werk om sodoende nie in aanraking met mekaar te laat kom nie. Daar word ook ondersoek of beskermende toerusting soos maskers en handskoene bloot gebruik kan word en of afstand tussen werknemers te alle tye by ’n werksplek gehandhaaf moet word.

Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid kyk ook na internasionale praktyke van gesonde werk te midde van ’n pandemie. Dié praktyke word reeds in Singapoer, Japan, Suid-Korea, Kanada, Swede en Duitsland uitgevoer.

“Almal se werksomstandighede verskil egter en in party beroepe sal dit nie moontlik wees om gesonde werk in te stel nie,” verduidelik Buys.

Lesers se voorstelle sal binnekort saam met Solidariteit se eie bevindinge aan die regering deurgegee word vir oorweging.

Voorstelle

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, glo dit is van die uiterste belang dat lede van die publiek hul voorstelle indien oor hoe ’n afsondering ná die aanvanklike tydperk van 21 dae behoort te lyk. “Ons kan dit nie aan die regering oorlaat om al die planne vir ons te maak of toelaat dat net die regering bepaal hoe ons moet lewe nie. Ons moet vir onsself dink. Ons kry ook die indruk dat die regering ander se insette wil verkry,” verduidelik hy.

dr-dirk-hermann-blf-konferensie-2019-02-14

Dr. Dirk Hermann is die bestuurhoof van  Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Volgens Hermann het Solidariteit reeds sowat 1 100 voorstelle ontvang, maar wil die organisasie graag 10 000 voorstelle ontvang. Dit sal verwerk word en in die vorm van ’n dokument oor die naweek aan pres. Cyril Ramaphosa gerig word. Die dokument sal ook voorgestelde regulasies vir die president se oorweging bied.

“Dit is nou die tyd om oorspronklike en vindingryke planne te beraam en ’n nuwe manier van gesonde werk in te stel,” meen Buys.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Die is die eerste en mees sinvolle artikel wat die afgelope tyd geplaas is. Dankie.

Schalk N ·

Met al ons rasse skrede gaan dit bitter moelik wees om te bepaal watter klein besighede gaan geoorloof word om weer hulle deure oop te maak. Kom ons vat n haar salon as voorbeeld: In n winkel sentrum sal dit reg wees mits die kliënt en haarkapster sy/haar masker en handskoene dra soos vereis word. Ongelukkig gaan die persoon wat hare sny op straat nie sy besigheid kan doen nie.

Leeuwyfie ·

My huishulp sal graag van haar huis af werk.
Ons sal ook ons staalkonstruksie oor skype doen. Ten minste sal die kliënt ‘n goeie 3d model daarvan kry. (Net ‘n grappie)
Daar is net party goed wat nie so gedoen kan word nie.
Wat ‘n innoverende voorstel van solidariteit. Ek kan nie wag om te sien hoeveel goeie idees hieruit kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.