Stewige Aardklop-program bied iets vir elke feesganger

Die Momentum Beleggings Aardklop se program vir 2023 is pas bekendgestel. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz, De Klerk Oelofse, Sandra Prinsloo, Dawid Minnaar, Je-Ani Swiegelaar, Antoinette Kellerman, Jill Levenberg, Geon Nel en Charlie Bouguenon is net ʼn handjievol van die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat vanjaar op die Momentum Beleggings Aardklop se verhoë te sien sal wees.

Aardklop het Woensdagaand amptelik sy feesprogram vir vanjaar se kunstefees in Potchefstroom, Noordwes, bekendgemaak.

Die fees vind vanaf 3 tot 8 Oktober plaas.

“Vanjaar se program is saamgestel om aan elke feesganger en kaartjiekoper iets te bied: Jy kan bloot kom by die feesterrein kom ontspan; of jy kan jouself in die allermooiste musiekteater verloor; vir komedies skaterlag; besin oor waar ons as unieke Suid-Afrikaanse samelewing ons bevind; of tydens ons gesprekke saampraat; of in verwondering voor ’n kunswerk staan,” sê Alexa Strachan, uitvoerende hoof van die fees.

Karen Zoid en Nataniël se musiekproduksies wat spesiaal vir Aardklop geskep is, sal op die planke wees, terwyl Alfred Adriaan (Onfiks en veertig) en Desiré Gardner (Magda Louw) die komedie sal verskaf.

Teaterproduksies soos Die moeder, Mirakel, Hoerkind, Mixtape van die liefde en Droomwerk, wat op ander feeste goed gevaar het, sal saam met debuutwerke soos Goed wat wag om te gebeur, 1 en Die vrou op die dak te sien wees.

Gesels, redeneer en luister saam by The Roots Sonkamer waar vanjaar se aktuele en boekgesprekke aangebied word. Indringende aktuele gesprekke word gelei deur onder andere Beeld-redakteur Barnard Beukman, diskoers word gelei deur Lourensa Eckard van kykNET se In Gesprek, en die gewilde Sake & Sauvignon aangebied deur Theo Vorster.

Boekgesprekke sluit talle uitgewers soos Penguin Random House SA, NB en Protea Boeke in, en gesprekke word met wêreldklasskrywers soos Marita van der Vyver, Leon van Nierop en Madelein Rust gevoer.

Kom besluit saam met Dawie Boonzaaier wie die beste Springbok van die moderne era is wanneer hy gesels oor Rapport: 30 beste bokke. Kuier ook saam by die Boeke-Oase en die Netwerk24-feeskafee.

Die fees sluit Sondag af by die Langtafel, en met die tradisionele koor-en-orkesuitvoering, Calling All Dawns, in die Beeld-ouditorium.

Aardklop se verfynde Hartsvriende-konsep is ook pas bekendgestel. Dit sluit in lidmaatskap in die vorm van ’n jaarlikse skenking van R500 of meer, en is geldig vir ’n tydperk van 12 maande (1 Junie 2023 tot 30 Junie 2024).

Dit is moontlik om dwarsdeur die jaar aan te sluit, met lidmaatskap wat vir die bogenoemde tydperk geldig sal wees.

Die feesterrein is op die oewer van die Mooirivier en bied samesyn, gehalte kos- en kunsvlyt met vermaak vir die hele gesin. Dagkaartjies kos R50 en weekkaartjies kos R150. Kinders onder 12 kry gratis toegang.

Kaartjieverkope open amptelik op Maandag 19 Junie. Aardklop Hartsvriende kry voorkeur en kan reeds op Vrydag 16 Junie kaartjies koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.