Staatsrede: Kenners sê oor Cyril se onderwysplanne

onderwys-alfabet-swartbord-boek

Foto: Pixabay/Pexels.com

Onderwyskenners het Vrydag die planne wat pres. Cyril Ramaphosa gisteraand in sy staatsrede voorgelê het om onderwys in die land te ontwikkel met gemengde gevoelens begroet.

Hoewel sommige voornemens verwelkom word, is daar kommer of die nodige aandag aan die kommerwekkendste kwessies geskenk word.

Ramaphosa het onder meer gesê dat alle puttoilette in die volgende drie jaar by skole met spoeltoilette sal vervang word.

Verder sal die verantwoordelikheid om na sentrums vir vroeë kinderontwikkeling om te sien van die departement van maatskaplike ontwikkeling weggeskuif word en aan die departement van basiese onderwys oorgedra word. ʼn Proses sal dan ook in werking gestel word om gr. RR- en R-opleiding vir kinders verpligtend te maak.

Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), meen daar is beslis ʼn behoefte aan vroeë kinderontwikkeling, veral in arm gemeenskappe waar kinders min vroeë stimulering kry. Sy is egter huiwerig of die antwoord vir hierdie behoefte ʼn verpligte stelsel is.

“Ons sukkel al tien jaar waarin verpligte gr. R-onderwys aanhoudend uitgestel word, want die koste daaraan is geweldig hoog en die opleiding van onderwysers moet ook gedoen word.

“Dit is een ding om te sê wat is belangrik, dit is goed en gaaf, maar dit is gewoonlik ʼn ander storie as dit by die praktiese uitvoerbaarheid van hierdie planne kom,” sê Buys.

Prof. Elda de Waal, waarnemende navorsingsdirekteur van Edu-HRight van die fakulteit opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit, stem saam dat hierdie plan teoreties sin maak.

“Ek is egter net baie bekommerd dat ons nou van kinders junior akademiese soldaatjies wil maak. My vraag is wanneer moet kinders kans kry om net ʼn kind te wees wat speel-speel goed leer.”

De Waal het ʼn ernstige beroep gedoen dat speeltyd vir kinders beskerm moet word. “Hulle moet in geen omstandighede net agter ʼn lessenaar vasgekluister word waar hulle vereenvoudigde gr. 1-werk doen nie.”

leerder-met-tabletrekenaar

Ter illustrasie. Foto: Waterford.org

Tegnologie in die klaskamer

Ramaphosa se regering wil teen 2025 ʼn tabletrekenaar met gedigitaliseerde werkboeke en handboeke vir elke leerder in elke klaskamer in die land verskaf.

“Dit is vir my verblydend dat die president sê die armste skole moet eerste gehelp word, maar ek is nie seker hoe die digitalisering van handboeke die skole sal help nie. Sommige skole het nie eens die mees basiese aspekte in plek nie,” sê De Waal.

Vir haar is dit aspekte soos lopende water, veilige toiletgeriewe, klaskamers met stoele en lessenaars en opgeleide onderwysers en skoolpersoneel wat betyds vir ʼn skooldag opdaag waaraan daar eerste aandag geskenk moet word.

“Dan eers kan ons begin praat van die materiaal wat leerders benodig vir lesse soos handboeke en skryfbehoeftes.”

“Ek kan nie help om bekommerd te wees en realisties te vra waar gaan die geld vir hierdie planne vandaan kom nie,” sê Buys.

Buys sê tegnologie wat reg aangewend word in die klaskamer kan onderwys meer bekostigbaar maak en vir die kind in die platteland toegang gee tot gehaltelesse.

“Dit is presies ook waarom die SOS die Wolkskool ontwikkel het, want ons wil leerders die opsie bied om aanlyn klas te kry by van die heel beste onderwysers in die land.”

Sy sê egter dit is nie net ’n tabletrekenaar in die hand wat die deurslaggewende verskil maak nie.

“McKinsey het verslae gelewer oor wat die beste onderwysstelsels in die wêreld behels, asook wat veroorsaak het dat onderwysstelsels die meeste verbeter het. Tegnologie is beslis ʼn aspek daarvan, maar dit is eintlik tegnologie in die hande van ʼn opgeleide onderwyser wat jou grootste bate is.

“Ek dink dit is eintlik belangriker om te verseker dat al die onderwysers goed opgelei is voordat ons praat oor tabletrekenaars en aanlyn handboeke. ʼn Onderwysstelsel is maar net so goed soos die gehalte van sy onderwysers en dit is waar ons eintlik moet begin.”

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede (7 Februarie 2019). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

ʼn Fokus op tegniese vakke en tegniese hoërskole

Ramaphosa het ook in sy staatsrede gesê hy wil vakke soos tegniese wiskunde, tegniese wetenskappe, maritieme wetenskappe, lugvaartstudies, mynwetenskappe en akwaponika by skole instel.

Verskeie “gewone” openbare skole sal ook in tegniese hoërskole omskep word.

De Waal meen dit is jammer dat die staat nie Donderdagaand sy destydse fout erken het nie, nadat die einste regering in 1995 begin praat het oor die afskaffing van tegniese hoërskole omdat dit kwansuis minderwaardige opleiding bied.

“Ek het 15 jaar lank self by die Hoër Tegniese Skool Vereeniging skoolgehou. Hierdie skool bestaan nie eens meer nie omdat dié soort skole destyds laat verstaan is hulle moet inskakel by akademiese leerprogramme, want daar is nie ʼn behoefte aan tegniese opleiding nie.”

De Waal sê dit is belangrik dat alle lande, maar Suid-Afrika veral, tegniese vakke moet aanbied. “Dit is spesifieke vaardighede en hierdie soort vaardighede is tans hoog in aanvraag.”

Buys dink ook dit is sinvol om te fokus op nuwe tegniese vakke en die instelling van meer tegniese hoërskole.

“Ons is dankbaar dat daar erken word die werksomgewing is besig om te verander. Ek dink daar is verskillende paaie wat gevolg kan word om leerders vir hierdie nuwe werksomgewing voor te berei. Tegniese vakke en hoërskole is een van hierdie metodes,” sê sy.

“Ek dink net nie mense moet hulle blind staar op tegnologie en dink dit sal dié verskil maak nie. Dit is maar net ʼn hulpmiddel.”

Buys het weer benadruk dat vakbonde soos Sadou se invloed oor die onderwysstelsel ook in die bek geruk moet word.

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Hiervan wou kenners meer hoor

Buys sê die SOS sou graag meer wou hoor oor beursskemas om die beste studente na die onderwys te lok. “Ek dink ons moet in die eerste plek ons onderwysers sterk maak. Dit begin by wie gekeur word om onderwys te studeer, hoe die onderwysers opgelei en toegerus word en hoe daar vir hulle deurlopende ontwikkeling verskaf word.”

Sy sê Ramaphosa het in die staatsrede dalk meer algemeen en strategies gepraat. “Die klem wat hy op leesontwikkeling geplaas het, is vir die SOS veral belangrik, maar ek dink die uitvoering van hierdie planne sal vir ons bewys of dit suksesvol sal wees. Ons is egter bereid om met die onderwysdepartement hande te vat om onderwysers op te lei.”

De Waal noem dit was vir haar hartseer dat Ramaphosa glad nie verwys het na die ramp by Hoërskool Driehoek nie.

“Die president het wel verwys na die tragiese sterftes van ander leerders, maar niks gesê oor die tragedie in Vanderbijlpark nie. Hy het nie eens na skoleinfrastruktuur se veiligheid verwys nie en dit van ʼn president wat ernstig wil praat oor wat hy en sy regering die volgende vyf jaar vir onderwys wil doen.

“As hy nie daarvan geweet het nie, maak dit my bang, want hoe weet die president nie wat in sy land gebeur nie. As hy dit met opset weggelaat het, maak dit my nog banger, want dan het hy nie ʼn hart vir die hele onderwysstelsel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert

Duidelik tel wit lewens nie in die nuwe SA nie.

Ploumie

Is die handboeke gereed vir ses nuwe vakke?

Afrikaner

Nouja, dit hier bo is die realiteit, wens ons het sulke oopkop mense soos in die artikel hier bo wat hul mening uitspreek, nie net hul mening lug nie, maar hul kennis met ons gedeel en perspektief help gee, wat eerder die minister van onderwys kon wees, of anders sou mens wou sien dat hulle in ‘n konsulterende hoedanigheid vir die departement betrek kon word.

Jammer die regering stel nie werklik in diesulke mense se opinies belang nie. Persone soos Lesufi sal eerder betrokke wees.

jakes

En nou word die agbare CR as n redder en held beskou. Asb tog, hoe lank gaan hy nog mense n rat voor die oge draai? Hoekom moet dit 3 jaar neem om put toilette met spoel toilette te vervang? Die probleme hierbo in die artikel genoem is baie meer van belang as die paar goed wat hy aangeraak het. Wanneer gaan mense deur die ANC se bogtery sien?

Disselboom

Hoog tyd dat hierdie lamlendige onbeholpe regering vervang word.