Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat hy Dinsdagaand laat, etlike minute voor die spertyd sou verstryk, beëdigde verklarings van die SAUK se Sebolelo Ditlhakanyane en Simon Tebele ontvang het.
Dit volg nadat die arbeidshof op 26 Julie 2016 beveel het dat dié twee SAUK-bestuurslede binne vyf dae redes moes aanvoer waarom hulle nie in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir die regskostes van Solidariteit en die vier SAUK-werknemers in hul saak teen die SAUK nie.
Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, word daar in die beëdigde verklarings gestel dat Simon Tebele die besluit geneem het om die joernaliste af te dank, maar geen behoorlike verduideliking word gegee oor hoekom die besluit in die eerste plek geneem is nie. “In plaas daarvan om direkte en pertinente bewyse voor die hof te plaas, word daar in die beëdigde verklarings baie vae beweringe gemaak. Die hof se bevel is duidelik. Daar moet redes gegee word waarom die besluit om voort te gaan met die afdanking van die joernaliste terwyl daar hangende litigasie was, nie op roekelose minagting van die hof en sy prosedures neerkom nie,” het Van der Bijl verduidelik.
Volgens Van der Bijl word Jimmy Matthews, die SAUK se voormalige waarnemende groephoof, verder as die sondebok vir die aanvanklike skorsing van drie van die joernaliste voorgehou. “Dit is betreurenswaardig dat die individue nie besluit het om die publiek en die howe in hul vertroue te neem en pertinente redes aan te voer hoekom daar besluit is om die joernaliste af te dank terwyl ’n ondersoek aan die gang was nie,” het Van der Bijl gesê.
“Solidariteit sal voortgaan met sy hofaansoek om die verantwoordelike SAUK-amptenare aanspreeklik te hou vir elke sent wat aan die onnodige hofsaak gespandeer is.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Nòg ‘n sterretjie vir julle, Solidariteit. Ek wens daar was ‘n politieke party geregistreer waarvolgens ek vandag vir julle kon stem.
Gaan vir goud Solidariteit!!Dit het tyd geword dat amptenare wat hulle aan sulke wangdrag en onregmatige optredes SELF aan die pen moet ry en nie die instansie vir hy/sy werk nie.Gee hulle gas!
Kan nie help om te glimlag as ek dit lees. Maak n goeie groot voorbeeld dankie
En dis nou van ‘n instansie wat nog net genoeg geld het om salarisse te betaal tot September….
‘n Kostebevel teen die betrokke beamptes sal hopenlik ‘n boodskap uitstuur aan ander staatsamptenare wat roekeloos omgaan met die reg en hulle verantwoordelikhede dat daar in die toekoms finansiële gevolge vir hulle sal wees.