Stad Kaapstad appelleer teen hofbevel oor grondbesettings

Kaapstadse burgemeester Dan Plato (April 2020) (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Die Stad Kaapstad het ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien nadat die Kaapstadse hooggeregshof die stad vroeër verbied het om sy grond teen besetters te beskerm.

Dan Plato, die stad se burgemeester, het Woensdag gesê hy het die stad se regspan opdrag gegee om ’n dringende aansoek by die appèlhof in te dien.

Dít is volgens die burgemeester nodig om onherstelbare skade te verhoed, sou die stad verhinder word om die oppergesag van die wet te handhaaf en openbare grond, wat bedoel is vir dienste, behuising, gemeenskapsfasiliteite, skole en vervoerdienste, te beskerm.

Volgens Plato sal die stad se reg om grond teen besetters te beskerm streng beperk word deur die bevel wat vereis dat die stad eers ’n hofbevel moet verkry om onbewoonde strukture (dus strukture wat nie as huise beskou word nie) af te breek.

“Die hooggeregshof kon nie behoorlik, of geensins, die bewyse oorweeg nie wat die stad voorgelê het oor die verwoestende maatskaplike gevolge van ongekontroleerde onwettige grondbesettings, asook waarom beheer nodig is sodat die stad sy grondwetlike verpligtinge kan nakom wat behuising en dienslewering betref,” sê Plato.

Kaapstad voer nou aan dat die hooggeregshof ’n fout begaan het toe hy die aanvanklike bevel toegestaan het omdat die regsremedie van teen-spoliasie regmatig en beskikbaar aan alle grondeienaars bly.

Volgens die stad se statistieke het die Stad Kaapstad tussen 11 Julie en 20 Augustus meer as 109 voorvalle van grondbesettings in onder meer Kraaifontein, Delft, Khayelitsha, St. Helenabaai en Dunoon aangeteken.

Die stadsraad het sedert 11 Julie ook 25 000 erwe skoongemaak wat onwettig vir besetting uitgemerk is.

Altesaam 84 vermeende grondbesetters is intussen in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld en 17 nuwe hofbevele is uitgereik.

Maroela Media het vroeër berig die Menseregtekommissie (MRK) se hoofaansoek, wat in Oktober aangehoor word, vra die hof spesifiek om te bepaal dat teen-spoliasie onregmatig verklaar word en dat die gemenereg daaroor gewysig word. Die aansoekers vra ook vir ’n bevel dat alle bestaande hofbevele wat dit toelaat, geskrap word.

“Die uitwerking hiervan op alle munisipaliteite en ons land in sy geheel sal vernietigend wees,” meen Plato.

“Hofrolle sal oorval word deur aansoeke van grondeienaars, private én openbare grondeienaars, wat dringend en onmiddellik uitsluitsel benodig oor of ’n spesifieke struktuur beset is, al dan nie, en onderhewig is aan die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (ook bekend as die PIE- of Plakkerswet) se vereiste van ’n uitsettingsbevel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adam Adriaan ·

ja dit wil almeer voorkom of die howe ook al in die sak is van die ANC

Johann ·

Wel ten minste doen die MRK waarvoor dit gestig is. Beskerm die “peoples” regte ten koste van orde en ekononiese logika. So verander sommer nou al Kaapstad na KaapstaT. Kan nie sê die ANC was nie slim om allerhande “instansies” te stig en met hulle comrades te deploy om hulle snoke and mirror beleids toepassings deur te voer nie. Die kopdoek anti en haar pelle lag lekker terwyl almal worry oor zil en dop…

Pieter ·

Laat die ;comrads’ op juju se erf gaan bly en dan op sy ander comrads se erwe en dan vat ons dit van dara op die plase van die cANCer manne soos ou Ramaphosa.

Dirk Mostert ·

Een van verskeie hofuitsprake wat vertroue in ons regstelsel skaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.