Steenkamps wil Pistorius agter tralies hou

Oscar Pistorius destyds tydens sy moordverhoor. (Foto: Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA))

Reeva Steenkamp se ouers sal Oscar Pistorius se aansoek om parool vandag teenstaan.

Die voormalige Paralimpiese atleet se lank verwagte paroolverhoor vind Vrydag omstreeks 10:00 by die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria, waar Pistorius sy tronkstraf uitdien, plaas.

Geen media sal toegelaat word om die verhoor by te woon nie.

Dit sal die eerste keer in sewe jaar wees wat June Steenkamp vir Pistorius van aangesig tot aangesig sien, het Tania Koen, regsverteenwoordiger van June en haar man, Barry, vanoggend aan Maroela Media bevestig.

June sal tydens die verhoor vertoë aan die paroolraad rig. Barry kan weens swak gesondheid egter nie reis nie en sal daarom nie die verhoor bywoon nie.

Barry het Pistorius onlangs gesien as deel van ʼn dialoogproses tussen slagoffers en oortreders, berig die BBC.

Die paroolraad wat vandag oor Pistorius se lot besluit, sal uit minstens drie amptenare bestaan en sal verklarings van Pistorius, die Steenkamps en verskeie maatskaplike werkers en tronkbeamptes oorweeg.

June Steenkamp destyds tydens die moordverhoor. (Foto: Masi Losi/Pretoria News/Pool (SAPA))

Pistorius se gedrag, gemoedstoestand en die mate waarin hy gerehabiliteer is, sal alles na verwagting vandag ook oorweeg word.

Indien parool aan hom toegestaan word, kan Pistorius binne dae vrygelaat word.

Hy sal na verwagting dan by sy oom en tante, Arnold en Lois Pistorius, in Pretoria tuisgaan. Die egpaar het Pistorius tydens die moordverhoor deurgaans bygestaan.

Die feit dat die Steenkamps parool teenstaan, kan egter Pistorius se vrylating met maande vertraag.

“Ek dink hy het waarskynlik ʼn betwisbare saak [vir parool],” het Mannie Witz, ʼn verdedigingsadvokaat, in aanloop tot die paroolverhoor aan BBC gesê.

Indien parool geweier word, het Pistorius die reg om die howe vir ʼn hersiening van die besluit te nader.

Pistorius het sy vriendin Reeva in die vroeë oggendure van Valentynsdag in 2013 in sy huis in Pretoria doodgeskiet toe hy vier skote deur die badkamerdeur afgevuur het.

Hy is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar dié vonnis is deur die Appèlhof in Bloemfontein verleng nadat die staat teen Pistorius se vonnis geappelleer het.

Pistorius ontken dat hy Reeva doelbewus om die lewe gebring het en hou vol dat hy haar daardie nag vir ’n inbreker aangesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Wat Oscar die Steenkamps ontneem het is verskriklik hartseer maar hy het self met sy gewete geworstel en sal nog vir die res van sy lewe.June het self erken sy is ‘n Christen en maak nie aan haar saak of Oscar parool toegestaan word nie,wat het nou skielik verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.