Stel provinsiale grense oop, pleit toerismebedryf

(Foto: Love South Africa/Facebook)

ʼn Groep belanghebbendes in die toerismebedryf beoog om volgende week na die kantoor van die premier en die departement van toerisme in Limpopo op te ruk om te eis dat die toerismebedryf – en provinsiale grense – heropen moet word.

ʼn Grief- en versoekskrif sal daar aan die owerhede oorhandig word.

“Ons uiteindelike doel is om die gasvryheidsbedryf, wat tans in ʼn wurggreep en stryd om oorlewing verkeer, weer op dreef te kry deur die regering se afsonderingsregulasies te laat ophef,” het Ben Grobler, organiseerder, Maandag gesê.

“Hierdie bedryf is een van die grootste werkverskaffers in die provinsie en as die afsondering langer voortduur, gaan dit lei tot nog meer werksverliese as wat reeds die geval is. Dit sal ʼn nog groter uitwerking hê op die ekonomie, veiligheid en maatskaplike omstandighede,” het Grobler gesê.

Grobler is ʼn vryskuttoergids en besit saam met sy vrou ʼn lodge digby Bela-Bela. Volgens hom het hulle die laaste keer vroeg in Maart gaste by die lodge gehad en kon hy in November laas gaste op ʼn toer vergesel.

Hulle moes reeds die meeste van hul werkers aflê. “Ons kon nie meer bekostig om hulle te betaal nie. As ons nie gaste het nie, kan ons nie oorleef nie.”

Grobler sê hulle kwalifiseer ook nie vir staatshulp nie, omdat die onderneming nie aan swartbemagtigingsvereistes voldoen nie.

“In hierdie stadium gaan dit verskriklik moeilik in die bedryf. Ons moet raap en skraap om alles te betaal.”

Grobler sê die meeste van hul gaste is toeriste uit Gauteng.

Talle ander rolspelers in die bedryf maak ook staat op gaste uit ander provinsies.

Hy sê selfs voor die jongste afsonderingsregulasies wat oorgrens-jag verbied, was die bedryf in ʼn krisis gedompel. Die jongste regulasies het die situasie net vererger. Verblyf vir jagdoeleindes word toegelaat mits dit in dieselfde provinsie is as waar die jagter woon. Oorslaap vir jagdoeleindes in ʼn ander provinsie word heeltemal verbied.

Die restaurantbedryf het ook onlangs teen die afsonderingsmaatreëls betoog. (Foto: A Gorman Photography/Facebook)

Die toerismebedryf het reeds soortgelyke optogte in ander provinsies gehou. Die optog word as apolities en onafhanklik bestempel. TLU SA se Noordstreek en die VF Plus in Limpopo het reeds hul steun aan die optog in Limpopo toegesê en Grobler het ander rolspelers, waaronder hotelle, lodges, gastehuise, restaurante, jagplase en toeroperateurs, genooi om betrokke te raak.

Die optog sal om 09:00 in Bela-Bela begin en dan noord op die R101 deur Modimolle, Mookgopong, Mokopane en Polokwane beweeg. Meer voertuie sal op elke dorp aansluit. ʼn Soortgelyke tog word vanuit die noorde van die provinsie beoog sodat betrokkenes mekaar in Polokwane by die regeringskantore ontmoet.

Grobler sê die konvooi sal teen ʼn normale spoed ry weens die afstand wat afgelê moet word en om nie ander motoriste te verontrief nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariana ·

Stel als oop. Lughawens plaaslik en internasionaal. Soos hulle sê die virus is nou met ons en ons moet daarmee saamlewe, maar hoe lank gaan die regering nog die covid situasie melk. Ons lewens moet voortgaan, ons het nie almal miljoene in bank wat ons aan die lewe kan hou vir onbepaalde tyd nie en intussen word pryse op als aangepas wat als nog moeiliker maak. Tyd om aan te beweeg.

JohanR ·

Kan enige iemand vir my se wat is die ANC se finale strategie, of soos gese word in Engels….what is the end game? Hulle gee nie om vir die biljoene wat verlore gaan van sigarette. Hulle gee nie om vir die biljoene wat verlore gaan van drank nie. Hulle gee nie om vir die biljoene wat verlore gaan uit die toerisme bedryf nie. Maar hulle kan gaan geld leen? Die toerisme bedryf in 2019 was vir Suid Afrika R145 biljoen werd – R145 000 000 000, en daar was geskat vir 2020 sou dit R148 biljoen werd wees – R148 000 000 000, en toe kom Covid-19. Maar die lyk my die klomp ANC’s is glad nie bekommerd oor die verliese, soe asof hulle weet in ‘n kombuis kas iewers is ‘n koek blik met R250 biljoen – R250 000 000 000. WHAT IS THE ANC END GAME???

johanf ·

Sal nog steeds nie 100% werk nie, wie gaan kuier en ń vleisie braai, sonder om ‘n biertjie geniet, nie ek nie…..

Moedeloos ·

Stel alles oop asb. Ons kan nie vir ewig toegesluit word in ons huise en provinsies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.