Staking by Gautrein opgeskort

(Argieffoto: Gautrein)

Die Gautrein-staking is beëindig nadat die metaalwerkersvakbond Numsa en Bombela, die maatskappy wat Gautrein bedryf, tot ʼn vergelyk kon kom.

Gautrein was nog heeltyd, behalwe Saterdag, in bedryf ondanks die staking. Treinskedules moes egter aansienlik aangepas word en busdienste is plek-plek opgeskort.

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, sê in ’n verklaring die vakbond het vroeër vandeesweek ’n loonooreenkoms met Bombela se bestuur onderteken.

Dié ooreenkoms behels dat Gautrein-werknemers wat tot en met R8 500 per maand verdien nou ʼn verhoging van R900 per maand ontvang.

Werknemers wat tussen R8 501 en R20 000 per maand verdien, sal nou ’n verhoging van R850 per maand ontvang terwyl alle werknemers wat meer as R20 000 per maand verdien, ʼn verhoging van 4,1% ontvang. Die verhogings sal teruggedateer word tot 1 Julie.

Volgens Hlubi-Majola verwelkom Numsa die ondertekening van die ooreenkoms aangesien dit voordele vir die laags betaalde werkers verseker.

“Indien werknemers ʼn verhoging van 4,1% sou ontvang, sou dit beteken dat die laags betaalde werker ’n verhoging van slegs R348 sou kry vergeleke met die verhoging van R900 wat ons nou verseker het. Dit kom in werklikheid neer op ’n verhoging van 10%.”

Alle Numsa-lede sal dus vandag (Donderdag) terug op hul pos wees. Numsa het sy lede bedank vir hul voortgesette steun van die staking.

Gautrein het op sy beurt gesê sy treine sal vandag in spitstyd in tussenposes van 15 minute bedryf word en tussenposes van 30 min buite-piek tye.

Gautrein sal dan sy standaarddienste Vrydag hervat.

Alle Gautreinstasies bly oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baas van die plaas ·

En wie gaan betaal vir hierdie verhoging van salarisse in hierdie finansiële moeilike tye? Ek sal nie.

J ·

Soos ESKOM, SAL, Denel die paaie, skole hospitale … eintlik alles … so sal Gautrein ook binnekort vernietig word.

Mense se lewensingesteldheid!

Stefan ·

Ja AJ, en as dit tot niet is dan is dit bakhand staan want nou is hy honger.

Stefan ·

Mooi man, hier het ons klaar die volgende staking gereël, dis blyk mos baie goed betalend te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.