Sterftesyfer in die Oos-Kaap ‘onakkuraat’

(Foto: Itumeleng English/ANA)

Die DA voer aan die Covid-19-sterftesyfer wat daagliks deur die Oos-Kaapse departement van gesondheid bekend gemaak word, is allermins akkuraat. Volgens die provinsiale statistieke het die Nelson Mandelabaai-metro se sterftesyfer sedert einde Junie glo konstant op 136 sterftes stilgestaan.

Volgens Jane Cowley, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die Oos-Kaap, is dié syfer vals. Sy beoog om ʼn brief aan die Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, te rig waarin sy die LUR vra om oop kaarte te speel oor die werklike getal Covid-19-sterftes in die provinsie.

“Die hospitale se lykshuise sukkel daagliks om die aantal lyke weens Covid-19-sterftes te hanteer. Begrafnisondernemings is oorvol en daar is hordes begrafnisse wat daagliks in die distrik plaasvind,” sê Cowley.

Sy sê dit laat die DA wonder waarom die departement nie die werklike syfers bekendmaak nie, terwyl daar onder die publiek vrae is oor waarom daar sedert 30 Junie nog geen nuwe sterftes aangemeld is nie.

Maroela Media het vroeër berig ’n mediese span van die weermag (SANW) is Maandag by ’n hospitaal in die Oos-Kaap ontplooi om broodnodige hulp aan die provinsie se gesondheidsorgwerkers te verleen. Die provinsie sukkel toenemend om die vinnig stygende Covid-19-gevalle te hanteer. Die Oos-Kaap se gesondheidsektor word ook geteister deur wanbestuur en korrupsie, daar is ʼn groot tekort aan gesondheidsorgwerkers en talle personeellede, hoofsaaklik verpleërs, het reeds die virus opgedoen.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het twee weke gelede in die parlement erken dat daar tussen Gauteng en die Oos-Kaap boonop slegs een behoorlike veldhospitaal is.

“Die Oos-Kaapse departement het ná vier maande steeds nie ʼn duidelike en doeltreffende plan om op ʼn gekoördineerde en georganiseerde wyse die virus te beveg nie,” sê Cowley.

Sy sê die DA het ook herhaaldelik gesê dat die departement hand aan hand met die private gesondheidsektor moet werk om behoorlik op die krisis te reageer. “Daar is statistici in die private sektor wat die databasis kon bestuur en akkurate en toeganklike daaglikse statistiek kon opstel om die publiek op die hoogte te hou en sodoende bemagtig te word.”

Cowley sê die DA gaan nie duld dat die publiek verder om die bos gelei word nie. “Ons sal nie toekyk hoe verkeerde statistiek versprei word, terwyl ons mense ly weens Gomba en haar departement se gebrek aan kapasiteit en onvermoë om die Covid-19-pandemie te hanteer nie,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marius ·

Die waarheid is vir hierdie regering ‘n vloekwoord . Dis die waarheid .

Nie Verbaas ·

Statistiek van Oos Kaap verskaf deur 21 hundred and 32 thousand and 22 hundred.

Suzette ·

Ek dink nie enige van die statistieke is betroubaar nie. Op een van die radiostasies in Bloemfontein word tydens nuus oor sterfgevalle nie eens na die Vrystaat verwys nie – so werklik….

Johann ·

Ja wel dis nie asof die aan bewind die dag na die uitbreek van die pandemie skielik eerlik geraak het nie? Glo nie n WOORD of nog minder n getal.of persentasie wat uit hulle lieg bekke kom nie.

Spyker ·

DA, gee ons dan nou die korrekte syfers en hoe het julle dit bekom? Ons raak nou gatvol vir politisie wat onwaarhede verkondig. Wys jou bron!!!

JohanR ·

Die ‘n ANC wonderwerk, soos soe baie van hulle wonderwerke. Niemand is in die Oos-Kaap soe ver in Julie dood nie. Dankie Cyril, dankie NDZ, dankie ou Mkhize. Hoe HET julle dit gedoen! Kan julle daai towerstaffie oor die res van SA en die wereld swaai. Wie het ‘n entstof nodig as daar die ANC is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.