Steinhoff: Markus Jooste met miljoene beboet oor waarsku-SMS

Markus Jooste. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) het Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, ʼn boete van sowat R161 miljoen opgelê vir oortredings wat verband hou met die Wet op Finansiële Markte.

Die wetgewing verbied ʼn makelaar om binnekennis bekend te maak en ʼn ander mens aan te moedig of af te raai om onderhandelinge aan te gaan waarmee die inligting verband hou.

Die owerheid sê die oortredings hou verband met aandeelonderhandelinge van Steinhoff tussen November en Desember 2017.

Jooste se boete volg op ʼn ondersoek deur die owerheid wat bevind het dat Jooste op 30 November 2017, kort voor die opspraakwekkende daling in die waarde van Steinhoff-aandele, binnekennis gehad het wat hy in ʼn waarskuwende SMS-boodskap aan vier mense na aan hom gestuur het.

Hy het hulle in die boodskap aangeraai om van Steinhoff-aandele ontslae te raak voor die inligting aan die res van die mark bekend gemaak word.

“Drie van die ontvangers [van die boodskap] het op die bekendmaking en aanmoediging gereageer en hul Steinhoff-aandele verkoop,” lui ʼn verklaring van die FSCA.

Die owerheid sê wanneer ʼn boete bepaal word, moet daar eers vasgestel word watter wins gemaak of verliese vermy is deur diegene wat binnehandel gedryf het.

Die FSCA kan diegene daarby betrokke beveel om hul voordele terug te betaal – in hierdie geval die verliese wat hulle vermy het – of daar kan van hulle verwag word om ʼn boete te betaal wat nie meer mag wees as drie keer die voordeel wat hulle aanvanklik getrek het nie.

Jooste, as die persoon wat die wenk gegee het, is gesamentlik en afsonderlik verantwoordelik vir diegene vir wie hy die wenk gegee het. In só ʼn geval mag die persoon wat die wenk gegee het, ʼn boete opgelê word wat nie drie keer meer mag wees as die voordeel wat die ander betrokkenes getrek het nie. Die persoon wat die wenk gegee het, kan ook ʼn bykomende boete van R1 miljoen, die koste van die ondersoek en rente opgelê word.

Die FSCA sê in sy berekening van Jooste se boete het die owerheid onder meer oorweeg watter verliese die ander betrokkenes vermy het omdat hulle die SMS ontvang het, hoe goed Jooste met die ondersoek saamgewerk het en die erns van die oortredings.

Die boete van altesaam R161 568 068 wat aan Jooste opgelê is, sluit onder meer in die verliese wat vermy is, maal drie. Dit sluit ook ʼn boete van R1 miljoen in vir die bekendmaking van die inligting aan Jaap du Toit om van sy aandele ontslae te raak. Du Toit het dit nié gedoen nie.

Jooste moet ook rente betaal op die boetebedrag tot dit ten volle vereffen is en die owerheid se koste dra vir die ondersoek wat na die binnehandel gedoen is.

Nog ʼn ontvanger van Jooste se SMS was dr. Gerhardus Diedericks Burger, ʼn kennis van Jooste. Die owerheid het bevind hy het kort nadat hy die SMS ontvang het, alle Steinhoff-aandele wat in twee van sy familietrusts gehou is, verkoop.

Hy is ʼn boete van sowat R3 miljoen opgelê.

Marthinus Swiegelaar, Jooste se chauffeur, het ook die SMS ontvang en is vir sy optrede daarna met net meer as R18 000 beboet.

Die owerheid sê Swiegelaar het van almal die meeste samewerking aan die ondersoek gegee en het beduidend minder aandele as die ander betrokkenes verkoop.

“Die boete wat aan hom opgelê is, verteenwoordig die verlies wat hy vermy het toe hy sy aandele verkoop het ʼn paar dae nadat hy die waarskuwing-SMS ontvang het,” het die FSCA gesê.

Die owerheid het ook ʼn boete van sowat R115 miljoen aan Oscan Investment Enterprises opgelê. Dit was onder die beheer van Ockie Oosthuizen, ʼn jare lange vriend van Jooste. Oosthuizen is intussen dood.

Oosthuizen het op 30 November 2017 beveel dat Oscan sy Steinhoff-aandele verkoop nadat hy die SMS van Jooste ontvang het.

Die FSCA sê Oosthuizen het die owerheid tydens sy ondersoek boonop doelbewus mislei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Die klomp hoort in die tronk. Hulle het menige ou mense se pensioene verorber en die geld verloor. Sterkte aan almal wat deur hierdie niksnutte ingedoen is. Mag geregtigheid seëvier!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Nooit geweet nie. Hoop hulle voel skuldig voor die einde hier is. Anders sal hul aan die Skepper moet verantwoording doen!

christo ·

Hy sal seker weer bankrotskap pleit. Hy hoort in die tronk.

Johann ·

En dit help ou mense wie se pensioen geld opgeslurp en verdwyn het hoe? As Jooste so sonder gewete en absolute selfsug na hom en sy tjomme omgesien het,is die bedrae kleingeld teenoor wat HY IN PERSOON moet opdok .

Hyt geweet wat kom want hyt geweet wat hy gedoen het. Vat ALS van hom af weg en sluit hom toe teen n fooi wat hy SELF moet betaal vir verblyf en kos. Of nog beter, laat hy daai skelm gulsige sagte handjies van hom stukkend werk.

Soveel van gewetenloosheid grens aan psigopatiese persoonlikheid.

Stefan ·

So Jooste was redelik dom om dit per SMS te doen.
Wat van gevalle waar die soort interne inligting mondelings oorgedra word en dus moeilik bewysbaar is.
Maar ja, dit sou heel toevallig wees as al jou kennisse skielik op ‘n dag al hul aandele verkoop na ‘n mondelikse aanbeveling, moeilik bewysbaar viral as almal sou verwys na ‘n algemene media berig wat hulle sou bang gemaak het.

Mundus ·

‘n Boete is na my mening nie voldoende geregtigheid in hierdie geval nie. Dit is gewoonlik so moeilik om so ‘n oortreding te bewys. As afskrikmiddel behoort daar ten minste ‘n minimum tronskstraf te wees in uitsonderlike gevalle waar dit bewys kan word. Ek hoop ander jurisdiksies (soos Nederland, Duitsland en VSA) reken behoorlik af met hierdie skelms.

Johanncb ·

Gaan ons wat verliese gely het, uit hierdie boetes vergoed word?

Eddie ·

Uiteidelik begin die regte persone aan die pen ry !! Die boete is egter baie gering en lig vir die skade wat hy duisende mense berokken het !

JohanR ·

In Jooste se geval is dit “we are all equal, but some are more equal than others!” Soos met Zuma sal ek graag by Pollsmoor se hek staan om die ou in te waai.

Lian ·

Dis goeie nuus dat een van die skuldiges vasgevat is . MAAR die GROOT visse het net NIKS oorgekom het nie . Ek bedoel die staatskapers dra nog siviele klere

Hennie J ·

Is die knaap dan nie missing in action nie? Hy sal seker maar sy boete betaal deur n tjekkie in die pos te gooi!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek weet nie of ek daardie inligting vir myself sou kon hou nie… Miskien, as ek in sy skoene was, sou ek dieselfde gedoen het. Dis darem BAIE geld om te verloor vir sy vriende en homself! EINA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.