Steun vir VF Plus ‘verdriedubbel’

(Foto: VF Plus/Facebook)

Die stemme is nog nie heeltemal klaar getel nie, maar die VF Plus het reeds rede om te glimlag. Duisende kiesers het vanjaar hul vertroue in dié party gestel en in die munisipaliteite wat reeds verklaar is, het steun vir die VF Plus omtrent verdriedubbel.

Waar die party in 2016 altesame 69 raadslede in plaaslike owerhede landwyd gehad het, het hierdie syfer teen Donderdagoggend op 190 gestaan. In gebiede soos Tshwane, Matlosana (Klerksdorp-gebied) en Kaapstad is die tellery boonop nog nie afgehandel nie en die VF Plus is versigtig optimisties dat die syfer eindelik op meer as 200 te staan kan kom.

Die VF Plus het in 2019 ook gegroei en in 2016 ook sy steun verdubbel, maar destyds was dit van ʼn betreklike klein basis. Vanjaar het die party se steun selfs meer gegroei.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, skryf die sukses aan veral drie kwessies toe: ʼn Sterk fokus op plaaslike, eerder as nasionale kwessies, die party se standvastige beleidsrigting en bestendigheid, asook kiesers se besef dat ʼn stem vir die party inderdaad tel.

Wouter Wessels, die VF Plus se nasionale verkiesingshoof, sê die party is al jare lank besig om hom te herposisioneer, maar sonder om sy beleid te verander. Die fokus op probleme op voetsoolvlak en hoe die party kan help om dit te pak, het ook geslaag.

“Ek dink kiesers het daarby aanklank gevind. Dit help nie jy probeer ʼn nasionale projek dryf op pad na 2024 [wanneer die volgende nasionale verkiesing plaasvind] en dan het jy nie verteenwoordiging in rade nie,” sê Wessels.

Die sukses wat die VF Plus dus in hierdie verkiesing behaal het, gaan as voetspoor op die pad na 2024 dien. “Dit is ʼn langtermynprojek.”

Wessels sê die party het in 2011 nie presteer soos hy wou nie en in 2014 was sy groei steeds nie waar hulle dit wou hê nie. “Maar ons het vir mekaar gesê dít is ʼn marathon en ons moet met min ons kiesers dien. Ons het intussen bewys dat ons met een raadslid in ʼn raad geweldige groot kiesersprobleme kan oplos – beter as baie ander groter partye.”

In een só ʼn geval is die burgemeester van Mangaung, Olly Manamela, verlede jaar in ʼn verrassende wending met ʼn mosie van wantroue wat die VF Plus ingedien het, uit die kussings gelig. Die meerderheid van die raadslede – van uiteenlopende partye – het die VF Plus se mosie gesteun en Manamela het die trekpas gekry.

“Ons het vir die kiesers bewys ons kan baie met min doen: Vertrou ons nou met meer,” sê Wessels.

Al hoe groter uiteenlopende steun

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, trek Maandag sy kruisie in Stilfontein, Noordwes. (Foto: VF Plus)

Boonop werf die party al hoe meer steun uit ʼn uiteenlopende poel mense. Die party het etlike swart wyksraadslidkandidate gehad wat ʼn tuiste by die VF Plus gevind het.

Groenewald sê mense besef toenemend dat dit nie ʼn “eksklusiewe, wit Afrikanerparty” dié is nie, maar ʼn beginselvaste party wat nie skroom om op te staan vir die regte van Afrikaners en ander minderheidsgroepe nie.

Wessels sê dié uitgangspunt – of dit nou die erfenis van die Sotho, die Afrikaner, die Griekwa of die Nama is – is een waarby talle mense, ongeag hul velkleur, aanklank vind.

“Ons was nog nooit ʼn party net vir wit mense nie. Ons moet eenheid in diversiteit hê. Ons moet trots wees op alle verskillende groepe, ons veeltaligheid. Iemand moet daarvoor opstaan.”

Swart VF Plus-kandidate moet soms ʼn opdraande stryd in hul gemeenskappe stry oor hul keuse van party, maar vereenselwig hulle nietemin met die VF Plus se waardes en standvastige beleid, sê Wessels. En ondanks kwaai persoonlike aanvalle, en soms teen groot risiko vir hulself, het dié kandidate deurgedruk en op plekke waar die VF Plus vantevore nie ʼn enkele stem kon kry nie, die situasie vanjaar verander.

“Dit gaan eindelik oor ʼn beter toekoms en gelyke geleenthede en daardie klimaat is werklik besig om gevestig te word.”

Wessels sê waar talle kiesers voorheen boonop ʼn sogenaamde “teen-stem” uitgebring het, dus teen ʼn spesifieke party eerder as spesifiek ter ondersteuning van ʼn ander party, is hierdie ingesteldheid ook aan’t verander.

“Kiesers gaan al hoe meer besef hulle kan ‘vir’ ʼn party stem.”

Deel van ‘groot vyf’

Die VF Plus sê hy het aan kiesers bewys dat die party ‘n noemenswaardige impak kan maak. (Foto: Reint Dykema)

Die amptelike verkiesingsuitslae word na verwagting vandag om 18:00 bekend gemaak, maar gesprekke tussen politieke partye oor wie mekaar in watter munisipaliteite gaan steun, het lankal reeds begin.

Met die ANC en die EFF gaan die VF Plus nie saamwerk nie, sê Groenewald.

Die party het vantevore al saam met die DA gewerk en sal dit weer doen. Groenewald sê elke samewerkingsooreenkoms sal op meriete beoordeel word – en dan ten bate van kiesers.

Sekere kwessies is egter ononderhandelbaar. Dit sluit in swart ekonomiese bemagtiging, die gebruik van enigiets anders as meriete in aanstellings en die mening dat ʼn oudit van mense in staatsdiensposte gedoen moet word.

“Partybelange kan nie op die voorgrond wees nie. Jy moet jou persoonlike belange ondergeskik stel aan die belange van die kiesers en jy moet groot genoeg wees om te kan sê wat in die beste belang van kiesers is.”

Volgens Groenewald betree Suid-Afrika ʼn “era van opposisiepolitiek” ten gunste van Suid-Afrikaanse kiesers.

Hy sê die party se uitslae in die verkiesing is ook ʼn bewys dat die VF Plus steeds deel van die sogenaamde groot vyf politieke partye in Suid-Afrika is.

En anders as met die nasionale en provinsiale verkiesing waar die VF Plus oral deelneem, het die party nie in die plaaslike verkiesing in elke munisipaliteit gestaan nie. Daar is gevolglik nog heelwat ruimte vir groei.

“Ons het nog allesbehalwe ons plafon bereik,” sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

64 Kommentare

Hennie ·

Beste nuus ooit! Baie geluk aan die VF+ met julle mooi vertoning!

Herman L ·

Die VF Plus is die enigste party wat ‘n beleid het en nie daarvan afwyk nie. Dit is ook die enigste party met volhoubare waardes en wat nie almal se vriend probeer wees nie. Mense van alle rasse begin dit raaksien. Die party moet net beter maniere vind om homself te bemark en sy suksesse onder die publiek se aandag te bring. Sterkte!

piet ·

Wat is hul beleid, ons wil veral weet oor die planne vir selfbeskikking? Sover is die enigste verskil met ander partye dat hulle heeltemal gekant is teen enige vorm van ekonomiese regstelling (weet nie of dit heeltemal die waarheid is nie want ek kan ‘n gesprek op RSG onthou waar Groenewald gese het dat hulle nie gekant is teen regstelling nie, dalk het die siening nou verander, vreemd). Dis waar ek ideologies van hulle verskil. Ek dink wel daar moet regstelling wees vir die verlede maar dit moet korrek toegepas word.

Dries ·

Piet stem vir die ANC hulle glo ook aan regstelling ten koste van jou kinders wat verseker nie jou standpunt sal verstaan nie. Of ken hulle jou standpunt

Mamba ·

Piet, hulle beleid het nog nooit verander nie. Ek sal dink dat ñ intelegente mens soos jy dit sou gaan ondersoek het op hulle webwerf. Hulle het Bybelse beginsels soos hulle is gekant teen aborsie, soek die Bybel terug in die skool. Hulle is gekant teen geforseerde regstellende aksie en BBE. Hulle streef na gelykke regte. Alles wat elke Christen self vòr bid.

piet ·

Mamba, ek onthou net Groenewald se gesprek op RSG. Hierdie vraag is pertinent aan hom gestel en hy het gese VF+ is nie gekant teen die beginsel van regstellende aksie nie. Daar’s ‘n verskil tussen enige regstellende aksie in beginsel (ideologies) af te keur en dit in beginsel te ondersteun maar nie tevrede te wees met hoe dit toegepas word nie (wat die meeste partye se probleem is daarmee). As dit so is dat die VF+ ideologies gekant is teen enige vorm van regstelling van die verlede is hulle die enigste party met die siening. Vir my sal so ‘n siening problematies wees want dan ontken die VF+ basies die onregte wat gedurende Apartheid plaasgevind het (so asof niemand deur daai stelsel benadeel is nie). Is VF+ ook gekant teen sekere noodsaaklike mediese aborsies (wat nog altyd toegelaat was)? Dis alles of niks as dit by aborsies kom. Is die VF+ uitsluitlik ‘n Christen party, wat van ‘n Moslem wat vir hulle wil stem?

jou gewete ·

stem dan maar anc da eff en ivp, hulle is ook daarvoor.

Eclectus ·

Die wat in min getrou is, sal in baie getrou wees. Sterkte aan die VF+ want baie galbrakers gaan oor drie jaar sê die VF+ bereik net so min as die ander, maar die groot probleem is nou hoe om dinge reg te maak as daar nie meer geld is nie. Die wat vir dienste betaal kry niks vir hulle geld nie, en die wat plunder en brand om dienste te kry is ook die wat vir niks betaal nie. Voeg daarby die ongekende mag van die onnosel opponente en jou werk is uitgeknip. Een van my lewensfilosofië is egter as dinge verkeerd kan gaan, kan dit maar net sowel reg loop. Mag gesonde verstand en gesonde bestuur seëvier.

Mariana ·

Maar dit is goeie nuus, baie goed. Geluk aan hulle en hul leier. Aanhouer wen en ek glo hulle sal nog meer stemme kry. Wys net mens moet nooit die kleiner partye net uitskakel nie. Laat mens mooi dink aan die volgende verkiesing nê.

Willie ·

Mariana, ek hoop jy praat ook volgende keer van “ons” party.

Aai ·

Jy het my kruisie gekry welgedaan aan almal en jou party vorentoe.

Sarel ·

Nou….begin die werk.sal graag wil sien of daar verbetering
gaan kom….Voorspoed..

Harley Davidson ·

Die VF+ moes net onderhandelinge begin vir ‘n onafhanklike tuisstaat dan vat hy helfte van die DA en action sa se mense die wat moeg gestem is omrede daar geen verandering kom nie.

Pieter ·

Moenie jou asem, ophou nie. Gaan bly in Orania. Dis waar jy sal tuisvoel.

piet ·

Dis my groot probleem met VF+. Bra stil oor hul eintlike doelwit (as dit nog hul doelwit is) van selfbeskikking. Planne en tydsraam noet voorgele word sodat mens kan sien hulle beweeg met die storie. Ek sal baie graag wil sien dat dit gereeld in die parlement geopper word as hulle so sterk hieroor voel.

Johann ·

Ag nee wat Dis ‘n 2% party en sal so bly Die VF het nog nooit ‘n burgermeester pos beklee En sal ook nooit nie In elke munisipaliteit het hulle maar hulle 2 of 3 raadslede wat ‘n salaris trek en eientlik geen verskil kan maak nie

piet ·

Suur druiwe vir wat? VF+ het effe swakker gedoen op nasionale vlak as in 2019. Die DA het byvoorbeeld beter gedoen op nasionale vlak as in 2019. Dis wel ‘n verbetering vir die VF op hul powere poging van 2016 maar dit was te wagte na hul 2019 uitslae. Onthou, VF het steeds slegs maar 2,37% van die nasionale stem.

Frik ·

Lekker jaloers ou Piet!
Die DA en ANC was die grootste verloorders, nie VF Plus nie!
Raak maar gewoond daaraan dat VF Plus gaan aanhou groei en groei………!

piet ·

Frik – DA het nasionaal meer steun gekry as in 2019 (hulle het gegroei sedert 2019). VF+ moet jaloers wees hulle het minder steun gekry (amper dieselfde maar nietemin effens minder) as 2019. Hulle het egter baie beter gedoen as hulle “no show” in 2016 maar dit was verwag na hul 2019 uitslae. Hulle het effens agteruitgeboer sedert 2019 met die nasionale stem.

Cherokee ·

Lekker jaloers Johann. Die EFF het toe swakker gevaar as wat jy gedink het sou gebeur.

Werner ·

Frik dit is ongelukkig die realiteit.Dit is hoekom baie mense nie gestem het nie want dit kan ons ongelukkig nie help nie.

Hanno ·

As jy dink stem kan ons nie help nie, dan let jy duidelik nie op nie. Die ANC het n hengsecloesing gekry, en dit kon nog beter gewees hetvas al die apatiese oposisie kiesers ook gestem het. Kans is goed n DA/VF/ActionSA koalisie kan regeer in Pta sonder die instemming van die ANC or EFF. As ons dit nie maak nie, sê dankie vir elke oposisie kieser wat weg gebly het.

piet ·

Tshwane is ‘n gemors. DA+ActionSA+VF is nog nie 50% nie. Lekker binnegevegte wees in daai koalisieregering, inwoners gaan maar weer ly..

Werner ·

Dit is ongelukkig die realiteit.Dis ook hoekom mense nie meer stem nie want dit is nie die antwoord nie.Ons is net te min maak maar die somme.Afriforum begin darm dink om iets te doen

piet ·

Gemeet aan 2016 ja, Swakker gedoen op nasionale vlak as 2019.

SlinkseKoljander ·

Baie geluk! Ek stem nou al die laaste twee verkiesings vir hulle. As die DA sy beleid weg verander van die ANC kan hulle ook weer moontlik groei, mense is moeg vir lee beloftes. Die DA sal maar moet vlerk sleep by die VF+

piet ·

Ek het ‘n vermoede dat die DA in die meeste gevalle met ActionSA of Good gaan saamwerk. VF gaan in bittermin gevalle nodig wees vir koalisie. Sal nie sin maak om meer as 1 koalisievennoot te he as dit nie nodig is nie. Hoe se die Engelse: “Too many cooks spoil the broth”

piet ·

DA het gegroei op nasionale vlak met meer as 1% in vergeleke met die 2019 verkiesing . VF+ het 0.01% minder gekry as 2019.

Cherokee ·

Ek is nuuskierig oor finale syfers wat bes moontlik om 18:00 beskikbaar sal wees. Die ANC het groot loesings gekry in KZN en ek hoop hulle het Ethekweni afgestaan.

Philip ·

Die ou galbrakers moet ook hulle stuiwer in die armbeurs gooi met die opmerking dat net 2 of 3 persone in n stadsraad sit niks doen en geld verdien. In N/W provinsie doen net een V/F raadslid die werk van n aantal ander partye se loodswaaiers wat in elk geval net n klomp pratende koppe op hulle mees aktiefste is. DR Pieter julle manne pluk nou die vrugte van julle dissipline en toegewydheid en verdien daarom die respek wat julle toekom.

Pieter ·

Die idee is om die ANC uit die groot Metro’s se bestuur te haal. Tshwane het die DA met 2% verloor. Ek gaan gekruisig word vir my volgende stelling, maar as die wat vir die VF gestem het, eerder vir die DA gestem het, dan het hulle alghele beheer gevat. Ek admireer die VF se visie en waarvoor hulle staan. Ongelukkig moet n mens nie nou idealisties dink nie, maar realisties. Om te dink en glo dat n party wat deur die helfte van die minderheid van n land gekies word gaan n verskil maak… dis soos die engelsman sal se “wishful thinking” Die vraag is, wil jy n kans staan om van die ANC ontslae te raak. en sal jy eerder in n provinsie bly soos die Wes-Kaap wat onder ander leierskap as die ANC is?

Lourens CFG ·

Pieter, die laaste 27jr het die “blinde vlieë” blindelings vir dia anc gestem. Gelukkig het van hulle begin sien en dink.
As jy die klein partye op hul eie vat, dan ja, staan hul nie ‘n kans teen die anc nie.
MAAR, ‘n klomp kleintjies kan die grote anc grond toe bring.
Kyk na die wild, kleine wilde honde bring ‘n groot Blouwildebees grond toe.
Kyk in Oos Kaap, ‘n klein “community” het anc by hulle uitgestem.
Dít is idialisties, logies én realisties wat kán gedoen word.
Aanhouer wen.

piet ·

Die VF+ doen niks oor hul missie van selfbeskikking nie. Hoekom nie, wat gaan daar aan?

Hanno ·

Pieter, doen bietjie jou navorsing oor hoe die proporsionele stelsel werk, wat regtig man, dis nie rocket science nie. In Pta het die ANC 34%, en die DA en VF saam 40%. As al die VF kiesers DA gestem het, het die DA nog steeds net 40% en die ANC steeds 34%. Of jy nou DA of VF stem maak geen verskil aan die ANC nie. So waarom moet ek nou DA stem wat teen my belange sal optree as dit vir hulle polities gerieflik is, as ek die DA kan forseer in n koalisie met n party wat my belange dra? Dit gaan nie oor “wen” nie, dit gaan oor invloed. Die dae van bree kerk partye wat almal probeer tevrede stel is verby, dit is n oorblyfsel uit die ou kiesafdeling stelsel. Die norm in die toekoms is klein partye met duidelike identiteitecwat koalisies vorm, of jy nou daarvan hou of nie. Die ANC buffel gaan nie deur een leeu plat getrek word nie, maar deue n trop hiennas. As die DA nie wil verstaan dat dit is hoe die nuwe politiek werk nie, gaan hulle soos die NNP ook fou.

Pieter ·

Hoe bedoel jy, die DA het nogsteeds 40%? Hulle het 32.03 % in Tshwane en die ANC het 34.63%. As die 7.84% wat vir die VF gestem het vir die DA gestem het, sou hulle gewen het. Ek het my navorsing gaan doen. Tot op die nommer. Jou stelling is teenstrydig deur te se dit maak nie n verskil vir wie jy stem nie, en dan se jy die ANC buffel gaan nie deur een leeu plat getrek word nie, en ook dit gaan nie oor “wen” nie. Invloed en hoe n party jou maak voel gaan nie vir jou beter dienslewering gee nie. Die nommers se ook daar sal meer mense vir die DA stem want dis nie net Afrikaanse mense wat vir hulle stem nie, maar ook engelse mense, bruin, swart en Indier. Feite is nie rocket science nie, en dit gee ook nie om oor jou gevoelens en watse invloed dit op jou lewe as individu nie.

piet ·

Ver minder as die helfte van die minderheid. VF+ het nie eers die ondersteuning van meerderheid Afrikaners nie.

Hanno ·

As al die vf kiesers da gestem het, sou dit geen verskil gemaak het aan die uitslag van die anc nie. Die oposisie as geheel is steeds ewe groot. Om die waarheid te sê dis eintlik groter as wat die DA op sy eie sou wees, want al daai kleiner partye trek mense wat nie deur die DA getrek kon word nie. Maar nou forseer ons die DA om in n koalisie te gaan met n party wat ons waardes deel. Daar is regtig geen “down side” om vf te stem nie. Die enigste mense vir wie dit benadeel is die DA self, en daarmee het ek vrede.

piet ·

Koalisie-vennote baklei onder mekaar, dis al duidelik bewys. ‘n Alleen (goeie) regering soos in Kaapstad kan baie meer vermag sonder remskoene.

Sarel ·

Wel …goed gedoen…nou begin groot werk..
Ek glo dat eerstens Opposissiepartye mense bo
Partypolitirk stel en saamwerk. ( waar nodig sal fie ANC & EFF dit beslis doen.
Tweedens vat hande saam met Gemeenskap Orgsisasies om verskil te bring in gemeenskappe.

Heinrich ·

Ek hoor Julius het reeds ‘rassisme’ geskeeu omdat die VF+ en DA nie saam met hulle wil werk nie. Ou Julius se opinie is net so irrelevant soos sy politieke visie. Dis tyd dat die VF+ ook hulle staal wys.

Anoniem ·

Solank as wat VF staan vir konserwatiewe blanke Suid-Afrikaners kan hulle nie verder groei nie

piet ·

Hulle is in ‘n Catch22 posisie siende dat ‘n beduidende groepering in die party erg konserwatief is en nie eintlik met anderskleuriges geassosieer wil word nie. Nou word dit ‘n balanstoertjie vir die party want anderskleuriges EN die erg konserwatiewe elemente moet op ‘n manier gepaai word. Gaan nie maklik wees nie, iewers gaan iets skiet gee. Ek kan sien dat die HNP/AWB groepering dalk kan wegbeweeg as daar ‘n meer konserwatiewe party ontstaan (soos die HNP van ouds). Dit gaan op die spits gedryf word as daar niks van die selfbeskikking gedagte materialiseer nie (lyk nie of selfbeskikking in elk geval meer hoog op die agenda is nie). Ek dink nie die “nuwe” rigting wat die party inslaan, is regtig al getoets nie. Sal moet sien hoe dit in die toekoms gaan uitspeel.

Japie ·

Wel gedaan. Die VF het uiteindelik n leier met visie. Dit is net jammer dat soveel mense wat in hulle harte VF ondersteuners is geval het vir die leuens van die DA wat vertel het dat n stem vir n “klein” party stem n mors van n stem is. Ons weet die DA gee nie vir die belange van die Afrikaner om nie maar wil net hulle stemme he. Die DA is self n “klein party”. Gaan kyk hoe sleg hulle op baie plekke gedoen het. Stem vir waarin jy glo en nie net om n ander party uit n posisie van mag te hou nie. Leer n les en stem vir waarin jy glo en nie wat die leuens van die DA nie

Miskruier ·

Mag God hul besluite seën en verhoed dat hul nie trots word nie, mag hul nederig bly.

annie ·

Ons het nou ‘n Engelse DA en ‘n Afrikaanse DA. Miskien is ‘n Vandermerwe Party nie ‘n slegte plan nie. Daar is tog nou niemand meer oor om te betrek, om om te koop of af te ransel om sy/haar stem in die landjie te wen nie. Dan kan ons gaan stem vir die lekker… en daarna braai, volkspele hou by konsertina-musiek en grappe vertel tot laatnag onder die sterrehemel.

piet ·

Ek dink daar’s steeds meer Afrikaners by die DA as by die VF+ maar ek sal toegee dis “close”.

jou gewete ·

die vf is beslis nie Afrikaanse da nie. gaan kyk maar die twee se beleide.

Ettienne ·

Welgedaan…..? Verdriedubbel? Van 1% na 3% ja…en na selfs 9% steun lyk die plafon maar redelik hoog….

piet ·

Nog bietjie ver van 3% af. Van 0.8% in 2016 tot 2.37% in 2021. Nou effe minder as die 2.38% in 2019. Lyk of die plafon op dieselfde hoogte bly gemeet aan 2019.

Nico ·

Die FVPLUS het gewys wat gedoen kan word, hou net so aan en bly staan op die visie en die missie van die party. Dok. Pieter en jou span het goed gedoen.

piet ·

Hulle het goed gedoen in vergelyking met 2016. Dieselfde persentasie stemme op nasionale vlak as in 2019 egter.

Dries ·

Ons het begin met 4 parlements lede. As hierdie tendens voort gaan in 2024 sal ons 32 + parlements lede he. Dan sal die poppe begin dans. Ander rassr groepe sal dan besef politiek gaan oor eerlike nie-misdadige partye vrs misdadige partye

piet ·

Gaan nie gebeur nie, VF+ het ‘n kleiner persentasie stemme in 2021 as in 2019. Dus geen groei getoon sedert 2019 nie. Dit was redelik maklik om die konserwatiewe Afrikaners van die DA terug te wen, kon geen steun trek buiten dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.