Solidariteit ‘swaai só digitale beroepsdeure oop na die toekoms’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Foto: Solidariteit)

Solidariteit swaai vandag die digitale deure na die toekoms wawyd oop met die bekendstelling van sy splinternuwe Afrikaanse aanlyn netwerkplatform wat op opleiding en werk fokus.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan Solidariteit-lidmaatskap sy lede voortaan in die middel van hierdie aanlyn arena plaas – en beslis nie nét as toeskouer nie.

“Bestaande én nuwe Solidariteit-lidmaatskap word van nou af ʼn sleutel tot hierdie digitale bymekaarkomplek. By die bymekaarkomplek word leerders, onderwysers, studente of werksoekers, werknemers en werkgewers almal in een fynbeplande netwerk saamgebind,” het Hermann vandag tydens die bekendstelling van die platform gesê.

Selfs nie-lede kan gratis profiele skep om deur die venster te loer om te sien hoe die volledige aanbod van lidmaatskap lyk.

“Deur hierdie aanlyn gemeenskap word geleenthede ontsluit en mense in staat gestel om mekáár te help en te ondersteun. Só word Solidariteit se beginsel van #ElkeenHelpEen nou op sy heel beste uitgebeeld.”

Volgens Hermann kan Afrikaanse gemeenskappe danksy hierdie soort innovering die juk afskud van die regering wat hulle al vir so lank toegang tot werk ontsê en hulle probeer onderdruk.

“Dit is ʼn veeldoelige, moderne platform wat eenvoudig onder die naam “Solidariteit” bekend sal staan. Dit is egter veel, veel meer as dit, en ʼn bevrydende bewys daarvan dat ons nie van die regering afhanklik is om te kan werk nie.”

Hermann sê dit kan ook beskou word as ʼn tydige teenvoeter wat intree juis wanneer die regering mense, en spesifiek Afrikanermense, wil uitskop.

“Ons gaan beslis nie deur die regering van werk weerhou word nie. In hierdie nuutgeskepte digitale gemeenskap verseker ons dat almal wat wíl werk, die geleentheid kry om te kán werk.

“Ons wil só toesien dat almal hul volle potensiaal bereik. Dit is ons doelwit.”

Die totstandkoming van die aanlyn netwerk is die gevolg van jare lange visualisering, beplanning en bou.

Lede gaan nou individuele profiele op Solidariteit kan skep waar slimtegnologie gebruik word om verpersoonlikte oplossings vir elkeen te vind – of jy wil leer, studeer, werk of werf.

Vanaf die besoekersportaal op Solidariteit se webwerf kan verskeie deure oopgemaak word:

  • Leerders: Hulp aan hoërskoolleerders in die vorm van omvattende e-leerkursusse vir elke graad, toegang tot ʼn omvangryke vakkeuse-videoportaal en verskeie loopbaanvoorligting-hulpmiddels.
  • Studente: Geleenthede vir skaduwerk en internskappe, asook inligting oor en skakels na opleidingsinstellings as vennote – Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding en die opleidingsinstituut onder Solidariteit Helpende Hand.
  • Voortgesette leer: Die wêreld se grootste aanlyn aanbod van Afrikaanse leerkursusse vir voortgesette leer wat tot werknemers se beskikking is.
  • Werkfasilitering: Toegang tot ʼn werksoekportaal van wêreldgehalte waar mense werk kan soek wat wissel van voltydse tot tydelike werk of internskappe. Organisasies kan ook poste hier gratis adverteer.
  • Beroepsnetwerke: Toegang tot beroepspesifieke groepe waar werkgewers en werknemers gesprek voer oor geleenthede, oor die beroep sélf, en oor die organisering en beskerming daarvan.
  • Werkbeskerming: Solidariteit bied nou selfs vinniger toegang tot persoonlike beskerming van werk en inkomste, en tot relevante regsdienste. Lede met hangende sake sal binnekort ook die bepaalde vordering met hul sake op die platform kan dophou en sal weet wanneer die saak afgehandel is.

“Solidariteit is immers lankal nie meer nét ʼn vakbond nie. Die ontstaan en uitbreiding van verskeie instellings van leer en werk het sy aanbod oor die jare aansienlik uitgebrei,” sê Hermann.

“Die koms van hierdie aanlyn platform gaan hierdie uiteenlopende aanbod onder net een handelsnaam byeenbring – Solidariteit.”

Lede gaan kan werk soek óf werk aanbied, asook vaardighede kan uitbrei of ontwikkel. Ook word dit ʼn betroubare en veilige tuiste vir beroepsgemeenskappe deur die vestiging van die beroepsnetwerke – ook as ʼn persoonlike waghond vir jou beroep, in die hartjie van hierdie aanlyn gemeenskap.

Hermann sê die bekendstelling van die platform is ʼn belangrike en trotse oomblik vir Solidariteit.

“Danksy die gebruik van tegnologie word gemeenskappe nou toegerus om meer as net te droom van ʼn mooi toekoms vir ons, en veral vir ons kinders.

“Werkbeskerming, soos wat die Solidariteit-vakbond nog altyd gebied het, bly steeds ʼn kernelement van hierdie aanbod – die hart van Solidariteit. Tog span ons nou die net duidelik veel wyer. Ons het immers gesê ‘as ons onseker voel oor die toekoms, dan bóú ons dit self’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Mens kan net dankie se dat Solidariteit en AfriForum bestaan, of die ANC sou kon doen net wat hulle wil in die land.

annie ·

So, ons kinders moet ná jul opleiding skelm werk doen vir maatskappye wat ook bereid is om skelm te wees en salarisse verdien envooj nie belasting betaal nie want hulle sal dan uitgevang word. Ons hoop Hermann sal hul tronkstraf vir hulle gaan uitdien.

Jaco ·

Hoe kom Sol-Tech en Akademia verby regstellende aksie en BEE? Wetgewing sê as ‘n besigheid se aantal personeel ‘n sekere getal oorskry en as die finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, móét regstellende aksie toegepas word. Alles goed en wel vir Sol-Tech en Akademia nou, maar wat van oor 5 of 10 jaar?

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons sal nie weet wat word agter toe deure bespreek nie.

Alida ·

Akademia en Sol-tech is mos opvoedkundige instansies, nie besighede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.