Staatsamptenare diep bekommerd oor voorgestelde NGV

(Foto: Unsplash)

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), wat meer as 235 000 werknemers in die staatsdiens verteenwoordig, is diep bekommerd oor die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering (NGV) en sê daar is in hierdie stadium veel meer vrae as antwoorde oor die beoogde stelsel.

“Die VSA ondersteun enige poging om universele toegang tot gesondheidsorg te verseker en erken dat toegang tot gesondheidsorg ’n fundamentele mensereg is wat in die Grondwet vervat is.

“Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat dit betekenisvolle toegang moet wees met gehaltediens, voldoende mediese voorraad, skoon en volledig toegeruste fasiliteite en voldoende personeel met ondervinding en kundigheid.

“Sonder hierdie uiters belangrike aspekte in plek, is die NGV gedoem om te misluk.”

Die VSA glo ook nie dat ʼn enkele gesondheidsorgstelsel – soos die NGV – die oplossing vir toegang tot sinvolle gesondheidsorg is nie.

“Oor die jare heen was daar om verskeie redes ʼn afname in die gehalte van openbare dienste in Suid-Afrika, insluitend die emigrasie van kundiges uit die land, swak instandhouding van infrastruktuur, ’n gebrek aan aanspreeklikheid, korrupsie, en dies meer.

“Die vraag is of die NGV beter voordele sal oplewer vir staatsamptenare en wat die uitwerking op hul besteebare inkomste gaan wees, aangesien baie van hulle reeds aan mediese fondse behoort.”

Volgens die VSA veroorsaak die idee dat daar van werknemers verwag kan word om gelyktydig vir private mediese sorg én die NVG te betaal, angs en spanning onder dié werkers.

Verder moet die rehabilitasie van die sektor die kern van gesondheidshervorming in Suid-Afrika vorm en dít kan slegs bereik kan word deur ’n bekwame, onpartydige openbare gesondheidsdiens wat vry is van korrupsie en politieke inmenging, sê die vereniging.

Die VSA sê Suid-Afrika se tweevlak-gesondheidsorgstelsel is boonop nie die oorsaak van probleme in die sektor nie.

“Die ondergang van die private gesondheidsorgstelsel deur die instelling van ʼn model soos die NGV en die oplegging van belasting gelykstaande aan die gemiddelde mediesefondsbesteding, sal ook nie doeltreffende bestuur en administrasie in die openbare gesondheidsorgsektor oplewer nie.

“Die VSA vra vir ’n progressiewe verwesenliking van die reg op toegang tot gesondheidsorg binne die hulpbronbeperkings van die staat. Die voorgestelde meganisme moet daarna streef om gesondheidsorg verantwoordbaar, bekostigbaar en doeltreffend te maak deur te versterk wat in die openbare sektor werk en tekortkominge te verwyder.

“Dit moet op ’n verantwoordelike, bekostigbare en volgehoue ​​wyse beplan en in werking gestel word. Die doelwit om universele toegang tot gehaltegesondheidsorg te bereik, moet ons nie dryf om enige en elke program te implementeer sonder om die doeltreffendheid daarvan in ag te neem nie.”

Die VSA versoek eerder die volle instelling van ’n menslikehulpbronstrategie om vaardigheidstekorte in die gesondheidsektor op te los.

“Daar moet ’n duidelike mensehulpbronplan wees om opleiding en personeel by fasiliteite te verseker. Daar kan geen hervorming van die openbare sektor wees as die tekorte aan geskoolde personeel voortduur nie. Daarbenewens moet die gegradueerde uitset op ’n dringende basis verbeter word om aan die eise van die gesondheidsektor te voldoen.”

Verder is die VSA ook bekommerd oor die toekoms van mediese fondse en hoe dit by die NGV gaan inskakel. Dit kan inderwaarheid die begin van die einde vir mediese fondse wees.

“Die instelling van die NVG kan ook die vooruitgang wat reeds in die toegang tot gehalte- mediese sorg gemaak is, ongedaan maak.

“Benewens ons verbintenis om die rehabilitasie van openbare gesondheidsorg te ondersteun, glo ons ook dit is belangrik dat die publiek die reg het om te kies of hulle van private of openbare gesondheidsorg gebruik wil maak – ʼn keuse wat nie deur ʼn belastinglas op burgers geplaas moet word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Saartjievandiebosveld ·

Hulle Wil die private gesonheidsdienste verwoes…want dit werk mos.

JohanR ·

Vraag : moet ek my R3500 elke maand by Discovery wegneem, rekening toemaak, en in ‘n Money Market rekening sit en dan maar betaal vie medies soos ek nou ‘n hospitaal of doctor moet besoek, of nodig kry?

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy gaan daai R3500 elke maand aan die NVG oorbetaal en hoop vir de beste.

Blomkind ·

Dit sal die dag wees…Ek betaal NIKS aan hulle ni…Nooit…Dan gaan ek maar dood by my huis…Ek het kla vi die regering en al die bak handtjies gesorg…

Hannes ·

Alle Suid Afrikaners behoort bekommerd te wees, hierdie is net nog voor-verkiessing propaganda om stemmme te werf. Ek is bevrees Suid Afrika kan nie nog ‘n termyn onder ANC beheer oorleef nie.

JohanR ·

Hannes ek sidder om te dink nog tot 2029 onder die ANC, met miskien Julius Malema as adj.pres! By 2029 sal NIKS werk nie!

Laksman ·

Snaaks hoe die diens wat die staatsamptenare lewer power is, maar hulle wil A-klas diens ontvang?

KatjieDeKat ·

Dis waar maar as hulle duur lidmaatskap gelde betaal vir hul mediese fondse is hul ook geregtig op kwaliteit diens in privaat hospitale. Almal wat mediese fonds gelde betaal doen so om hulself en geliefdes n kans op oorlewing te gee.

Laksman ·

Stem 100% saam, net so verdien die publiek wat vragte geld aan belasting betaal behoorlike diens.

Frank ·

Vir alle praktiese doeleindes betaal die belastingbetalers hulle mediese fonds gelde

SjN ·

Ja Frank, jy is reg, hul kry ook mediese subsidies wat die privaat persoon nie kry nie.

Christelle ·

Staatsamptenare betaal belasting soos enige ander publieke persoon.

Llady ·

Ek en my kinders behoort tans aan ‘n mediese fonds. As ons almal van die NGV gebruik moet maak, wat keer my dan om my mediese fonds te kanselleer en net vir die NGV te betaal? Hoekom moet ek dubbeld betaal, maar ek het nie toegang tot privaat mediese dienste van my keuse nie? Ek dink die regering wil die geld wat aan mediese fondse betaal word, gebruik om deels die NGV te finansier… Maar, as meeste mense gaan besluit om eerder net die NGV bydrae te betaal en nie meer aan ‘n mediese fonds te behoort nie, gaan hierdie hele spul in duie stort. En wat bly dan oor van ons land se gesondheidsorg?

Republikein in die Wes Kaap ·

En wat bly oor van ons gesondheid? Geen drade in die tanne, geen inplante, geen lasik, geen nip en tuck Niks.

domheks ·

Nee – julle het darem werk. Die ander het nie werk nie maar hulle moet beter diens uit die NGV kry. Verplig alle cANCer parlementslede om van die huidige staats hospitale gebruik te maak. Dan wil ek die kommentaar hoor. En phaala moet ook in die rye gaan sit en wag….

annie ·

Dit is duidelik dat die supersportspeletjie om geld na probleme te gooi steeds gewild is en sal bly. Op die manier rol die geld onder die tafels in en… weg is dit. Private mediese dienste se geld blink net te veel vir die ANC.

TheSnake ·

Die enigste oplossing vir Suid Afrika is dat slegs persone met ‘n belasting verwysings nommer, moet die reg hê om te stem. M.a.w. laat die wat belasting betaal, stem.

Papsak ·

Nee los die privaat gesondheidsdienste dood stil uit hulle werk nog ek sal ook bekommerd wees as ek n staatamtenaar is want hulle flip alles op wat onder die staat val gaan kyk hoe lyk staathospitale hoe vuil hoe stink dit ens voorts gaan kyk in Bloemfontein Nasionale staatshospitaal badkaners het niks baddens water of pype nle pasiente moet in skottels was sies pateties man kyk na kos vrot daarom worrie hulle

christo ·

En hoeveel provinsiale gesondheidswerkers, wat nie die behoorlike diens aan die gemeenskap lewer nie, is lede van die VSA?
Begin sommer vee voor julle eie deur, en raak ontslae van die swak dienslewering houding.
Indien die provinsiale gesondheidswerkers kan wys dat die openbare gesondheids sektor wel die diens kan lewer aan die mense wat geregtig is daarop , het die ANC regering nie ‘n voet om op te staan om die NGV te implementeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.