‘Staat betaal Zuma se regskoste op regsadvies’

Regsverteenwoordigers van die DA en die EFF in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Brenda Masilela/ANA

ʼn Besluit om die staat te laat opdok vir voormalige pres. Jacob Zuma se regskoste was nie roekeloos nie, maar gegrond op die regsadvies wat ontvang is, het die hooggeregshof in Pretoria Woensdag gehoor.

Adv. Thabani Masuku, Zuma se regsverteenwoordiger, het aan ʼn volbank regters gesê pres. Cyril Ramaphosa het nie ʼn nuwe besluit oor Zuma se regskoste geneem nie – hy was gebind deur ʼn bestaande ooreenkoms om die voormalige president se prokureurskoste te betaal.

Ramaphosa het onthul dat die ooreenkoms, wat deur Zuma onderteken is tydens sy voorganger Thabo Mbeki se presidentskap, die grondslag gevorm het vir die besluit om voort te gaan om vir Zuma se regskoste in die sogenaamde spioenasiebande-saak te betaal. Die presidensie het gesê hulle sal voortgaan om Zuma se regskoste te dek totdat die hof anders besluit.

Die DA en die EFF het ʼn aansoek gebring om Zuma te dwing om die R15,3 miljoen terug te betaal wat reeds aan sy regskoste bestee is. Die partye versoek die hof ook om die ooreenkoms tussen Zuma en die presidensie rakende sy regskoste te hersien.

Die koste is aangegaan tydens die strafregtelike vervolging in die spioenasiebande-sage in 2016.

Adv. Sean Rosenberg vir die DA het Dinsdag gesê die strafregtelike vervolging van Zuma was in sy persoonlike hoedanigheid en daarom behoort die staat nie vir sy regskoste aanspreeklik te wees nie.

Hy het gesê artikel 3(1) maak daarvoor voorsiening dat die staatsprokureur werk namens die regering doen, en terwyl dié funksie kan strek tot die voorsiening van regsdienste aan staatsamptenare in hul amptelike hoedanigheid, maak dit nie voorsiening vir regsdienste aan staatsamptenare wat in hul persoonlike hoedanigheid gedagvaar of vervolg word nie.

Hy het gesê die regering moes nooit vir Zuma se private prokureur betaal het nie.

Adv. Thembeka Ngcukaitobi vir die EFF het ook aangevoer dat voorkeurbehandeling aan Zuma gegee is en dat hy sy amp misbruik het deur onbeperkte toegang tot openbare fondse te kry.

Ngcukaitobi het gesê Zuma en sy voormalige prokureur, Michael Hulley, moet die geld terugbetaal wat deur die staatsprokureur se kantoor op sy regskoste bestee is. “Dit is heeltemal ongemagtigde besteding. Dit is verkwistende besteding,” het hy gesê.

Hy het aangevoer daar was geen behoorlike en omsigtige finansiële bestuur van die koste wat deur die staat aangegaan is nie.

Masuku het vandag aangevoer daar is geen bewyse om die bewerings van die EFF en die DA te staaf dat die prys van die regskoste wat vir Zuma betaal is, buitensporig was nie. Hy meen die partye het net die saak voor die hof gebring om hul eie politieke belange te bevorder en nie die publiek s’n nie.

“Ons moet nie politieke partye help om hul stryde hier in die hof te kom voer nie,” het Masuku gesê.

Hy het gesê die hof hoef nie te bepaal of die aanklagte waarop Zuma tereg staan met sy werk verband hou nie. Hy meen ʼn strafreghof sal daaroor moet besluit.

Masuku het verder aangevoer dit is belangrik dat die staatsprokureur ondersteuning aan staatsamptenare bied, selfs al word die amptenaar van verkragting aangekla.

Regter Pieter Meyer het dit aan Masuku gestel dat Zuma sy eie regsverteenwoordiger aangestel het en dat hulle nie instruksies by die staatsprokureur gekry het nie. Masuku het daarop geargumenteer dat mense soos Jackie Selebi en ander ook finansiering van die staatsprokureur ontvang het.

Regter Aubrey Ledwaba het hierop gesê net omdat dit al voorheen gebeur het, beteken nie dit is reg nie.

Masuku het in sy slotbetoë gesê die saak moet van die hand gewys word omdat daar onnodige vertraging was in die aansoek om die ooreenkoms te laat hersien. Hy het gesê die DA het al sedert 2008 versuim om die saak voor die hof te bring.

Die hof het uitspraak voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Genieve ·

Aarde sluk my in asb waar kry ek geld om vir die regskostes te betaal

@Genieve ·

Maklik Genieve … vat die belastingbetaler se geld wat bedoel is vir paaie, hospitale, skole, ontwikkeling ens. Daar is genoeg in die pot en as dit klaar is, blameer apartheid!

Hoe nou....... ·

Wat kon ons nie alles gedoen het met daardie geld nie…….ek sou verseker n hele paar huise kon bou vir minder bevoorregtes en n hele paar monde kon kos en klere gee…..Hulle praat van al hierdie bedrae geld asof almal dit net in die bank het……..13 mil hier 25 miljard daar. DIS ONS GELD WAT JULLE SO MORS – GELD WAARVOOR ONS HARD WERK! Laat ek besluit of die staat my geld kan gebruik vir nonsens, maar tot daardie besluit word van my af weg gevat. Laat ek nou net ophou belasting betaal – hoe durf ek!

Jacques ·

En daar gaan die branstof , rente en alles sommer nou op gaan om zuma kostes te dek . Genade maar dit is darem lekker .Hy jaag aan en ander moet pa staan vir sy adv ens .

Pieter ·

Daar help CR sy maaitjie Zuma onder ons neuse, die hele ANC is vrot van bedrog.

Opdok ·

Net die saak voor die hof gebring om hul eie politieke belange te bevorder en nie die publiek s’n nie? Dit IS in die publiek se belang dat die regering nie Zuma se regskostes betaal nie. Die regering mors op die oomblik die einste publiek se geld, maar daarvan word niks gesê nie. Op hoeveel goed wil die regering nou nog geld mors? Sy prioriteite lê op die verkeerde plek. Zuma is nie meer ‘n staatsamptenaar nie en hy moet self vir sy regskostes opdok.

Lollie ·

Natuurlik sal CR offer om dit te betaal want hy offer nie ń sent op daarvoor nie dit is ons landsburgers wat dit betaal.

jaco ·

die staat wat deur die ANC beheer word betaal Zuma wat ANC lid is se regskoste EN kla hom aan. iets maak nie sin nie. hierdie absurditeit kan deur n eenvoudige administratiewe proses van so kort as 1 week afgeskryf of gestop word. Dit gebeur dan alles binne die ANC-familie.

Tokkolos ·

Agterbakse President
Agteraf parliment
Gemors van die aarde hul sal nogsteeds vir die diewe en moordenaars help
Smeer jam om honger mense se monde dan lek hulself dit af
Ek ……………… wens jul n ramaposa toekoms toe

Cherokee ·

Leser, wat die anc klaar besluit het, beteken boggerôl. Hulle lewer nie die uitspraak nie.

Manie ·

Laat die krimineel en sy anc maatjies in die parlement opdok. Die anc is baie lief om op ander se onkoste hof toe te hardloop vir al hulle kriminele aktiwiteite. Dieselfde geld vir die vinger wysende malema en die eff.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.