Steeds geen teken van ontvoerde sakeman

Die sakeman se voertuig is verlate aangetref. (Foto: SA Polisie)

Daar was teen laat Vrydagaand steeds geen teken van die 36-sakeman wat gisteroggend in Louis Trichardt verdwyn het nie. Die man is na bewering ontvoer.

Brig. Motlafelo Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê ʼn groot soektog na die sakeman is steeds onderweg.

Sy voertuig is gister reeds verlate op die Meulbos-grondpad gekry.

Maroela Media het vroeër berig die man het pas in sy Mercedes-Benz GLC 250 vertrek toe twee voertuie hom glo by ʼn stopstraat voorgekeer het. Een van die voertuie het hom van voor gestop en die ander een van agter, het Mojapelo gesê.

Verskeie skote is glo geskiet.

Volgens die polisie het die verdagtes glo ʼn grys Hyundai Accent en nog ʼn silwerkleurige sedan, waarvan die fabrikaat nie verskaf is nie, tydens die voorval gebruik. Hulle het daarna vermoedelik in ʼn noordelike rigting op die N1 na die Nzhelele-pad, gery.

Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om kol. Nyelisani Mabatha so gou moontlik by 082 565 8171 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.