Stormers wéér Bulls se rugbymeesters

Die Stormers het die Bulls met 33 – 21 op die DHL-stadion geklop. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers sal volgende week gasheer vir Connacht in die halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap speel nadat hulle sopas weer eens met die Bulls klaargespeel het.

Die Kapenaars het die Noord‑Suid-kwarteindstryd met 33 – 21 beklink en dit het glad nie gelyk of hulle dié een sou verloor nie.

Steven Kitshoff se troepe het as ʼn hegte eenheid saamgespeel en hulle het dinge nag vir die besoekers by die afbreekpunte en die lynstane gemaak.

Deon Fourie en Evan Roos het nie net die spel stadig gemaak wanneer die Bulls uiteindelik ʼn aanval van stapel kon stuur nie, maar hulle het ook met hul balsteelvaardighede uitgeblink.

Manie Libbok vier ’n suksesvolle stelskop. (Foto: Hansie Linde)

Terselfdertyd het die individuele vaardighede van Manie Libbok, Damian Willemse en Dan du Plessis ook vir ʼn Bulls-kopseer gesorg.

En gʼn pakkie Grandpa-poeier of Panado-stroop sou vir dié hoofpyn help nie.

Hacjivah Dayimani het die eerste drie van die wedstryd gedruk, terwyl Leolin Zas ook sy terugkeer tot die span met ʼn gebruiklike drie gevier het.

Teen rustyd het die Stormers reeds ʼn voorsprong van 17 – 7 geniet en hoewel die besoekers beter in die tweede helfte vertoon het, het die tuisspan doodeenvoudig geweier om sy voet van die versnelpedaal te haal.

Libbok se skopkelkievaardighede het die telbord aan die gang gehou, terwyl Angelo Davids ook vir punte gesorg het.

Daarteenoor het die Bulls gesukkel om volgehoue druk op die Stormers toe te pas. Hul voorbereidingswerk het waarskynlik ook ʼn knou gekry toe die talentvolle Canan Moodie hom weens ʼn besering aan die wedstryd moes onttrek.

In die Springbok-vleuel se afwesigheid het Johan Goosen noodgedwonge heelagter toe geskuif met Chris Smith wat in die beginvyftiental ingesluit is.

Natuurlik sal sommige ondersteuners ook mor dat Jaco Peyper en Marius Jonker onnodig fout gesoek het, maar die Pretorianers was lusteloos op die aanval en hulle het met hul hanteerwerk gesukkel.

(Foto: Hansie Linde)

Wat is die verskil tussen Eskom en die Bulls se vertoning in vanaand se wedstryd? Die nasionale kragvoorsiener kan met aansienlik meer fases vorendag kom.

Tog was daar hier en daar ʼn ligpuntjie.

Arendse was oudergewoonte pure Bok en hy het ʼn eenmanoorlog teen die Stormers-verdediging gevoer.

Dan het hulle veral in die eerste helfte – toe die Stormers die balbesit- en gebiedsvoordeelstatistiek oorheers het – soos tiere verdedig.

Embrose Papier het byvoorbeeld vir Joseph Dweba op die Bulls-doellyn omgedop toe die stewige haker op hom afgestorm het.

Maar die Stormers het dit weer eens verdien om te wen. En vanaand word daar fees in Groenpunt gevier.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Hacjivah Dayimani, Leolin Zas en Angelo Davids. Doelskoppe: Manie Libbok (3). Strafskoppe: Libbok (4).

Bulls: Drieë: Cyle Brink, Embrose Papier en Bismarck du Plessis. Doelskoppe: Chris Smith (2) en Johan Goosen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manie ·

Jake White het nou baie te sê oor die Goosen/du Plessis voorval en het gereken dat Dan du Plessis ‘n rooikaart moes gekry het. Ek wonder of hy gesien het dat Dan du Plessis die baldraer was.

duiweboer ·

Jake moet ophou kla. Hy is nie meer op standaard nie. Nie een bul span wen nie en Kyk waar is Tukkies Vandat Hy daar is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.