Solidariteit wil dringend oor Vergoedingsfonds vergader

Thulas Nxesi (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Solidariteit het ʼn dringende vergadering met Thulas Nxesi, die minister van indiensneming en arbeid, en Thobile Lamati, die direkteur-generaal van die departement van arbeid, aangevra om die gebrek aan dienslewering wat by die Vergoedingsfonds ondervind word, te takel.

“Die fonds se bedrywighede het die afgelope paar maande tot ʼn algehele stilstand gekom. Hierdie toedrag van sake het ontstaan toe ʼn nuwe rekenaarstelsel in September 2019 ingestel is,” het adv. Hanlie van Vuuren, Solidariteit se hoof van beroepsgesondheid en -veiligheid, gesê. Werknemers en belanghebbendes ontvang nie die diens wat aan hulle verskuldig is van die Fonds nie, het sy bygevoeg.

Solidariteit help en verteenwoordig verskeie werknemers wat in die loop en uitvoering van hul pligte beseer is en wie se eise binne die bestek van die Vergoedingsfonds val.

“Wat selfs meer kommerwekkend is, is dat die stelsel nou, ongeveer ses maande later, steeds nie in werking is nie en navrae wat aan die Fonds gerig word steeds onsuksesvol is. Op die oomblik het nie eens personeellede van die Vergoedingsfonds toegang tot die stelsel nie,” het Van Vuuren vervolg. “Weens hierdie benarde situasie kan nuwe eise nie geregistreer word nie, werknemers kan nie betaal word vir tydperke van afwesigheid nie en dokters kan nie nuwe pasiënte behandel nie omdat geen nuwe eisnommers beskikbaar is nie. Betalings kan ook nie verwerk word nie.”

Daar rus ʼn regsverpligting op werkgewers om vergoeding vir verlies aan inkomste vir tot ʼn maksimum tydperk van drie maande te betaal. “Dit is die werknemers wat nou ly. Die tydperk van drie maande is lank reeds verstreke en werkers sit sonder inkomste,” het Van Vuuren verduidelik.

Vergoeding val ingevolge die Wet op Vergoeding binne die bestek van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. “Versuim om statutêre pligte na behore uit te voer, sal daartoe lei dat Solidariteit hom tot alle beskikbare regsmiddele sal wend, insluitend om die howe, die Menseregtekommissie en die openbare beskermer te nader.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jakes ·

Hierdie toedrag van sake is niks ongewoon nie gegewe die algemene toestand van skae in die land. Ek sal ook nie verbaas wees as daar groot finansiele ongerymdhede daar gevind word nie.

Karen ·

Ek wag al 10 jaar vir my eis om afgehandel te word. Dis nie nét oor ‘n nuwe stelsel nie

antieke antie ·

ek was beseer aan diens in die staat …social development…. my saak is nie reg hanteer nie…. die vrou in die kaap se reguit sy besluit oor alles en alle klagtes gaan deur haar en sy sal besluit as jy kla of jou saak heroorweeg word….n baie duidelike boodskap dat my saak nie heroorweeg sal word nie… sy het erken sy het geen mediese kennis nie en sy het ook nie alle verslae in ag geneem oor my ongeskikheid nie…geen dr sal vir haar se ek is ongeskik nie….sy sal daaroor besluit. my saak is toegemaak en ‘afgehandel’ met n belaglike bedrag en nou is ek op my eie… selfs die verslae van Tygerberg Hospitaal se dr [wat nie regtig wil verslae gee nie want hulle kan niks doen om my te help of te kan verbeter nie ….dit was n spesialis wat my behandel het ….. OT het my totaal ongeskikverklaar] maar niemand help my nie en ek het nie geld vir privaat nie… en ek glo die persoon daar is nie bevoeg nie… daar is baie groot fout

Nie Verbaas ·

Ek wonder hoeveel van die maters sal dit maak as hul bevoegdheid ge-evalueer moet word. Ons gaan le soos ons lag.

fs ·

‘n Dame wat ek ken is onlangs beseer aan diens, sy is vervoer na die naaste mediese fasiliteit – bekende mediese praktyk. Daar is sy egter ingelig dat die praktyk glad nie meer besering aan diens gevalle aanvaar nie aangesien die praktyk in maande nie betaal is deur die vergoeding fonds. Die dame is verwys na die naaste “publike hospital”. Die dame het geweier aangesien die naaste publieke hospitaal ‘n baie slegte reputasie het en ook onlangs in die nuus was daaroor. Die dame het dus haar werkgewer ingelig en die het haar aanbeveel om dit dan eerder deur haar mediese fonds te sit en nie aan te dui dat sy by die werk beseer is. Ek werk in die mediese industrie en dit is BEDROG!!! Gaan die vergoeding kommissaris wag tot geen private instansie meer die beseerde werkgewer wil behandel en tot daar ‘n paar mense doodgaan aangesien die staat instansies nie die sorg kan verskaf vir ernstige beseerdes soos tans in die privaat sector? Ek sien nog ‘n Life Esidimeni storie kom !!! HELP CR!

fs ·

Privaat sektor dokters en spesialiste weier reeds om besering aan diens gevalle te behandel omdat daar geen betalings kom vanaf Sept 2019. Mense verloor hul werk as gevolg hiervan want dokters kan hul nie meer bekostig nie!!! Die stelsel van kommissaris werk nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.