SOS aan parlement: Onttrek omstrede Bela-wet

(Argieffoto: Wikimedia Commons)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Dinsdag in sy voorlegging aan die parlement oor die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys (bekend as die Bela-wetsontwerp) gevra dat die wetsontwerp in sy huidige formaat onttrek en na die departement van basiese onderwys vir behoorlike oorweging terugverwys word.

Die SOS het aan LP’s gesê hy glo alle kinders in Suid-Afrika behoort toegang tot gehalte-onderrig te hê, maar dat skoolbeheerliggame beleid moet kan bepaal en besluite moet kan neem wat in die beste belang is van die leerders en gemeenskap wat hulle dien.

“Ons glo moedertaalonderrig is in die beste belang van elke kind,” het Leon Fourie, uitvoerende hoof van SOS, in ʼn mondelingse voorlegging gesê, terwyl hy ook benadruk het dat beskerming en steun aan alle tale en kultuurgemeenskappe gegee moet word.

Fourie het navorsing van Unesco voorgelê wat wys dat leerders wat onderrig in hul moedertaal ontvang, beter presteer as diegene wat dit in ʼn ander taal ontvang. Die navorsing wys ook dat lande ekonomies beter presteer wanneer leerders moedertaalonderrig ontvang.

“Ons glo die kulturele diversiteit van Suid-Afrika se mense moet bevorder word en dat een kultuur of taal nie meerderwaardig aan ʼn ander moet wees nie.”

Die reg op moedertaalonderrig en die reg op die beskerming van verskillende kultuurgemeenskappe word in die Grondwet vervat en die SOS sê hy glo skoolgemeenskappe en skoolbeheerliggame is in die beste posisie – en moet die vermoë hê – om besluite in die beste belang van hul eie gemeenskappe te neem.

“Die staat moenie besluite op hulle afdwing nie,” het Fourie benadruk.

Die Bela-wetsontwerp kry dit hotagter veral omdat dit onder meer daarop gemik is om skole se toelating- en taalbesluit in die hande van die staat te plaas. Kritici van die wetsontwerp sê ook dit fokus nie op die bevordering van gehalte-onderrig nie, maar op die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal en groter magsentralisering vir die staat.

Leon Fourie is die uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Verskaf.)

Fourie het in sy voorlegging ook verwys na navorsing van die Afrikaanse Taalraad (ATR) wat wys dat die getal Afrikaanssprekendes van 6,8 miljoen in 2011 met sowat 3% tot meer as 7,1 miljoen verlede jaar toegeneem het.

Nagenoeg 40% van Afrikaanssprekendes is wit, 9% is swart, 50% is bruin en 1% is Indiër.

Daar was die afgelope paar jaar ook ʼn toename in die getal Afrikaanse leerder: dit het van sowat 990 000 in 2012 tot meer as 1,067 miljoen oor die afgelope dekade toegeneem.

Tog was daar ʼn afname in die getal Afrikaanse skole. Dit het gedaal van 1 299 skole (2012) tot die huidige 1 092 – ʼn afname van 15%.

Fourie sê dit is kommerwekkend dat 207 skole die afgelope tien jaar heeltemal verengels het.

“In die Afrikaanse gemeenskap is ons baie bekommerd dat die voorgestelde Bela-wetsontwerp die staat gaan toelaat om Afrikaanse skole te dwing om parallel- of dubbelmediumskole en uiteindelik enkelmedium- Engelse skole te word soos in ons navorsing gesien kan word.”

Slegs 5% van alle openbare skole in Suid-Afrika is enkelmedium-Afrikaans.

Fourie waarsku dat die Bela-wetsontwerp terugbeweeg na ʼn tyd toe die staat volle beheer oor openbare skole gehad het. “Openbare skole is nie staatskole soos onder die apartheidsregering nie, maar openbare skole wat beheer aan ons gemeenskappe en skoolbeheerliggame gee.”

Met die Bela-wetsontwerp word daar beweeg na die sentralisering van mag by die staat en dat dit in wese ʼn skending van die doelwit van die Wet op Suid-Afrikaanse Skole is.

Ouers het die meeste op die spel wat betref hul kinders se onderrig en beheerliggame moet wetlike aanspreeklikheid kan aanvaar, terwyl die staat ʼn fasiliterende rol moet speel. Uiteindelik behels dit ʼn vennootskap tussen die vier groot aandeelhouers: die staat, ouers, opvoeders en leerders.

Die SOS sê art. 5, wat spesifiek na taal en toelating verwys, asook ʼn gesentraliseerde plasingstelsel, is ʼn “duidelike skending” van die doelwit van die Skolewet “en nie in die gees van die Grondwet nie”.

Afrikaans in die spervuur

Die SOS sê uit sy ervaring is dit duidelik dat Afrikaanse skole onder deurlopende druk is om Engelse klasse in werking te stel en dat skole wat reeds verengels het, nie onder dieselfde druk geplaas word om klasse in ander inheemse tale aan te bied nie.

“Die beleid werk slegs in een rigting: na Engels,” sê Fourie.

Met verwysing na taalbeleid, maak die wetsontwerp voorsiening dat ʼn openbare skool kan “opdrag gee” om meer as een taal van onderrig in te stel. Die staat kan ook ʼn kwessie oorweeg, daaroor “besluit” en dan die beheerliggaam “inlig” oor ʼn uitkoms.

LUR’e van onderwys het die volle mag om te “besluit” of te “beveel”.

Volgens Fourie is die konsepte of woorde duidelik “ondemokraties, outokraties en diktatoriaal”.

Hy waarsku dat dit polities gedrewe mense in staat gaan stel om skole te boelie – in hierdie geval Afrikaanse skole – om meer as een onderrigtaal in te stel.

“Deur die bestaan van skole as kulturele instellings op hierdie manier te teiken, word die Afrikaanse kultuur en taal bedreig, wat indruis teen die Grondwet.”

Die SOS sê die Bela-wetsontwerp bied ook geen beskerming vir Afrikaans of enige ander inheemse taal nie.

“Engels is die oorheersende taal en sal in die meeste gevalle oorheers wanneer dit in dieselfde ruimte as ʼn inheemse taal geplaas word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Kan ATR vir ons sê in watter streke gaan Afrikaans groei teen 2041, en waar gaan die taal uitsterf. Dit help nie ons baklei vir Afrikaans in streke waar daar geen toekoms vir die taal is nie.

My siening ·

Ek glo in Afrikaans en sal dit praat tot my dood en in die suid kaap praat ons net afr en onse kinders ook. Ek weet ook dat die meerdheid bruin mense hier praat ook afrikaans want dis hul moeder taal ook so ANC probeer jou “luck” hier ons praat jou uit die suidkaap uit!! Trots op my taal!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja, jy praat nou Afrikaans, dis pragtig. Maar hoe gaan dit teen 2041 lyk. Die ATR het behoorlike wetenskaplike navorsing gedoen en werk nie met emosie nie. Terloops, daar is nie ‘n enkele Afrikaanse varsity oor nie.

Charlotte ·

Akademia is ‘n Afrikaanse instelling en bly net groei. Daar is ‘n blink toekoms vir ons taal.

Republikein in die Wes Kaap ·

Akademia is te vêr van die Kaap vir voltydse studente, studie opsies in sekere rigtings sal beperk bly weens enorme kostes, en privaat universiteite is duur. Dan moet jy hoop dat die staat sy neus uit die instansie sal hou.

Bertie ·

Die vyandskap teen Afrikaans is emosioneel en ideologies. Hulle kry dit saam met hulle moedersmelk in. Ons sal dus berge moet versit om dit te verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.