Staatsrede niks behalwe ‘beloftes, mooipraatjies’

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die lewering van sy staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Solidariteit het die regering se plan vir ekonomiese herstel as rampspoedig bestempel en sê dit gaan nie tot stimulering en groei lei nie, maar eerder tot verdere inkrimping en nog werksverliese.

Die beweging was een van talle instellings wat pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gekap het. Solidariteit sê die president is uit voeling met die land, en die prioriteite wat hy nou stel is kwessies waaraan die regering al jare lank iets kon doen – maar nie het nie.

“Die jongste van daardie prioriteite was die verkryging en verspreiding van Covid-19-entstof, wat ook pas in vlamme opgegaan het. Daarbenewens trek ons nou al in die 13de jaar van beurtkrag. Niks gebeur behalwe beloftes en mooipraatjies nie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Solidariteit sê met probleme soos beurtkrag, korrupsie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB), kan die private sektor nouliks groei en is daar geen geleentheid om werkskepping te bevorder nie. Die organisasie sê die ekonomie moet gedereguleer word en dit moet goedkoper wees om plaaslik te vervaardig.

“In die geskiedenis van Suid-Afrika se demokrasie het geen president al ooit so ʼn oormaat selfvoldaanheid getoon nie. Dit is verstommend. Gisteraand het die keiser kaal voor die land gestaan en vreeslik gespog oor sy plaaslik vervaardigde pak klere terwyl elke vervaardiger paniekerig wonder hoe enigiemand nog ʼn pak kan vervaardig terwyl daar op die volgende sessie beurtkrag gewag word,” sê Mulder.

Sakeliga meen ook geen broodnodige strukturele hervormings is aangekondig nie. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê Ramaphosa moes erken dat regeringsbeleid die hoofoorsaak van Suid-Afrika se ekonomiese krisis is.

“Suid-Afrika se ekonomie is nie net op die afdraande pad sedert die Covid-19-inperkings nie. Suid-Afrika se ekonomie is lankal in ʼn staat van inperking, danksy politieke inmenging.

“Dit bly moontlik om ekonomies suksesvol in Suid-Afrika te wees, maar vir al minder en minder mense. Sake-eienaars se reg om vrylik handel te dryf word op bykans elke denkbare vlak ingeperk, met drastiese gevolge vir werknemers, verbruikers en die algemene publiek. Van eienaarskap tot aanstellings, tot vergoeding en verskaffers en tendergeleenthede word deur SEB en allerlei ander regulasies beperk.”

“Intussen is grondwetwysigings rondom onteiening ʼn groot bedreiging vir eiendomsreg. Behalwe dat hierdie kwessies plaaslike besighede kniehalter, ontmoedig dit internasionale beleggings,” sê Le Roux.

Le Roux sê SEB is een van die gebiede waar hervorming uiters nodig is.

“Die huidige ekonomiese krisis verg nie die bevoordeling van ʼn klein groepie politiesgekose eienaars nie, maar eerder ʼn fokus op indiensneming, per capita BBP-groei en die lok van plaaslike en internasionale beleggings – alles dinge wat deur SEB benadeel word.”

Die staatsrede volg ook op die onlangse aankondiging oor die verhoging van die minimumloon. Le Roux sê dit is merkwaardig hoe die president kan erken dat die private sektor die grootste bron van indiensneming is, maar dan werkloses daarvan uitsluit deur die minimumloon vir die private sektor op dubbel vas te stel wat die regering hoef te betaal.

Hy sê een van die enkele ligpunte was die regering se verbintenis om binne drie maande lisensiëringsvereistes vir private elektrisiteitsopwekking te verlig, maar selfs hier wou die staat hom nie tot werklike sentralisering verbind nie. “Enige verligting gaan klaarblyklik op voorwaarde wees dat die elektrisiteit via die bestaande elektrisiteitsnetwerk versprei moet word, in plaas van op ʼn private grondslag.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, stem saam dat Ramaphosa se toespraak daarop dui dat hy uit pas is met die werklikheid en die desperate stryd van gewone mense. Mulder sê die president leef in ʼn droomwêreld te midde van een van die grootste krisistye in die land se geskiedenis, terwyl hy steeds droom oor superstede.

“Dit terwyl miljoene mense in die land werkloos is of van ʼn welsynstoelaag moet leef.”

Hy sê die VF Plus het van Ramaphosa verwag om werkbare, gedetailleerde planne aan te kondig oor hoe hy beplan om die ekonomie te stimuleer en werk te skep. “Daarvan het weer eens niks gekom nie.”

Hy meen ook die enigste manier om die ekonomie te laat groei is om ʼn gunstige omgewing vir die private sektor te skep, terwyl die ANC se onteieningsbeleid die teendeel doen.

“Die president het male sonder tal gepraat van wat gedoen móét word om die ekonomie te red. Dit beteken niks. Almal weet wat gedoen moet word. Die vraag is wat tot nou toe in die praktyk gedoen is. Die antwoord is feitlik niks.”

Mulder meen ook SEB is die rede waarom die ekonomie voor die pandemie tot rommelstatus gedaal het.

“Solank as wat die regering aan SEB en onteiening sonder vergoeding vaskleef, sal daar van die wonderlikste planne om die ekonomie te laat groei, niks kom nie. Dit trek ʼn streep deur al die planne. Geen voornemende belegger sal met sulke afbrekende beleid hul geld in die land belê nie.

“Pres. Ramaphosa het in sy toespraak verwys na die Kaapse fynbos wat herleef na ʼn groot brand. Die werklikheid van Suid-Afrika is dat die ANC-regering hierdie vuur is wat die land deur sy optrede vernietig en die herlewing sal eers kan plaasvind wanneer daar in ʼn verkiesing van die ANC ontslae geraak word.”

Barend Uys, AfriForum se hoof van interkulturele samewerking, sê aankondigings wat werklik ʼn verskil sou maak, sluit in stappe om korruptes aan die kaak te stel, sukkelende semi-staatsinstellings te privatiseer en te ontbondel en die skrap van wetgewing en beleid wat ideologies gedrewe is.

“Aankondigings oor die beëindiging van optrede deur die regering wat skadelik is, waaronder toenemende sentralisering van mag en beheer, onbehoorlike inmenging in gemeenskappe en hul instellings, verdere misbruik van die pandemie om mag in te palm, kaders te verryk en ideologiese doelwitte te bevorder, asook marginalisering en beperking van die private sektor in die stryd teen Covid-19, sou natuurlik beter uitkomste vir gemeenskappe beteken het.

“Om in dieselfde asem van die versterking van die staat en die stryd teen korrupsie te praat, is teenstrydig. Dit is juis die groter wordende sentralisering van die staat wat aanleiding gee tot die skrikwekkende vlakke van korrupsie,” sê Uys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

Daar is amptelik aangekondig dat 30% van SA werkloos is. Vanmore op Morning Live het kenner gepraat en sê die werklike syfer is nader aan 50%. My vraag is: Hoe kan n land met so groot werkloosheids syfer, se grense oop wees vir elke Jan Rap en sy maat? Daar is alreeds nie werk vir die mense nie en sodoende net nog minder. Dan wonder hulle hoekom is diefstal en moord so hoog. Dit maak mos nie logies sin nie

Hanri ·

Want elke Jan Rap en sy maat beteken ekstra stemme in die verkiesings.

Genis ·

Ag ou Ramapaddapot jy is so uit jou diepte uit… jy is regtig soos n ou grammafoon plaat wat homself herhaal

Marianna ·

Wat van Ivermectin? Hoekom word dit in die kiem gesmoor as lande soos Canada en Duitsland dit op die proef stel en vind dat dit ‘n wondermiddel is vir Covid 19. Is dit omdat dit nie China is wat dit aanbeveel nie? Ons moet een ding besef, ons president word gelei deur die BRICS lande van wie ons deel is. Hierdie lande soek hulle eie plaas in Afrika en dit gaan alles om geld. Hier word baie geld uit entstowwe gemaak. Die deure staan ook oop vir mense uit die Brics lande maar ons eie mense kry nie werk nie. Die president wil hê die privaatsektor moet werk verskaf maar eintlik wil hy hê die privaatsektor moet oorgee aan sy ‘people’ met die nuwe BBEEE wetgewing. Jammer, ek is seker nou baie pessimisties maar ek kan nie sien hoe Suid-Afrika ooit weer uit die kloue van magsug, armoede, korrupsie en rassisme sal kom nie.

Hennie J ·

Dit is presies wat ons verwag van n huigelaar en tweegatjakkals. Hy weet nie wie hy moet please nie en hy weet nie in watter bed om te slaap nie. Intussen gaan hy en sy anc voort om die land te vernietig. Onthou net ou knaap…….as julle die laaste wildsbok opgevreet het, die laaste boom afgekap het die laaste wit boer vermoor het en die laaste drinkwater besoedel het, bly net julle en die werklikheid oor.

Aikie ·

Wanneer jy regtig bankrot is, is die regte tyd om ‘n nuwe kar en’ n mooi kerkpak te koop. Dan sal die mense om jou dink dat jy nog suksesvol is.

Juffrou ·

Ja totaal uit voeling met wat in die land gebeur. Maar, tog só selfvoldaan.
Wat ń sirkus. Só bly ek het nie daardie prentjie aanskou óf gehoor nie.

Saartjievandiebosveld ·

Sy droomstat (d)….met die toestand waar in EKSDOM verkeer gaan sy droomstat (d) nie werk nie….so dream on!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.