Staatsaanklaer in Cradock vermoor

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Mdumiseni Mduduzi Mkhize (45) het Dinsdag in die Cradock-landdroshof verskyn in verband met die moord op ʼn staatsaanklaer van die distrikshof.

Anelisa Ngcakani, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Donderdag in ʼn verklaring gesê die 36-jarige staatsaanklaer, Sivenathi Ralarala, was in Lusikisiki gevestig.

“Hy was Saterdagaand by sy huis in Cradock toe Mkhize opgedaag en versoek het om met hom te praat. Ralarala het na buite gegaan en sy gesin het kort daarna skote gehoor. Hulle het Ralarala op die grond aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Die polisie het vinnig gereageer en bevind dat Mkhize en nog ʼn verdagte in ʼn silwerkleurige Hyundai weggejaag het. “Die motor is die volgende oggend langs die R61 in die rigting van Mthatha opgemerk.”

Beamptes het die bestuurder laat stilhou en die motor is deursoek. “Terwyl die twee insittendes, Mkhize en ʼn vrouepolisiesersant, buite die motor gestaan het, het die beamptes ʼn skoot gehoor. Die sersant het ʼn skietwond in haar kop gehad. Sy het na bewering haarself geskiet.”

Die vrou is na ʼn hospitaal gehaas, maar sy het aan haar beserings beswyk.

“Die polisie het beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool met nege patrone. Mkhize staan tereg op aanklag van moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.”

Sy saak is tot 8 Oktober uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog. Ngcakani sê die NVG sal sy aansoek om borgtog teenstaan omdat dit ʼn skedule 6-oortreding is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Hoe wreed. Innige simpatie en meegevoel met die naasbetaandes. Dit is grusaam en afskuwelik.

Androclus ·

Hoekom maak hulle nie ook plaasmoorde ‘n skedule 6 oortreding nie?

Anoniem ·

Weereens, Suid Afrikaanse polisie is eindelik deel van die kriminele bevolking. “… nog ʼn verdagte …” was in die SAPD … SKOKKEND!

FM ·

teregstelling is bietjie omgekeerd.
verkeerde persoon voer “teregstelling ” uit.
ons moet die fout regstel en korrek implementeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.