Stellenbosch oor Afrikaans: Versoeke vir insluiting ‘nie verbod’

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het gesê hy neem kennis van die beweringe oor taalgebruik op sy kampusse en dat hy direk met die toepaslike partye in verbinding tree.

Die universiteit was die afgelope week opnuut in die spervuur oor bewerings dat studente glo deur studenteleiers verbied word om Afrikaans op die kampus te praat.

Maroela Media het vroeër berig dat verskeie studente die afgelope paar dae by Maties se verwelkomingsweek glo voor stok gekry is wanneer hulle Afrikaans praat, na bewering selfs in informele gesprekke of wanneer almal in die groep Afrikaanssprekend is.

Volgens die universiteit het hy hom met sy taalbeleid van 2021 opnuut verbind tot meertaligheid as ’n manier om inklusiwiteit te bevorder. “Dit geld ook vir die US se studentegemeenskappe waar taal so gebruik word dat waar dit redelikerwys doenlik is, almal ingesluit word en aan besprekings kan deelneem.

“Sedert die meer as 5 000 nuwelinge vroeër vandeesmaand op kampus verwelkom is, heers daar ʼn oorweldigend positiewe gees onder studente. Dit is egter vanselfsprekend dat wanneer ʼn groot groep jongmense vir die eerste keer saamkom en deel van ʼn nuwe entiteit word, ’n gemeenskaplike grondslag om mekaar onderling te verstaan, noodsaaklik is.”

Die studentesamestelling in koshuise en pendelstudentegemeenskappe verander elke jaar, sê die universiteit. “Begeleiding, opleiding oor meertaligheid, leiding oor hoe om meertaligheid binne gemeenskappe toe te pas en sensitisering van studente – en veral studenteleiers – is dus ’n deurlopende proses. In die oorgrote meerderheid gevalle word misverstande weens taalverskille deur openhartige gesprekke tussen studente in ʼn goeie gees opgelos.”

Volgens die universiteit word studente aangemoedig om bekommernisse met huiskomiteelede en/of koshuishoofde en pendelstudentekoördineerders op te neem indien hulle voel dat hulle kommer oor taalgebruik in hierdie omgewings nie behoorlik aandag geniet nie.

“Wanneer ʼn situasie nie spontaan ontlont kan word nie, beskik die universiteit oor verskeie hulpbronne en kanale om seker te maak dat klagtes aangehoor word. Indien daar sprake is van interpersoonlike konflik, intimidasie of afknouery, word dit so gou moontlik op ʼn regverdige, onpartydige en professionele manier beredder.”

Die meertaligheid wat die US nastreef, word allermins sosiaal afgedwing en gebeur in die meeste gevalle op ʼn organiese manier soos studente mekaar beter leer ken en hul taalrepertoire uitbrei, voer die universiteit aan. “Die US se taalbeleid is dan ook toegespits op die bevordering van inklusiwiteit en ʼn waardering vir wedersydse kultuurgoedere. Dit skep geleentheid vir studente van uiteenlopende agtergronde om na mekaar uit te reik en bande te smee oor kultuur- en taalgrense.

“Die vertrekpunt is dat jy in alle ruimtes jou moedertaal mag praat. Dit staan sentraal in die strewe na inklusiewe gemeenskapsvorming. Indien jy egter in jou moedertaal of taal van jou keuse praat en ander deelnemers aan ’n gesprek ook ingesluit wil word terwyl hulle nie die taal wat jy op die spesifieke oomblik gebruik, verstaan nie, mag jy versoek word om die boodskap aan daardie deelnemers oor te dra, hetsy deur vertaling, parafrasering of ’n gemeenskaplike taal.”

Die oordra van inligting aan almal is soveel te meer relevant aan die begin van die jaar met duisende nuwe studente op kampus en die US beskou nie versoeke van studente of studenteleiers om by ’n gesprek ingesluit te word as ’n verbod of ’n opdrag wat betref ’n sekere taal nie. “Kommunikasie as deel van gemeenskapsvorming gaan oor meer as die gebruik van taal – dit gaan ook oor die manier hoe ander ingesluit word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

De Villiers ·

“Ons wil nuweling studente in mekaar se keelgatte afvorseer in die strewe na inklusiewe gemeenskapsvorming” – US

Daisy ·

Ek stem – dit is ‘n langdradige, niksseggende klomp twak

Samuel ·

Leuens, alles leuens. Kultuur moet waardeer word, solank dit net nie die Afrikaanse kultuur is nie.

TRP ·

In Stellenbosch praat 70% van die bevolking afrikaans, hoekom so aanslag op die taal, ‘n taal wat alle rasse in die Kaap praat. Ek weet studente kom van oraloor maar soveel afrikaanse mense kies US juis oor die afrikaans. Ek voel diep teleurgestel met die hele situasie.

Kosie ·

Elke jaar se hulle vir die afrikaans sprekende studente hulle mag nie afrikaans praat nie en elke jaar ontken die liegbekke dit, en die universiteit glo die broers, daai studente het almal selfone en lyk my kan n recording aansit vinniger as wat ek my foon “unlock”, hoekom record julle dit dan nie, dan kan daai kamstige leier wat dit se dit nie ontken nie, of wie lieg nou?

Nici ·

En elke jaar gooi die Afrikaners hul geld into US en ondersteun hulle.

Nici ·

In ‘n meertalige samelewing aanvaar mense met ‘n inklusiewe gesindheid dat mens nie altyd ander gaan verstaan nie en dat almal nie agteroor hoef te buig vir mens nie. As Stellenbosch steeds Afrikaans was was dit inklusief vir die meerderheid mense van die Wes-Kaap maar nou is daar drie Engelse universiteite. Wat kan meer excluding wees teenoor Afrikaners as dit?

Nettie ·

OK, so sit julle geld op die tafel. BEWYS dit. Druk ‘n pamflet en versprei dit na AL die koshuise en organisasies waar dit DUIDELIK uiteengesit word dat studente Afrikaans MAG praat met mekaar op kampus. Toe, bewys dit. Want ELKE jaar gebeur hierdie, en ELKE jaar bak julle mooi broodjies. Die feit dat dit aanhou gebeur, beteken julle gee een ding aan die media deur, en ‘n ander aan die koshuise en organisasies. So BEWYS vir ons dat julle dit deurgee aan almal, dat hulle hul moedertale MAG praat waar en wanneer hulle wil, soos in die grondwet vervat!

Sobymykoolkop ·

Een van die liberale se doele is bloedvermenging dus verbastering

Willem ·

Hoekom stress mense nog oor die US en dit se taalbeleid? Maak soos Afriforum en Solidariteit in Gauteng en bou jul eie afrikaanse universiteit.

Piet ·

Ek hoef nie inklusief te wees in privaat gesprekke nie, hou jou neus uit my besigheid.

Matmiet ·

Die US is die oorspronklike bakermat van Afrikaans, as julle nie daarvan hou nie, bou julle eie universiteit waar julle kan engels praat.

Johan ·

As ‘n engelsprekende student engels sou praat, of ‘n zulu-sprekende student zulu sou praat is dit glad nie ‘n probleem nie. Dis net wanneer afrikaans gepraat word dat dit ‘n probleem is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.