Solidariteit seëvier met afskaffing van aanstellingsbeleid

Konstitusionele hof van Suid-Afrika (Foto: Stefan Schäfer, Lich – eie werk,via Wikemedia Commons)

Die konstitusionele hof het Donderdag in sy uitspraak oor Saripa se aanstellingsbeleid vir likwidateurs beslis dat dié beleid, wat op 7 Februarie 2014 deur die minister van justisie en die meester van die hooggeregshof ingestel is, nie in staat is om redelike gelykheid in die beroep te bevorder nie. Die meerderheidsuitspraak van die konstitusionele hof het die departement van justisie se appèl met koste van die hand gewys.

“Vandag se gunstige uitspraak volg nadat die minister van justisie en die meester van die hooggeregshof by die konstitusionele hof appèl aangeteken het teen ʼn beslissing van die appèlhof in 2017,” het Anton van der Bijl, die hoof van Solidariteit se Arbeidsreg-afdeling, gesê.

Volgens hom het sowel die Wes-Kaapse hooggeregshof as die appèlhof in die guns van Solidariteit en Saripa beslis, nadat albei howe dié aanstellingsbeleid as ongrondwetlik verklaar het.

“Vandag se uitspraak bevestig die argumente wat ons regdeur die saak aangevoer het. Dit is onder meer dat die beleid naakte rassisme daarstel wat op geen basis regverdigbaar is nie. Dit is jammerlik dat ons al hoe meer gekonfronteer word met die soort rasse-segregasie wat ongesond is, veral in ʼn land wat so iets op soveel vlakke nie kan bekostig nie,” het Van der Bijl bygevoeg.

Volgens hom het die aanstellingsbeleid bepaal dat die indiensneming van likwidateurs uitsluitlik op grond van ras en geslag moet geskied. “Die beleid wat daarop gemik was om ras- en geslagsverteenwoordiging in dié beroep te bevorder, kom eintlik neer op ontoelaatbare en ongrondwetlike kwotas wat deur die Grondwet verbied word.”

Volgens die omstrede aanstellingsbeleid moes 40% van alle aanstellings aan swart, bruin, Indiër- en Chinese vroue toegeken word; gevolg deur 30% aan swart, bruin, Indiër- en Chinese mans; 20% aan wit vroue, terwyl slegs 10% van alle aanstellings vir wit mans gereseveer is. “Die beleid is in teenstelling met ʼn meer omvattende en genuanseerde benadering wat gegrond is op meriete en opleiding. Die rasbehepte benadering werk rassespanning in die hand wat nie in die belang van die land en sy burgers is nie.

“Hierdie uitspraak is geskiedkundig in die sin dat dit vir ons die weg baan om die streng en uitsluitende toepassing van beleid en praktyke wat met regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging te make het en wat ongelukkig die norm geword het, finaal die nekslag te kan toedien. Ons en ons kinders verdien ʼn land waarin ʼn mens se waarde op meriete oorweeg moet word en nie op grond van ʼn persoon se velkleur nie,” het Van der Bijl saamgevat.

Om die volledige uitspraak te lees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

HP ·

Hip hip hoera……

Geluk Solidariteit! Julle bly wenners!

DANKIE vir julle deursettings vermoe!

Callie ·

Wittes sal altyd met wette uitgehou word. As daar op meriete poste gevul moet word gaan die verkeerdes volgens die beleid die werk kry. Regering sal dit nooit toestaan.

Stem ·

Ek wens ook Solidariteit geluk met sy oorwinning maar die ANC is nie so stupid nie, hulle plaas hulle kaders in die HR posisies om seker te maak dat net anderskleuriges aangestel word. Wette of nie wette nie, hulle sal verseker dat minderhede NOOIT weer ordentlike poste en salarisse en verhogings en bevorderings kry nie …

Christa J ·

Dankie Solidariteit, julle doen en beteken veel meer vir die land as wat die amptelike opposisie kan droom om te doen. Wel gedaan.

resep ·

nou hoe grondwetlik is dit grondwethof se beslissing dat vuurwapens ingehandig moer word vir vernietiging nadat die vuurwapen lisensie verval het. tv’s voertuie en besighede moet nie ingehandig word vir vernietiging omdat hulle eienaars willens en wetens nie lisensies wat elke jaar hernieu moet word, hernieu het nie. wie baklei vir sie wapen eienaars?

Nou ja toe ·

‘n Uitspraak vd hoogste hof in die land, kyk bietjie hoe begin dit waar die partye gelys word, vol spelfoute. Practitioners en vereniging verkeerd gespel. Ek sidder om te dink aan die res vd dokument. Ek sal teen ‘n nominale fooitjie die hof se uitsprake vir hulle korrigeer. Dis eintlik lagwekkend …

Jerry ·

Die saak ontbloot maar net weereens die realiteite by die werksplekke dat dit al vir jare die tendens is dat as jy nie swart is nie word jy uitgesluit, of die wet so se of nie, punt (there are too many ways to kill a cat met die interpretasie van menslike hulpbronne beleid gesteun deur transformasie vir swartbevoorregting). Jy help miskien tien witmense uit n honderd duisend. Die eintlike punt is dat die uitsluiting van Solidariteitslede die saak vir n eie beloofde land en selfbeskikking nog verder versterk. Die gebeure is net nog skietgoed vir Solidariteit wat gebruik kan word om te beding vir n eie beloofde land met selfbeskikking? Met die hoeveelheid skietgoed wat Solidariteit alreeds in sy arsenaal het is dit eintlik onverstaanbaar dat hulle nog nie n eie beloofde land vir hulle lede beding het nie. Ek meen, hoeveel skietgoed wil jy eers bymekaar maak, dit is soos, hoeveel geld wil jy eers maak voordat jy dit begin gebruik! Die beloofde land storie begin al soos n rot te ruik!

Thinus Erasmus ·

Ai Jerry, hoe nou met jou. Ek verstaan jy glo die Afrikaner se enigste uitkoms is onder CR se vlerk te probeer inkruip, nou verwyt jy Solidariteit oor hul nog nie begin het met “beloofde land” nie?
Lyk my erens is daar ‘n dun draadjie en jy sit op hom!

Henk du Toit ·

Whopeee! Yaaaay! En ons regeerders gaan maar net die uitspraak as toiletpapier gebruik. Die post-waarheid sal seevier en so klink;”Lesotho se minister van hawens, ‘n sterk sangoma het vanoggend bevestig dat die rassistiese wittes die uitslag getoor het en daarom kan ons dit maar ignoreer.” Ek is oortuig daarvan dat Lesotho ‘n minister van hawens het, verregaande miskien maar nie naastenby so verregaande as die mite dat almal in SA gelyk is voor die reg nie. Sal ons agbare direkteur van openbare vervolging asb opstaan? Oeps ekt vergeet dis Vrydag, die vroee skof het al getjaila en die laatkommers sal dalk later net kom inloer.

Anita ·

veels geluk solidariteit, mag hierdie oorwinning ook op ander werksituasies van pas word in die toekoms

Cherie ·

Party opinies hier oor die uitspraak is lagwekkend of getuig van kleinkoppie-sindroom wat maak dat elke stukkie positief wat in die land gebeur doodgepráát word met pessimisme en ongeloof. So mens moenie ooit verwag hy sal iets goeds kry nie!
#SuperGatvolvirdoodsprekers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.