Sonkarre gerat vir 2 500 km na Kaapstad

Die Sasol Solar Challenge is van 9 tot 16 September 2022 terug op Suid-Afrikaanse paaie. (Foto: Sasol Solar Challenge/Facebook)

Die Sasol Solar Challenge is van 9 tot 16 September terug op Suid-Afrikaanse paaie en vanjaar durf Suid-Afrikaanse, Belgiese en Nederlandse spanne die bykans 2 500 km van Johannesburg na Kaapstad aan.

“Dit is opwindend om te weet dat ons weer saam met die wêreld se mees talentvolle ingenieurs kan reis,” sê Robert Walker, eienaar en direkteur van die Sasol Solar Challenge.

“Hierdie kompetisie is ʼn gulde geleentheid vir die ingenieurs om hulle vernuf met van die voorste tegnologieë ten toon te stel.”

Die agt spanne wat vanjaar om die wenplek meeding, is SolarFlair (Suid-Afrika) met die SolarFlair SP 400, Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) met die SunChaser IV, Universiteit van die Vrystaat (UV) met Lengau, Genuine JV Solar Car Team (SA) met die Voltwagen, Noordwes-Universiteit met die Naledi 2.0, UniChamps Solar Car Team (Universiteit van Suid-Afrika) met die UniSolar, Brunel Solar Team (Nederland) met die Nuna11S, en Agoria Solar Team (België) met die BluePoint Atlas. Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie: Seilatsatsi (CUT), met Ntsu, die negende span wat vanjaar sou deelneem, het intussen aan die resies onttrek.

Op 9 September het die spanne met hul sonkrag-aangedrewe motors by Carnival City weggespring met een doel voor oë: om op 16 September eerste oor die wenstreep by die V&A Waterfront te snel.

Die 2022-roete van Johannesburg na Kaapstad sluit vyf provinsies en 18 dorpe in. Gemeenskappe in hierdie provinsies sal vir die eerste keer in byna vier jaar kan ervaar hoe sonaangedrewe motors deur die strate ry.

Dorpe wat vanjaar deel van hierdie roete is, is Brakpan, Trompsburg, Willowmore, Kirkwood, Jeffreysbaai, Riversdal en Caledon. Die roete is aangepas om sodoende die invloed wat dit op gemeenskappe het, te verhoog.

Sasol span hierdie geleentheid in om jong Suid-Afrikaners wat die land se toekomstige ingenieurs en wetenskaplikes kan word, te inspireer.

“Een van die kernaspekte van die Sasol Solar Challenge is om ʼn bewustheid van hernubare en volhoubare energie te kweek en om jongmense se belangstelling in STEM-vakke (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) te prikkel.”

Nozipho Mbatha, Sasol se senior bestuurder vir die groephandelsmerk en borgskappe, sê hierdie doelwit word deur ʼn skoleprogram bereik wat praktiese leerervarings van STEM-onderwys bied.

“Die program is ʼn geleentheid om werklike toepassings van STEM te sien, wat hulle inspireer om hul eie STEM-oplossings te ontwikkel om uitdagings wat hul gemeenskappe in die gesig staar op te los,” sê Mbatha.

Toeskouers is by alle stilhouplekke op die roete welkom. Besoek die Sasol Solar Challenge se webwerf vir meer inligting oor die geleentheid. Hou ook die kompetisie se sosialemediaplatforms op Facebook, Instagram en Twitter dop vir die jongste nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Perdeby ·

2500 km’s van J’burg na Kaapstad?? Julle bedoel seker 1500 km, nooit geweet ek ry so ver van Pta af huis toe nie.

Christo ·

Lees berig klaar, hulle maak ‘n draai in Jeffrey’s bay.

OneWheel ·

Die spanne se einddoelwit is om soveel as moontlik km’s te ry. Op elke dag se roete is daar ekstra sirkelroetes wat spanne kan kies om te ry of nie – afhangend van baie faktore soos bv. batterykrag en weersomstandighede. Die span wat in die Kaap aankom met die meeste km’s, is die wenner. Dis ‘n baie taktiese en tegniese kompetisie.

Danie ·

Ek het al die dorpe/stede hier genoem en die op die amptelike webwerf by gesit en kry 2042 km . Ek neem aan hulle gaan ‘n paar ekstra draaie ry om die +/- 450 km wat kort op te maak.

VaalDonkie ·

Ek sou meer beindruk wees as dit vanag Kaapstad na Johannesburg was.

VaalDonkie ·

Nee maar ek bedoel dis heeltyd gemiddeld opdraend van die Kaap af Johannesburg toe, so daai karretjie gaan baie meer sonkrag nodig he.

Danie ·

Ek twyfel sterk daaraan of jy met ‘n elektriese kar hierdie afstand in minder as drie dae sal kan aflê. Met gewone brandstof karre en twee of drie bestuurders neem dit min of meer 22 ure.

Elize ·

So trots want my kleinseun se skool is ook hier op die pad.

OneWheel ·

My twee seuns neem ook deel vir TUT en HTS John Vorster.

Vonny ·

Kan jul oulike slim mense ons nie ook help met die alewige loadshedding??

007 ·

Hulle ry 2500km. Daar word loops gery by elke pitstop van die dag, totdat die son onder gaan. Maw die vinnigste karre ry meer afstand as die stadiger karre. Hulle ry van sonop tot sons ondergang. Die span wat die meeste km’s aflê wen die toer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.