Sóveel kos ambulans jou in SA

(Argieffoto: ANA)

Wanneer dit ʼn saak van lewe en dood is en ʼn geliefde dringend mediese ingryping benodig, huiwer die meeste mense nie om ʼn ambulans te ontbied nie. Wanneer dié pasiënt egter by ʼn hospitaal gestabiliseer is, moet iemand opdok vir die ambulans. Sonder ʼn mediese fonds kan dit jou duisende rande uit die sak jaag.

Die webwerf JustMoney.co.za het ondersoek ingestel na wat dit kos om van ʼn ambulansdiens gebruik te maak. “Die Covid-19-pandemie het ons meer bewus gemaak van die kans dat jy dalk dringend gesondheidsorg kan benodig,” sê Shafeeka Anthony, bemarkingsbestuurder van JustMoney.co.za.

“Om behoorlike mediese versekering te hê is noodsaaklik en dit is die moeite werd om bewus te wees van die beskikbare mediese fondse en te luister na raad om te verseker jy het die regte dekking.”

Denver Ramnarain, direkteur van ambulansdienste by Quick Response Services, sê die nasionale prysverwysingslys vir ambulansdienste (NRPLAS) wat in Januarie 2009 bekend gestel is, word as riglyn gebruik.

Die bedrae verwys egter nie na die prys wat dit kos om ʼn ambulans te onbied nie, maar na die dienste wat op pad benodig word. Bedryfsorganisasies verhoog die NRPLAS jaarliks met 5% om vir inflasie voorsiening te maak.

Dís wat jy vanjaar betaal:

 Gevorderde lewensondersteuningIntermediêre lewensondersteuningBasiese lewensondersteuning
MetrogebiedTot 45 min. R2 434,53R1 902,99
Tot 60 min.R4 281,29 R2 535,09
Elke 15 min. DaarnaR1 070,32R811,56R634,33
LangafstandPer km (>100 km met pasiënt)R53,41R40,65R31,65
 Per km (<100 km)R10,52R10,52R11,11

Die lys onderskei tussen drie verskillende soorte noodlewensondersteuning: basies, intermediêr en gevorderd. Al drie ingrypings word gebruik om pasiënte te stabiliseer tot hulle ʼn hospitaal bereik. Na gelang van ʼn pasiënt se toestand, sal paramedici op die nodige ingryping besluit om ʼn pasiënt se veiligheid te probeer verseker.

Die grootste verskil tussen basiese en gevorderde lewensondersteuning, is dat eergenoemde geen deurdringende behandeling behels nie; met ander woorde, ʼn pasiënt se vel word glad nie geprik, soos met ʼn naald of ʼn skalpel, wanneer net basiese mediese steun benodig word nie.

Die rekening word bepaal ingevolge die kategorie hulp wat benodig is. Indien jou long byvoorbeeld in ʼn ambulans platval en nooddienswerkers moet jou bors prik, word dit as gevorderde lewensondersteuning beskou.

Alle nooddiensverskaffers stuur die rekening aan die mediese fonds as die pasiënt verseker is, of direk na die pasiënt as hy nie verseker is nie, sê Shalen Ramduth, operasionele direkteur van Netcare 911.

In Suid-Afrika het mediese fondse vennootskappe aangegaan met spesifieke private nooddienste ingeval hul kliënte hulp benodig. Indien ʼn pasiënt ʼn ander maatskappy ontbied, sal die versekeraar tussen 40% en 60% van die rekening vereffen.

Indien jy bewusteloos is wanneer die noodoproep gemaak word, sal die mediese fonds aanneem iemand anders het die oproep gemaak en die hele rekening vereffen. Dit moet egter dadelik gemotiveer word deur die ambulansdiens wat die diens verskaf en ʼn aanduiding moet gee oor hoekom die regte prosedure nie gevolg is nie.

Ramnarain sê ambulansdienste is nie finansiële instellings nie en kan nie krediet aan pasiënte verleen nie. Pasiënte sê egter dikwels hulle kan niks bekostig nie, of dat hulle nie die nooddiens ontbied het nie en weier dan om enigiets te betaal.

As jy hulp weier

Rocco Veer, ‘n paramedikus verbonde aan die Tshwane-nooddienste, gaan toerusting in ‘n ambulans na. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

ʼn Pasiënt kan wel hulp van enigiemand van die hand wys, ongeag of hulle dit kan bekostig of nie. Indien iemand weier om weens ʼn gebrek aan geld na ʼn hospitaal vervoer te word, is dit hul keuse. Dit is egter steeds die paramedikus in beheer se plig om te verseker die pasiënt se lewe is nie in gevaar nie.

Ramduth sê alle nooddienswerkers moet help wanneer iemand se lewe in gevaar is, selfs wanneer pasiënte nie kan betaal vir die behandeling wat hulle ontvang nie.

Indien hulle langer wag as wat nodig is en nie iemand na ʼn hospitaal neem wie se lewe in gevaar is nie, kan dit op nalatigheid neerkom en dít kan by die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) aangemeld word.

“Dit is egter moeilik om te bewys omdat die persoon kan besluit hy wil nie behandel word nie en moontlik nie sê dat dit weens die koste verbonde is nie. Die paramedikus kan dalk ook in die beste belang van die pasiënt optree en die persoon kan steeds sterf,” sê Ramnarain.

Volgens die Wes-Kaapse regering se webwerf sal niemand noodbehandeling geweier word, gegrond op hul vermoë om vir die diens te betaal nie. Dit lui dat mediesefondslede ʼn standaardbedrag gehef sal word waarop met mediese fondse ooreengekom is. Indien jy nie verseker is nie, sal ʼn bedrag in ooreenstemming met jou inkomste bereken word.

Ramduth sê Suid-Afrikaners word ingevolge die nasionale handves van pasiëntregte beskerm, wat beteken hulle het die reg op mediese hulp.

“As ʼn onversekerde pasiënt se lewe nie in gevaar is nie, het hulle toegang tot die provinsiale nooddiens wat die pasiënt teen geen koste nie sal stabiliseer en na ʼn hospitaal vervoer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Dit is hoekom ons by COC is. Die bandjie praat vir jou as jy nie kan nie, en hulle dra die koste van die ambulans. Toe my man so paar jaar gelede dringend per ambulans vervoer moes word het ek nie geweet wat al sy kronisie medikasie was nie. Die ambulans personeel het net die nommer op sy bandjie gevat, dit deur gegee na hulle beheerkamer en dasr het hulle alles gehad. Van sy naam en ID tot ons mediesefonds en nommer. Toe hy by die hospitaal kom was die vorms ook klaar reg en ons het geen rekening gekry nie. So ook my ouers wat deur ‘n gewapende roof was aan die begin van die jaar. Die ambulans het gekom, hulle nommers op hulle bandjies gekry en al hul mediese besonderhede gehad. En hulle het ook nie ‘n sent betaal nie. En dit is of jy medies het of nie, net om lid van hulle te wees.

VaalDonkie ·

Dis nie te vreeslik nie. Wel, gemeet aan wat dit in die VSA kos. Jy kan die bedrag dieselfde hou, maar sit net ‘n Dollar-tekentjie vooraan. Daai land is belaglik wanneer dit by gesondheidsdienste kom.

Corne123 ·

Tenmiste is dit iets werd daar kan nie selfde se van sa nie so hier betaal jy dalk “Goedkoop”se R20 000 jy kan netsowel daai geld in sablik gooi want mediese sorg is SA is pateties verby self PVT dr al waaroor dit deesdae gaan is Geld Geld Geld

JohanR ·

En as daai ambulans scooter van die Oos-Kaap jou kom haal dan moet JY betaling kry?

SomeOne ·

dis net jammer dat jy nie met ‘n militêre ambulans na 1 militêr vervoer kan word nie, (in pretoria) want daar is alewig ‘n verskoning dat hulle nie ambulans bestuurders beskikbaar het nie

Peach ·

SomeOne, wonder maar net hoeveel keer dit al met jou gebeur het dat jy so stelling kan maak. Ek persoonlik weet van baie dankbare pasiënte wie anders getuig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.