Springbok-legende toets positief vir Covid-19

gerber.jpeg

‘n Jong Danie Gerber in aksie (foto: independent.co.uk)

Die Doring van Despatch, Danie Gerber, het Vrydagmiddag postief vir Covid-19 getoets.

Die 61-jarige is ’n legende in Suid-Afrikaanse rugby en het veral naam op senter gemaak, waar hy met sy spoed vanaf die merkie, visie en briljante pypkan-vaardighede beïndruk het. Weens Suid-Afrika se sportafsondering-tydperk het hy net 24 toetse vir die Springbokke gespeel. Dit was egter genoeg om te sorg dat hy in Wêreldrugby se heldesaal opgeneem is.

Volgens HeraldLive is Gerber gister in Port Elizabeth gediagnoseer.

“Ek is geskok en om eerlik te wees, voel dit nog baie onwerklik. Ek is tans bekommerd oor my gesin en hulle wag nou vir hul toetsuitslae,” het hy in ’n onderhoud met die publikasie gesê.

Gerber het die afgelope ruk oor die hele land gereis en was op ses verskillende vliegtuie gewees.

“Ek weet glad nie waar ek dit presies kon kry nie. Ek het onder meer op ’n hele paar plekke gholf gespeel en was in aanraking met baie mense.”

Hy het gevra dat almal met wie hy in aanraking was, hulself moet laat toets.

Volgens Gerber was sy lyf seer en hy het koors gehad. Hy is tans in selfisolering in sy huis.

Die Oostelike Provinsie-held het met hartprobleme gesukkel en hy het ’n paar jaar gelede vir ’n hartomleiding-operasie gegaan.

“Buiten my seer lyf voel ek heel oukei. Ek het geen ander simptome nie, ek hoes byvoorbeeld glad nie.”

Vroeër het Suid-Afrika se Olimpiese swemmer, Cameron van der Burgh, ook positief vir Covid-19 getoets en hy het dit bestempel as die ergste virus wat hy nóg onder lede gehad het.

“Enige fisieke aktiwiteit, selfs om net vir ’n paar meter te stap, beteken dat ek ure lank uitgeput is,” het die 31-jarige Olimpiese gouemedaljewenner gesê.

  • Gerber het tussen 1980 en 1992 in 24 toetse vir die Springbokke uitgedraf. Hy het 19 drieë vir die Bokke gedruk, ’n treftempo van 0,8 drieë per wedstryd.
  • Hy het 115 wedstryde in sy geliefde OP-trui gespeel.
  • Gerber was ná sy speeldae deel van die Pumas se afrigterspan. Sy seun, Danré, was Hoërskool Middelburg se hoofseun en het sy rugbyloopbaan in Frankryk gaan voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Africangrey ·

Vroeër? Hoe dan, het hierdie virus dan al eerder ook bestaan? Hoekom nie toe al begin soek vir medisyne nie, dis mos nou te laat….

Jan ·

Gaan biblioteek toe dan sal jy sien die koronafamilie virusse bestaan al dekades lank ou maat…

MakersMark ·

Beste senter ooit. Hoop Danie “sidestep” die virus soos hy met sy opponente op die veld gedoen het.

Grassie ·

Die beste senter wat ons land nog ooit gehad het. Alle beterskap word jou toegewens, Danie.

Jan ·

Klink vir my na normale griepsimptome…terloops meer mense sterf elke jaar aan gewone griep as aan die koronavirus wat julle almal op hol het…selfs motorongelukke is meer dodelik gaan kyk self na die statistiek…kan ons nie sommer alle karre verbied nie…

msp ·

Baie sterkte Danie, bid jou en al ons mense wat dit het spoedige herstel toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.